Nr 88

November 2006

Indeks:

'n Henning sterf na aanval op sy huis

Adriaan Jacobus/André Henning van The Reeds, Centurion wat gesterf het na 'n aanvakl deur booswigte by sy huis

b5.c1.d5.e3.f1.g1.h4. Adriaan Jacobus (André) Henning *25-10-1958 van The Reeds, Centurion is op 28 September 2006 oorlede nadat hy byna tien weke lank na 'n aanval by sy huis, in 'n hospitaal om sy lewe geveg het.

André is in Julie in die vroeë oggendure saam met sy gesin in hul huis aangeval. 'n Groep swart booswigte het 'n klip deur 'n vensterruit van hul huis gegooi en só in gekom.

André en sy vrou, Daleen het van die slag wakker geword en ondersoek gaan instel. Hul twee seuns, Dewald (16) en Marinus (14) was in hul kamers toe die aanvallers ingekom het.

Hulle het onmiddelik op André en Daleen losgebrand. André is onder die ken geskiet en Daleen is in die bors getref. Dieselfde koeël het haar in die arm getref.

Die booswigte het in Afrikaans vir selfone gevra en het gedreig dat hulle Daleen gaan "vrekskiet".

"Ek het gebid: Here, help! Here help! het sy gesê.

Die booswigte het vermoedelik ook haar gebede gehoor en het kort daarna met R100.00, 'n selfoon en 'n televisiestel gevlug.

"Op die oomblik wat ek begin bid het, was een by Dewald in die kamer. Dewald het (later) gesê dit was asof 'n hand hom in die bed vasgedruk het. Die krag van die Here is sterker as dié van die vyand, het Daleen gesê.

André was nog by sy positiewe toe hy na die Unitas Hospitaal geneem is en het sedertdien om sy lewe geveg. Hy is Donderdag 28 September 2006 in die hospitaal oorlede.

En so word nog 'n blanke gesin van hul eggenoot en vader ontneem . . . en die regering doen niks om misdaad daadwerklik te bekamp nie . . . miskien is dit deel van 'n groter, sinistêre plan.

Nederland se guns, Suid-Afrika se wins

Dit is algemeen bekend dat doop-, huwelik- en sterfregisters die mees algemene bronne is wat gebruik word om die geslagsregisters van families na te vors. Wanneer die navorser egter probeer om so 'n bietjie lyf aan so 'n geslagsregister te gee, deur die familie se doen en late ook te dokumenteer, moet hy heelwat ander bronne ook raadpleeg. In die ou Kaap van Goeie Hoop is dit byvoorbeeld die opgaafrolle (belastingopgawes), die argiewe van die Landmeter-generaal, Landdros-argiewe, die sekretaris van die Raad van Justisie, die Wildshutteboeke, ensovoorts.

Geeneen van hierdie argiewe is egter so geindekseer dat die navorser dt waarna hy/sy soek, maklik kan vind nie. Hy/sy moet eenvoudig by die eerste dokument begin, dit deurlees en hierdie prosedure deurvolg totdat iets van waarde gevind word. Dit is 'n geweldige tydsame proses, wat selfs jare lank kan duur. Die heel oudste dokumente is ook in so 'n swak toestand en dikwels onleesbaar vir die gewone man, dat dit 'n mors van tyd is om daardeur te werk. Dit verg 'n goedopgeleide vertaler en argivaris om hierdie bronne te ontsluit.

Die Nederlandse regering het 'n tyd gelede besluit om op hulle koste die oudste argiefgroepe van die Kaap van Goeie Hoop te transkribeer en op Internet beskikbaar te stel. Dit behels die volgende argiefgroepe:

* die Resolusies van die Politieke Raad van die Kaap die Goeie Hoop (1651-1795), vlagskip van die plaaslike VOC-erfenis, asook

* die eerste 40 bande van die inventarisse van intestate boedels (1673-1834) van die Weeskamer van die Kaap die Goeie Hoop, waarvan die oorblywende 35 bande tans in voorbereiding is.

Die oudste argivale dokumente word so op rakke geberg. Slegs kundiges mag dit hanteer

Danksy die besonderse samewerking tussen Nederland en Suid-Afrika bied hierdie Internet-produkte toegang tot inligting wat andersins vir belangstel-lendes wêreldwyd onbereikbaar, ontoeganklik en geslote sou bly. Dr Helena Liebenberg van die Universiteit van Kaapstad staan aan die hoof van hierdie projek. Ons as Suid-Afrikaners kan dankbaar wees dat so 'n bekwame persoon aangestel is om aan die hoof van hierdie projek te staan. Dit verseker dat die ware en korrekte geskiedenis ontsluit en aan alle belangstellendes beskikbaar is.

