Nr 81

Februarie 2005

Indeks:

Vroeë geskiedenis van die Transvaal Hennings

Die geskiedenis en geslagsregisters van alle families is lewende dokumente, wat voortdurend aangepas moet word, soos nuwe gegewens beskikbaar kom. Die genealogiese navorser moet dus voortdurend daarop let dat daar elke dag nuwe babas gebore word, mense doodgaan en mense in die huwelik tree.

Baie dinge het ook met ons oupas en oumas gebeur, wat met verloop van tyd in vergetelheid geraak het. Die toegewyde navorser sou sekerlik al die normale bekende argivale bronne deurgesoek het vir enigiets oor sy familie, maar soms gebeur dit dat gegewens opgeneem is in argivale bronne wat nie op daardie stadium aan die navorser bekend was nie. Met verloop van tyd kom die navorser of een van die familielede per toeval op hierdie argivale bronne af en word nuwe inligting ontsluit.

Die geskiedenis en geslagsregister van die Hennings wat ons die Transvaal Henning's noem, word in Hoofstuk 9 van die Henning Familiekroniek behandel. Dit was bekend dat b9 Jan Hendrik Henning, gebore 2 Junie 1790 en sy familie as Trekboere reeds teen 1838 tot in die Vrystaat getrek het. Hulle het egter van tyd tot tyd teruggetrek Kolonie toe, na hulle plaas Blaauwkrans, nie ver van die teenswoordige Nieu-Bethesda in die Graaff-Reinet distrik. Sy eerste vrou is juis gedurende 1850 oorlede tydens een van die besoeke aan Blaauwkrans. Hoewel Jan Hendrik gedurende 1881 oorlede is op sy seun Pieter Hendrik se plaas in die Boshoff distrik het sy nasate hulle almal in die Transvaal gevestig — van daar die benaming "Transvaal Hennings".

Oor die afgelope tyd het dit aan die lig gekom dat verskeie plase tussen die jare 1838 en 1840 in die Vrystaat en Transvaal aan Jan Hendrik Henning (b9), gebore 2-6-1790 of sy seun Jan Hendrik (b9.c3), gebore 8-1-1816 toegeken is. Op 30 Julie 1838 is die plaas "de Goede Gunst" aan die "Twee Rivieren" in die Transoranje aan 'n Jan Hendrik Henning toegeken. Kort hierna — op 16 November 1839 — word die plaas "Lemoenfontein" aan die Magaliesberg ook aan 'n Jan Hendrik Henning toegeken. Drie ander plase volg kort hierna op dieselfde dag — op 3 Januarie 1840 word die plaas "Valeplaat" in die Agter-Magaliesberg aan die pa toegeken (J H Henning, de oude). "Hennopsrivier" aan die Waterberg en "Twee Rivieren" aan die Selonsrivier word onderskeidelik aan J Henning en Jan Henning toegeken. Dit kan dus Jan Hendrik (die oue) of sy seun Jan Hendrik (b9.c3) gewees het.

Dit is dus duidelik dat hierdie familie reeds baie vroeër in die Transvaal aangekom het as wat ons gedink het. Hulle kan inderwaarheid as Voortrekkers beskou word, aangesien hulle presies dieselfde tyd as die mense van die Groot Trek in die Transvaal aangekom het. Anders as die Voortrekkers van die Groot Trek, wat getrek en gevestig het, het Jan Hendrik (die oue), soos die Trekboere, getrek, vir 'n rukkie gebly, sy wa weer gepak, verder getrek en dikwels weer terug, waar hulle vandaan gekom het.

Mauritz Henning van Theresapark, Pretoria-Noord wat vir baie jare op die bestuur van die Familiebond gedien het en die sameroeper van die 2004 Henning Familiefees was, het onlangs die plaas Elandskraal, wat vanaf 1786 aan die stamvader Pieter Hendrik Henning behoort het, besoek en vir ons geskryf.

