HENNING? VAN WAAR?

English | Deutsch

Die naam Henning is inheems tot die Noord Duitse gebiede Mecklenburg, Hannover, Hamberg, Holstein en Pommern. Veral die dorpe Stralsund en Greiffswald, in Mecklenburg, naby die Baltiese See staan bekend as plekke waar die naam ontstaan het. Beide hierdie dorpe was tot en met die Dertigjarige-Oorlog (1618 — 1648) deel van Denemarke. Tussen die jare 1300 en 1500 is die naam HENNING as 'n gewilde bynaam aan Johannes se seun gegee. In die ou Baltiese dialek is 'n hoenderhaan 'n "hen" genoem (hen = manlik, henne = vroulik). Die Baltiese (of Noord Duitse) "ing" is bygevoeg om aan te dui dat dit 'n naam is wat afgelei is van 'n vader of voorsaat se naam. In moderne Afrikaans sou ons hom Haantjie genoem het. Dit was dus 'n vriendelike manier om so 'n persoon aan te spreek.

Die naam het ontstaan onder edelmanne en ridders, soos1:

Gedurende die 13/14e eeue het nasate van hierdie eerste Hennings versprei oor die gebiede wat vandag as Duitsland, Denemarke en Noorweë bekend is. Alle rekords uit hierdie tyd het egter met verloop van tyd verlore gegaan.

Kaart van Duitsland. Die naam Henning het ongeveer in die jaar 1290 te STRALSUND in die Noorde van Duitsland ontstaan.

Die naam Henning het ongeveer in die jaar 1290 te STRALSUND in die noorde van Duitsland ontstaan. In die jaar 1305 kom die naam voor te KOLBERG in die teenswoordige Pole - huidige naam Kolobrzeg en in 1326 in die omgewing van GREIFFSWALD — by DEMMIN.

Tot en met die Dertigjarige-Oorlog (1618 — 1648) was Stralsund en Greiffswald nog deel van Denemarke, maar was Kolberg deel van Pruise. Karnin, wat ongeveer 25 kilometers vanaf Stralsund geleë is, het mettertyd die plaas geword waar hierdie Henning families gewoon het.

Lippstadt is die geboortedorp van Peter Henrich Henning, die stamvader van die meeste Hennings in Suid-Afrika

Gedurende die 17e en 18e eeu het verskeie Hennings begin om elders heen te verhuis — ook na die nuwe wêreld. So vind ons vandag een van die grootste Henning stamme in Suid-Afrika. Henning gesinne word vandag egter in bykans al die beskaafde lande van die Westerse wêreld gevind.

'n Paar Henning nasate het egter in die omgewing van Stralsund en Greiffswald agtergebly. Dit is bekend dat Jacob Henning (die oue), gedurende 1635 te Demmin (naby Greiffswald) gebore is. Jacob Henning en sy nasate het as die Henning familie van Karnin bekend geword. Karnin is ongeveer 25 km vanaf Stralsund. Jacob Henning en sy nasate was groot en welgestelde grondeienaars wat in 'n kasteel gewoon het. Hierdie kasteel is gedurende 1945, tydens die Tweede Wêreldoorlog deur die Kommunistiese regering, wat Oos-Duitsland oorgeneem het, gekonfiskeer. Die familie het hierna oor Wes-Duitsland versprei.

Die Henning kasteel te Karnin

Die Peter Henrich Henning Familiebond van Suid-Afrika is die eienaar van hierdie webblad .

Die Henning families van Suid-Afrika is bykans ten volle gedokumenteer en hul geslagsregisters en geskiedenis kan op hierdie webwerf geraadpleeg word. Die Peter Henrich Henning Familiebond hou 'n museum en dokumentasiesentrum/ argief in stand en versprei elke drie maande (Februarie, Mei, Augustus en November) 'n nuusbrief aan al sy lede. Berigte wat vir die familie van waarde en interessant sal wees, word in die Nuusbrief opgeneem.

Hennings van ander lande word dus genooi om met die Bondsekretaris van die Henning familiebond in Suid-Afrika in verbinding te tree, ten einde hul geskiedenis en geslagsregisters op die webwerf opgeneem te kry.

1 Bahlow H.: "Deutches Namenlexikon". Familien und Vornamen nach Ursprung und Sinn erklärt. München, 1977, p228