Wat die stelsel vir ons as Familiebond so waardevol maak, is dat mens net die naam "Henning" invoer en dan soek die stelsel alle dokumente waarin die naam Henning gevind is. Bondsekretaris, Olivier Henning het reeds deur al die getranskribeerde rekords gewerk. Alles van waarde wat hy gevind het, word in ons Familiekroniek bygewerk. Die artikel net hierna is 'n voorbeeld hiervan.

Belangstellendes kan gerus teen die minste koste en moeite 'n besoek bring aan http://www.tanap.net/content/activities/documents waar die tyd stilstaan terwyl u u al lesend verdiep in die aanvangshoofstukke van Suid-Afrika se geskiedenis, wat tot in die fynste besonderhede aangeteken is.

Henning Stamvader se betrokkenheid in Graaff-Reinet

Met die deurwerk van die getranskribeerde dokumente van die Kaap van Goeie Hoop, kom mens soms af op dokumente waarin die naam Henning voorkom, waar dit nie regtig van waarde is om in die Familiekroniek op te neem nie, maar waar dit tog interessant is.

Die inskrywing hier onder is 'n voorbeeld hiervan. Hier word vermeld dat bepaalde items wat benodig is deur die Kommando wat vanuit Graaff-Reinet opgetrek het teen die rowende Boesmans en Hottentotte, by bepaalde boere gekoop is. So is daar "25 paar voervelle" by Pieter Hendrik Henning gekoop.

Cabo de Goede Hoop den 3 September 1792. d' E Comp: Debet,

Aan Sebastiaan Valentijn van Reenen, over de volgende Goederen, op verzoek van den WelEdelen Achtbaren Heer Gezaghebber dezes Gouvernements van de onderstaande perzoonen gekogt en betaald, om te strekken ten dienste van 't Commando het welk door de Regeering is afgezonden tegens de roovende bosjesmans hottentotten, namentlyk

Aan Evert Heugh, voor een groote Verrekyker Rd:15:-:

d:o d:o d:o d:o d:o klyne waterkeetel d:o 5:04:

d:o PH Henning, voor 25 paar Voervellen 6 /3 t p:r d:o 18:06:

d:o Sneekans, voor een pak- en-een-Rydzadel d:o 36:-:

d:o Bart Schonk, voor 3 pikken 2 rd:s 't Stuk d:o 06:-:

d:o J: Swaneveld, voor een groote Waterkeetel d:o13:04:

d:o Pallas, voor een pond Vitrioel d:o 4:-:

d:o Jan Hartog, Voor een wolle Combaars d:o 10:-:

Van Mij Twee Zakken en Een Ledigen Kelder d:o 4:-:

Te Zamen Rd:s 112:06:-:

En op dezelve reecq: bij examinatie niets te reflecteeren zijnde gevallen, Zo is beslooten dat navolgens het g'arresteerde op den 21 der evenafgewekene Maand Augustus dies bedragen ter Somma van Rd:s 112: 6:- provisioneelijk uit S'Comp: Cassa zal moeten werden voldaan om vervolgens de hier boven zo dikwilsgemelde Colonie Graaff Reinet na g'eindigde expeditie in reekening te werden gebragt.

Hierdie inskrywing kan in die volgende dokument gevind word:C. 207, pp. 26-110.

Sterftes

Erich Endrejat, sy vrou Levien (gebore Henning) en hul twee kinders, Frieder en Eske

Ons het met leedwese verneem van die volgende sterftes van Hennings en aangetroudenes:

* Erich Endrejat *19-5-1938, die eggenote van b1.c3.d7.e9.f1.g1. Levina Endrejat (gebore Henning) *2-6-1935 is op 10 September 2006 oorlede. Erich is gebore in Kusellen, Oos-Pruise en het as 'n jong man na Suid-Afrika emigreer.

* b5.c1.d5.e3.f1.g1.h4. Adriaan Jacobus Henning *25-10-1958 sterf op 28 September 2006 aan wonde wat hy opgedoen het na 'n aanval deur swart booswigte by sy huis gedurende Julie 2006. Foto heelbo.