Besoek Aan Elandskraal

Mauritz Henning van Theresapark, Pretoria-Noord wat vir baie jare op die bestuur van die Familiebond gedien het en die sameroeper van die 2004 Henning Familiefees was, het onlangs die plaas Elandskraal, wat vanaf 1786 aan die stamvader Pieter Hendrik Henning behoort het, besoek en vir ons geskryf.

Tydens die Henning Familiefees op 2 Oktober 2004 ontmoet ek verskeie Hennings vanoor die hele land. So gebeur dit dat ek Pieter Barend Henning [b10.c6.d3.e2.f2.] beter leer ken. Terwyl hy na my skildery uitstalling kyk, stap ek daar verby en hoor hy sê vir iemand, terwyl hy na 'n skildery van die opstalle op Elandskraal wys, dat hy in die huis waarvoor die drie palmbome staan, grootgeword het.

Die ou plaashuis op Elandskraal, voordat dit deur Japie van Gent gerestoureer is. Hierdie huis dateer uit ongeveer die middel van die negentiende eeu

Ek was stomgeslaan want ek wou nog altyd meer uitvind oor Elandskraal en hier is die aangewese persoon by wie ek inligting sou kan kry. Ek het die plaas al op twee vorige geleenthede besoek en voel my van die eerste keer af nou verbonde daarmee. Net die blote gedagte dat dit die plek is waar ons Henning stamvader hom aan die einde van 1786 kom vestig het en die pragtige plaas in hierdie dorre koue wêreld agter die Sneeuberg tot stand gebring het, het my verbeelding aangegryp. Om daar te kon loop met die wete dat hy ook hier geloop het en te besef dat as hierdie klippe rondom jou sou kon praat hulle jou presies sou kon sê hoe hy, sy vrou en elkeen van sy kinders gelyk het en wat daar alles oor die eeue plaasgevind het.

Ek het dadelik gaan kennis maak en sy besonderhede gekry. Gelukkig bly hy net 'n paar kilometer van my af in Sinoville en sal ek hom maklik kan besoek. Die geleentheid het hom gouer voorgedoen as wat ek verwag het. Toe ons die aand na die fees besig is om die feesterrein op te ruim, kry ons 'n vergete videokamera op 'n tafel. Ek neem dit toe maar huistoe en vroeg die volgende oggend kry ek 'n oproep van Hannatjie, Pieter se vrou, i.v.m. haar verlore videokamera. Toe ek dit aan hulle terugbesorg, wys hy my 'n foto van sy pa [Daniël Stephanus] en oupa [Pieter Barend]. Sy pa was die laaste Henning aan wie die familieplaas behoort het en dit is met heimweë dat hy terugdink aan sy kinderlewe op die plaas en dat sy pa verplig was om die plaas weens die langdurige droogte te verkoop. Hy vertel my van die boerdery op die plaas en van die waterwiel wat 'n koringmeul getrek het waarmee daar koring gemaal is terwyl daar met die afloopwater lusernlande natgelei is. Hy vertel my ook dat al sy voorvaders in 'n grafkelder op die plaas begrawe was. Ek is heel verbaas want tydens my vorige besoek aan Elandskraal het Japie van Gent, wie toe daar geboer het, my verseker dat daar geen grafte is nie.(Opmerking deur Bondsekretaris, Olivier Henning: "Ek kon ook geen grafte op die plaas opspoor nie")

Die volgende week bring hy vir my 'n video-opname wat hulle tydens die familiefees geneem het. Ons gesels baie lekker en tydens die gesprek blyk dit dat hy en Hannatjie beplan om binnekort op 'n uitgebreide toer deur die Oos-Vrystaat en Oos-Kaap vertrek en beplan om ook op Cradock te gaan oorbly en Elandskraal te besoek. Ek besef dat dit my 'n kans bied om saam met iemand wat die geskiedenis van die plek ken daar te gaan rondsnuffel en moontlik die graf van ons stamvader op te spoor. Ek vra hom om my te skakel as hy op Cradock aankom sodat ek saam met hom plaastoe kan gaan. So word dit dan afgespreek en kry ek 'n derde geleentheid om die mooi wêreld agter die Sneeuberge te besoek.

