Ons glo dat u van die bestaan van die PETER HENRICH HENNING FAMILIEBOND bewus is. Dit is 'n Bond uit die HENNINGs vir die HENNINGs. Omdat ons baie trots op ons familiebond se prestasies is en u graag as lid daarvan wil werf, wil ons aan u meedeel wat die familiebond al sedert sy stigting gedurende 1984 vermag het:
Ten spyte van dit wat ons al vermag het, waarin ons lede ten volle gedeel het, het ons nog verskeie doelwitte en ideale, waarvan die belangrikste sekerlik die instandhouding van ons geslagsregister, familiegeskiedenis en familiemuseum is.
Om dit alles te vermag, het ons egter die ondersteuning van alle HENNINGs - U INKLUIS - nodig. Hoe meer lede ons het, hoe makliker is dit om ons verpligtinge na te kom. Die enigste verpligting wat lidmaatskap vir u inhou is dat 'n lidmaatskapfooi betaal moet word. U bepaal self watter bedrag u jaarliks wil bydra. Tans skenk lede jaarliks bedrae van tussen R60.00 en R300.00. Daar is egter lede wat groter bydraes maak, maar daar is ook lede wat kleiner bedrae bydra, weens die feit dat hulle nie meer kan bekostig nie. Ons sou graag wou gesien het dat lidmaatskap gratis moes wees, dog in hierdie duur tye waarin ons lewe, is dit nie moontlik nie. Net die administrasie van die familiebond - briewe, seëls, koeverte, die nuusbrief, rekenaar, drukker, kopieerder, ensovoorts - verg groot bedrae geld.
Ons glo dat afgesien van die direkte voordele wat uself uit lidmaatskap kry, ons HENNING nageslag die grootste voordele uit die familiebond sal put - byvoorbeeld die HENNINGmuseum en die opteken van die HENNINGgeskiedenis.
Hiermee saam vind u 'n aansoekvorm. Moet asseblief nie huiwer om telefonies met my in verbinding te tree indien u enige navraag het nie. Nadat u aangesluit het sal 'n lidmaatskapsertifikaat met die HENNINGwapen in volkleur en ander tersaaklike dokumente aan u gestuur word. Ons wil werklik 'n beroep op u doen om hierdie verdienstelike saak te ondersteun.
Met vriendelike groete
OLIVIER HENNING: BONDSEKRETARIS