Vyf geslagte op een foto

b9.c1.d4.e6.f1. Frederika Wilhelmina Alberts (gebore Henning) *30-6-1913 (of tannie Driekie soos ons haar ken) is een van die Erelede van ons Familiebond. Haar dogter, Driekie Geldenhuys het vir ons laat weet dat haar moeder onlangs 93 jaar oud geword het. Sy het so onlangs as 3 Augustus 2006 na 'n tehuis waarin haar tydgenote woon en versorg word, verhuis. Die aanpassing is nog aan die gang. Sy is die oudste inwoner, maar weens haar goeie gesondheid, is sy nog selfstandig. Sy loop wel met die ondersteuning van 'n loopraam of krukke en is baie doof, maar gebruik gehoor-apparaatjies en is verstandelik nog baie wel.

Op tannie Driekie se verjaardag het vier geslagte van haar nasate haar gaan gelukwens met hierdie heuglike dag. Dit is baie min mense beskore om hul kleinkinders se kleinkinders te sien. Tannie Driekie is een van hierdie klein groepie mense wat so bevoorreg is. Haar dogter, Driekie Geldenhuys het vir ons 'n koerantfoto wat tydens hierdie geleentheid geneem is, saamgestuur.

Foto's

Daar is min dinge wat 'n familie se geskiedenis so ophelder en interessant maak as foto's. Neem nou maar die foto hierbo van tannie Driekie Alberts (nooi Henning) met vier geslagte van haar nasate. Dit is nie baie mense beskore om vier geslagte van jou nasate persoonlik te gesien en op een foto vir die nageslag te bewaar nie.

Ons publiseer graag 'n paar foto's wat ons oor die afgelope paar maande ontvang het van b6.c1.d3.e5. Joseph Jooste Henning *15-1-1862 en drie geslagte van sy nasate.
Joseph Jooste Henning *15-1-1862 en sy vrou Gertruida Susanna Dek Klerk *17-4-1865. Hy is in Argentinië oorlede. b6.c1.d3.e5.f3. Pieter Hendrik Henning *20-9-1886, sy seun (g) Joseph Jooste *2-2-1916 en kleinseun (g3.h2) Pieter Hendrik *24-4-1948.

Briewe

'n Briefie van "Lulu Henning" het ons lekker laat lag. Sy skryf as volg:

"Ek skryf net 'n kort briefie aan oom om myself bekend te stel. Ek wil ook graag hoor of daar enige ander opregte, geregistreerde Henning honde is.

My naam is Lulu Henning en ek is gebore op 27 Oktober 2005. My aanneem ouers is Calie en Irene Henning (julle het so 'n nare nommer, b1.c1.d10.e2.f1.g1. aan my mens ouers gegee). Ons woon in Alberton. My pa het sy eie besigheid en my mens-boetie, Jacques en -sussie, Vicky-Lodene is besig om die besigheid oor te neem, sodoende reis ek en my ouers baie.

Ek begin die 12e Augustus vir drie maande klas loop, sodat ek volgens my pa, meer maniere kan hê - hy raak soms baie preuts.

'n Henning wen 'n prys

Die Wes-Kaap, en veral die Boland sal maar altyd bekend staan as "die wynland" van Suid-Afrika en ons ou stamvader, Pieter Hendrik Henning *1-12-1740 het dan ook vir 'n tydlank 'n mooi lappie grond, met die naam Leliefontein, in die Klein Drakenstein (die Paarl van vandag) besit, wat vandag 'n uiters gesogde wyn produserende gebied is.

As hy nou nie hierdie lappie grond staan en verkoop het nie, kon een of ander Henning familie vandag 'n pragtige wynkelder op Leliefontein gehad het.

Wat nie so lekker sou gewees het nie, is dat hul bure FW De Klerk en sy vrou Elita (op die plasie Wildepaardejagt) sou gewees het.

Nadat Pieter Hendrik Henning na Graaff-Reinet getrek het, het hy wel 1 800 druiwestokke op sy plaas Elandskraal aangeplant, wat duidelik daarop dui dat hy toe al die genot van 'n lekker glasie wyn besef het.

Ons lees in die Wynbylae tot die Burger van 29 Augustus 2006 dat mev Caville Henning, (V/v b1.c6.d3.e9.f7.g1. Johannes Stephanus Henning) van Blomtuin, Durbanville 'n kis wyn van die Boschendal kelder gewen het. Ons glo dat hierdie familie teen hierdie tyd reeds hierdie ou kissie wyn klaar geniet het.