Om seker te maak dat daar iemand op die plaas is wanneer ons daar aankom of om dan net toestemming te vra, besluit ek om Japie van Gent te bel. Ek het nie meer sy nommer nie en vra telefoonnavrae om die nommer van 'n Van Gent in Cradock distrik te soek. Hulle kry dit en ek kom by Japie se pa, Jan Van Gent uit. Hy sê dat die plaas nog aan hom behoort maar dat hy dit uitverhuur aan ene Tokkie De Klerk van Graaff-Reinett. Hy gee my die dorp- en plaastelefoon nommers van Tokkie. Ek bel hom en hy sê ons is welkom. Indien hy die dag van ons besoek nie daar is nie, sal hy die huis se sleutels by die volk los om vir ons oop te sluit om die geriewe te kan gebruik. Ek bedank hom en is dadelik beindruk met die gasvryheid van die Karoo mense. Vir ons as stadsmense is dit amper ondenkbaar om vreemdelinge in jou huis toe te laat as jy nie daar is nie.

Op 28 Oktober, toe ons dink dat Pieter-hulle darem nou naby Cradock behoort te wees, bel ons hulle en vind uit dat hulle nog op Aliwal-Noord is. Ons reël om mekaar op 31 Oktober by Cradock te kry. Ons sal beide by die Spa buite die dorp tuisgaan. Ek beplan om vir twee nagte daar te slaap en dan verder na Somerset-Oos te gaan en vandaar kus toe vir 'n week. Ons vertrek vroeg die oggend van 31 Oktober. Ons ry goed en om 08h30 drink ons koffie op Kroonstad. Om 11h00 eet ons op Bloemfontein en om 15h30 is ons in Cradock. Ons ry eers 'n paar draaie deur die dorp. Daar is baie mooi ou geboue en veral die kerk is imponerend. Ons kry ons huisie by die Spa en merk op dat Pieter-hulle alreeds ingeboek het.

Nadat ons uitgepak en 'n rukkie ontspan het na die dag se lang rit, sluit Pieter-hulle by ons aan. Ons gesels lekker en hulle vertel van die plekke wat hulle besoek het en dat hulle ook by die Henning-uitstalling in die dorpsmuseum op Aliwal-Noord was. Hy vertel ook dat hulle in Cradock by Johan Coetzee, wie nou in 'n huis vir bejaardes bly, gekuier het. Johan is sy neef en die seun van sy pa se suster Lucya Aletta [b10.c3.d3.e1.] Johan het op die gedeelte van Elandskraal [Genoem Bo-Elandskraal], wat hy van sy moeder ge-erf het, geboer. Hy het die plaas egter enkele jare gelede verkoop. Johan het hom vertel dat daar geen grafte meer op Elandskraal is nie. Johan se jongste suster, wie ook daar begrawe was, is jare gelede met toestemming daar opgegrawe en in Cradock herbegrawe. Hy meen dat die latere eienaars van die plaas die grafte wat daar was laat tot niet gaan of vernietig het. Ons spreek af om die volgende oggend saam met Pieter-hulle na Elandskraal te vertrek. Pieter het 'n lekker Kombi wat reg is vir die plaaspaaie en ons sal daarmee ry.

Die murasie van die tweede opstal, met die drie reuse palmbome, wat van ver af gesien kan word.

Na ontbyt die volgende oggend kry Pieter ons en val ons in die pad toegerus met kameras en padkos. Na 4 kilometer op die pad na Middelburg neem ons die R61 teerpad links na Graaff-Reinet. Tydens 'n vorige besoek aan Elandskraal het ek met die R61 gery tot by Spitskopvlei. Hier het 'n grondpad links uitgedraai na die plaas. Daardie pad is nie meer in algemene gebruik nie. Die plase waardeur die pad gaan, het wildplase geword en hekke met slotte aan is in die pad aangebring. Slegs gebruikers van die pad het sleutels vir die hekke.

Dit is 'n mooi oggend en die uitgestrekte vlaktes met die blou blou berge in die agtergrond wat reeks na reeks tot anderkant die horison strek, bly 'n onvergeetlike prentjie. Dit gee my 'n pioeniersgevoel soos wat ons voorouers gehad het wanneer hulle altyd verder en verder die wilde wêreld wou in. Soos Gustav Preller in sy boek Die Voortrekkers van Suidwes-Afrika 'n Dorslandtrekker aanhaal: "Ons had 'n roerende gees in ons hart van trek, Die rede vir hierdie treklus was nie te deursien nie. Ons wonings was stil en goed ... Maar 'n drywende gees van trek was in ons harte, waarvan on self nie kon begryp wat die roerende oorsake was nie".

Pieter vertel, soos ons ry, van die omgewing. Aan ons linkerhand gaan ons by 'n hoë kop verby. Dit is Kanonkop wat so genoem word omdat die Boere tydens die Engelse oorlog kanonne tot bo-op die kop gesleep het om op die Kakies te skiet. Etlike kilometers verder is daar verlate geboue links van die pad. Dit was genoem "Post Chalmers" en was in toeka se tyd 'n polisiestasie wat die omgewing bedien het. Nog verder is daar 'n eensame verlate opstal links van die pad. Hier het 'n ou oom en tannie gewoon wat wreed vermoor is en die plek staan sederdien leeg. Net hierna, en 40 kilometer nadat ons op die Graaff-Reinet pad afgedraai het, draai 'n grondpad links uit na Kwaggashoek. Ons neem hierdie pad. Dit kronkel tussen die rante deur en na 'n rukkie gaan ons oor die Rooihoogte pas. Pieter vertel hoe hulle altyd die bale wol vanaf die plaas af met 'n volgelaaide bokwa oor hierdie pas na Cradock moes neem. Na 17 kilometer op hierdie pad kom ons by 'n bord wat aandui regs na Elandskraal, reguit aan na Petrusdal. Ons draai hier regs en na 'n paar kilometer gaan ons verby 'n plaasopstal links, Boemansrivier, wat tans deur kleurlinge bewoon word. Die volgende plaas is Bo-Elandskraal, waar Johan Coetzee geboer het. Hiervandaan klim die pad steil en na 'n ruk kyk jy terug en af op die opstal en tuine van Bo-Elandskraal wat soos 'n groen oase in die kom van die Visrivier lê. Die Visrivier ontspring hier in die hoek van die Sneeuberge en kronkel by Elandskraal verby voordat dit laer af op sy pad na die see deur ander sytakke en ook deur water vanaf die Gariep, deur die Ovistonnel, tot 'n sterk rivier gevoed word. Ons kom by 'n toe hek in die pad. Pieter wys ons 'n huisie vêr ondertoe na die rivier se kant toe. Hier het Pieter se oom Johannes Jacob [b10.c6.d3.e3.] en later sy seun Bennie [f1] en skoondogter Chrissie Henning gewoon. Hy wil eers afry daarheen maar die pad is baie sleg en skuins en vol klippe en ons besluit daarteen. Ons stoot terug tot by die hek, ek gaan maak oop en ons ry verder met die pad wat hier aansienlik nouer is en nie veel gebruik word nie. Aan die oorkant van die rivier is 'n hoë kop. Pieter sê dit is Boesmanskop. Die grensdraad van Elandskraal loop bo-oor die kop. Hy vertel hoe hy as seun menigmaal vroeg soggens tot bo-op die kop moes gaan skape bymekaar maak.