Studie Beursfonds

Baie jare gelede het die bestuur van die Familiebond die gedagte uitgespreek om 'n studie beursfonds vir belowende Henning studente tot stand te bring. Daar is besef dat dit die moeilikste doelwit sou wees om te bereik, want die Fonds sal groot genoeg moet wees om minstens een student uit die rente-opbrengs te kan ondersteun. Ons het dus besluit om tog 'n poging aan te wend om hierdie doelwit te toets.

Ons het van tyd tot tyd in die Haantjie melding gemaak van hierdie doelwit en die hoop uitgespreek dat lede die beursfonds sal onthou wanneer hulle hul testament opstel - veral lede wat geen nasate (of erfgename) het nie.

Waar baie van ons lede tans groter bydraes as R100.00 per jaar maak, word hierdie surplus, wat nie vir die normale bedryf van die Familiebond benodig word nie, na die Familiebond se reserwe fondse (wat ook as die begin van die Beursfonds beskou word) oorgeplaas. Oor die afgelope twintig jaar het ons ongeveer R40 000.00 in hierdie rekening opgebou!

Gedurende 2005 het ons aangekondig dat 'n (kinderlose) Duitse Henning egpaar aangebied het om een Henning kind finansieël in sy/haar studies by te staan. Ons het dus ons lede uitgenooi om aansoek te doen vir hierdie hulp. Ons het vyf aansoeke ontvang en het die wysheid van Salomo nodig gehad om 'n aanbeveling aan die Duitse egpaar te doen.

Hulle het uiteindelik op 'n kandidaat besluit en het selfs gedurende Februarie 2006 'n besoek by die betrokke gesin afgelê. Gedurende September het hulle egter onverwags besluit dat hulle nie meer hulle weg oopsien om met hierdie hulp voort te gaan nie.

Dit was 'n groot teleurstelling vir die bestuur van die Familiebond, omdat ons van mening was dat hierdie die begin kon wees van ons "studie beursfonds". Ons was ook teleurgesteld oor die verwagtinge wat by die betrokke gesin gewek en die verleentheid en ongerief wat hul aangedoen is.

Geldsake

Dit is al amper die einde van die jaar en ons moet ongelukkig rapporteer dat daar steeds enkele lede is wat nog nie hul bydrae vir die jaar gelewer het nie. U besluit self watter bedrag u kan en wil bydra. Bydraes kan per landpos aan die Bondsekretaris gestuur word (adres op die eerste bladsy) of kan direk in die Familebond se rekening gedeponeer word. Verseker asseblief net dat u u lidnommer as verwysing op die depositostrokie aanbring, sodat ons weet wie die deposito gedoen het. Die rekeningbesonderhede is as volg: ABSA Bank, Villiersdorp (takno 334-612), Rekeningnaam: Henning Familiebond en rekeningno 2890 610 423

In plaas van een groot bydrae per jaar, kan lede dit ook oorweeg om maandeliks 'n klein bedraggie (van so min as R20.00) per Debietorder by te dra. Dit is van groot waarde vir die Familiebond, terwyl u sak dit omtrent nie voel nie.

Ons versoek egter dat as lede voel dat hulle werklik nie kan bekostig om enige bydrae te maak nie, hulle die Bondsekretaris asseblief dienooreenkomstig verwittig. U bly dan steeds 'n volwaardige lid.

As ons niks van hierdie lede verneem nie, is ons ongelukkig verplig om hul lidmaatskap te beeindig.

Redakteur

Baie dankie aan al ons lede wat oor die afgelope drie maande navraag oor my toestand gedoen het en vir al die goeie wense. Dit is aangenaam om te weet dat daar so baie van ons mense is wat aan my gedink het.

Verskeie spesialiste het gewaarsku dat ek nie te haastig moet wees nie. Dit neem soms jare lank om van 'n Guillain Barré Sindroom te herstel. Daar is geen medikasie wat beskadigde senuwees kan herstel nie. Die senuwee moet vanself herstel. Medikasie wat wel voorgeskryf word, verlig maar net die simptome.

Ek glo dat ek op die pad van herstel is, want onkruid vergaan mos nie so maklik nie. My hele liggaam van my oë af ondertoe bewe nog liggies en ek is baie swak, maar ek probeer om my liggaam en gees so fiks as moontlik te hou en so normaal as moontlik aan te gaan.