Van die geboue wat al byna murasies is

Net 'n entjie verderaan is die opstalle van Elandskraal ondertoe sigbaar met die baie bome daaromheen asook die groot grond-dam bokant die opstalle. Die dam word gevoed uit 'n keerwal hoër op in die rivier. Nog 'n ent verder gaan ons verby die huise van die plaasvolk. Een van die vrouens kom na ons aangestap en gee vir ons die sleutels van die plaashuis. Tokkie het haar gesê dat ons daar sal wil ingaan. Ons moet nog 'n hek oopmaak voordat ons die plaaswef binnery. Ek kyk op die mylmeter en sien dat ons presies 70km vanaf Cradock afgelê het. Pieter parkeer die Kombi in die koelte van die reuse stokou peperboom op die werf. In die tyd toe hy as jongeling op die plaas was, is al die plaasimplimente en bokwa onder die boom staangemaak.

Ek gaan sluit die huis oop en ons stap deur die gedeelte wat Japie Van Gent aan die oorspronklike opstal laat aanbou het. Die slaapkamers en badkamer is geweldig groot soos dit 'n plaashuis betaam. Die hoofslaapkamer met sy eie badkamer is net so ruim. Die woonkamer met sy groot kaggel is ook 'n heerlike groot vertrek. Die kombuis het een van toeka se ou Aga-stowe in wat ek glo in die winter pal brand en die vertrek heerlik knus en warm hou. Elandskraal kan glo in die winter vrek koud word en sneeu is 'n gereelde ding. Die ou mense het dus voorsorg teen die koue getref. Ek maak 'n deur oop na die ou en oorspronklike gedeelte van die huis. Dit bestaan uit 'n ingangsportaal en weerskante daarvan twee enorme vertrekke maar almal sonder meubels. Die houtwerk [Deure, kosyne, dakbalke, vloere en plafon] wat alles van geelhout is, is afgeskuur en behandel en vertoon pragtig. Die vertrekke is so groot omdat daar tydens restourasie van die binnemure verwyder is.

In hierdie geboutjie was die koringmeule. Die waterwiel was aan die linkerkant van die gebou en is aangedryf deur 'n leivoor wat onderdeur geloop het

Ons stap deur die tuin na die tweede opstal. Die tuin is erg verwaarloos en droog. Tokkie bly nie pal op die plaas nie en omdat hy net by die boerdery belang het, word daar nie aandag aan die tuin gegee nie. Die huis is ook besig om vinnig te disintegreer. Die een skuifvenster aan die voorkant van die huis is uit en die ander hang skeef in sy raam. Die een vertrek aan die voorkant van die huis se vloere is opgebreek. Ek het later verneem dat konstruksie-werkers tydens die restourasie en aanbouings aan die groot opstal hier gebly het en dat hulle die geelhoutplanke van die vloer een een gesteel het sonder dat Japie dit agtergekom het. Pieter sê dit was eens sy slaapkamer en ek kan net dink wat se heimwee hy moet ervaar om alles so in verwaarlosing te sien vergaan. As dit so aangaan, sal dit nie meer lank wees nie dan sal slegs die drie hemelhoë palms voor die opstal kan getuig dat hier eens op 'n tyd mense gewoon het. Pieter se pa, Daniel Stephanus [b10.c6.d3.e2], het pas na sy troue, om en by 1920, die huis vir sy jong bruid opgerig.

Ons stap verder deur die tuin en rondom die huis. Die ou slaghuisie langs die huis se grasdak het heeltemal ingestort en dit is feitlik 'n murasie. Ons stap agterom die ou opstal terug. Ek gaan haal ons eetgoed uit die kombi en ons gaan maak onsself in die kombuis tuis en les ons dors met koffie en tee.

Hierna gaan wys Pieter ons waar die ou meule op die plaas was waar hulle koring gemaal het. Die gebou is aan die onderkant van die damwal en nie vêr van die ou opstal nie.Dit is 'n stewige gebou waaraan 'n waterwiel was wat deur leiwater in 'n sloot aangedryf was. Die wiel is nie meer daar nie. Ons maak die deur van die gebou oop om te kyk of die ratwerk nog daar is maar dit het ook jare terug al in onbruik geraak en is tot niet. Pieter vertel dat die meule net gebruik was wanneer die lande natgelei is. Hulle het menige nagte in die helder maanskyn die lusernlande natgelei en dan is daar terselfdertyd koring gemaal met die sterk stroom wat die waterwiel langs die meule gedraai het.

Nou moet ons gaan kyk waar die grafkelder was en of ons enige oorblysels daarvan kan opspoor. Pieter weet waar dit was en ons stap oor die pad wat voor die opstalle verbygaan in die rigting van die lande en populierbos. Ons stap al met 'n lyndraad af en loop ons vas teen 'n doringdraadheining wat die kampe verdeel. Dit is moeilik maar Pieter laat nie op hom wag nie en klim met 'n gesukkel tussen die drade en bosse deur. Ons ander gaan kyk of ons nie op 'n ander plek, waar dit maklikker is, kan deurkom nie en beland tussen digte ondeurdringbare bosse en dubbeltjies. Ons hoor Pieter later roep maar kan nie by hom uitkom nie. Hy kom toe met 'n ander pad terug en ons is agterna. Ons loop tussen digte lanings van amandelbome en peerbome deur wat jare terug hier deur sy voorvaders geplant is. Hier was ook 'n laning vyebome wat nie die jare wat verloop het kon oorleef nie. 'n Mens kan jou nie indink as jy hier is dat jy jou in die Karoo bevind nie. 'n Ware oase is hier deur die ou Hennings geskep. Buite die aangeplante bos is enkele doringboompies en ander struikgewas. Pieter neem ons daardeur en wys ons die plek waar hy meen die graftes was. Hier het jare gelede 'n pad afgeloop en die netjies omheinde begraafplaas was daar teenaan op 'n punt waar die vyeboomlaning en ander aangeplante vrugtebome by mekaar aangesluit het. Die lyndraad is hier in 'n driehoek gespan en Pieter meen dit is die grafte moes hier gewees het. Daar is egter net klippe en struike maar geen teken van opgebreekte beton nie. Daar was verskeie grafte in die begraafplaas maar hy kan nie onthou dat daar enige inskripsies op was wat aangedui het wie daar begrawe is nie. Ons bespiegel wie dit kon vernietig het en of dit so vergaan het dat die latere eienaars nie bewus daarvan was dat hier grafte is nie en dalk onwetend lande daaroor gemaak het. Later sou ek by Jan van Gent uitvind dat hy die plaas in 1982 van ene Edgar Bekker-Smit gekoop het wie tans naby Stanger in Natal boer. Pieter se vader het die plaas in 1952 aan Bekker-Smit verkoop. Jan van Gent verseker my dat hy nie weet van enige grafte op die plaas nie. Ek weet nie of mens verder op die saak moet ingaan nie. As die grafte doelbewus vernietig is, is dit grafskending en 'n mens wil tog nie in hofsake betrokke raak nie. Die doel is tog om te bepaal waar die grafte werklik is. Miskien moet mens die heldersiende Maričta van TV- faam nader. Dit sal vir die Hennings en die Familiebond van groot waarde wees om die Henning stamvader se laaste rusplek te identifiseer en vir hom 'n gedenkteken hier op te rig.

Pieter se oupa, sy pa en oom was die laaste Hennings wat op die plaas gewoon en geboer het. Toe sy oupa te oud geword het vir die boerdery het hy na Cradock verhuis waar hy en sy vrou oorlede en begrawe is. So-ook sy oom. Sy pa het, nadat die plaas verkoop is, in Graaff-Reinet gaan woon waar hy oorlede is. Hy is egter ook in Cradock begrawe. Sy tante Lucya Aletta [b10.c6.d3.e1] wat met 'n Coetzee getroud was het op die gedeelte van Elandskraal { Bo-Elandskraal] geboer en haar seun Johan daarna tot dat hy die plaas verkoop het.

Dit is nou op die middaguur en vrek warm. Ons kom blaas blaas by die opstal aan waar ons lekker uitrus, koeldrank geniet en die piekniekmandjie leegmaak. Daar is nie veel meer op die plaas te sien nie en na ons goed uitgerus het, pak ons die terugtog aan en gee die sleutels weer af waar ons dit gekry het.

Die volgende oggend groet ons want ons paaie gaan hiervandaan uitmekaar. Ons gaan eers by Somerset-Oos kuier en dan verder na die kus terwyl hulle nog gaan oorbly en daarna ook 'n draai by Somerset-Oos en Graaff-Reinet gaan maak.

Na afloop van ons kuier in die Oos-Kaap en terug in Pretoria bel ek vir Tokkie de Klerk om hom te bedank vir sy gasvryheid om sy huis aan ons beskikbaar te stel en dat ons op die plaas kon rondloop. Ek vind toe ook by hom uit dat Elandskraal ± 2100 hektaar groot is. Hy sê dat ons enige tyd welkom is om te kom kuier. Ons moet net sorg dat hy daar is wanneer ons kom dan kan ons lekker kuier. Die vriendelikheid van ons plaasmense is wonderlik. Miskien moet ons van sy aanbod gebruik maak!

Afsterwe van Hennings

Oom Bill Henning (93) van Maclear en sy enigste oorlewende suster, Daphné, drie weke voor sy dood op 21 November 2004

Dit is met leedwese wat ons oor die afgelope drie maande verneem het van die afsterwe van die volgende Henning's: b7.c8.d8.e5. Vincent (noemnaam Bill) Henning, gebore 12 September 1911 van Maclear is op 21 November 2004 in die ouderdom van 93 jaar en twee maande oorlede.

Oom Bill is op die bekende Henning familieplaas Damfontein, in die Aliwal-Noord distrik gebore. Om te oorleef was hy en sy ouer broer Leonard tydens die vernietigende droogte van 1933 verplig om weg te trek. Hulle trek na die Maclear distrik, bo in die Drakensberge. Nadat die droogte gebreek is, trek sy broer terug Aliwal-Noord toe, maar Bill bly op sy plaas, Kerkplaas in die Pitsing gedeelte van die Maclear distrik agter. Hy trou en maak al sy kinders hier groot. Gedurende 1972 word die Pitsing by die Transkei ingelyf en Bill en sy gesin word verplig om na 'n ander plaas, Oakleigh, nader aan Maclear te trek. Sy eggenote, Rubina, ontval hom gedurende 1984.

Oom Bill sal altyd onthou word vir sy opgewekte en mooi uitkyk op die lewe en sy pragtige humorsin. Hy was die tweede laaste vyfde geslag Henning wat nog lewe. Slegs sy jongste suster, Daphne, van Durban leef nog. Alle ander lewende Hennings, al is hulle ouer as oom Bill en sy suster, is van die sesde of latere geslagte. b7.c8.d8.e1.f2. Olivier Henning (noemnaam Boet), gebore 2 Desember 1930 van Aliwal-Noord is op 2 Januarie 2005 in die ouderdom van 74 jaar oorlede.

Soos sy oom Bill (hierbo), is Boet ook op Damfontein gebore. Behalwe vir 'n paar jaar na skool, toe hy as vakleerling by die Palmietfontein Lughawe (voor die totstandkoming van Jan Smuts Lughawe) gewerk het en 'n paar jaar elders as ambagsman, het Boet sy hele lewe lank te Aliwal-Noord gewoon. Vanaf sy huwelik in 1958 het hy, sy vrou Letitia en hul vyf kinders op die plaas Oosterlig, drie kilometers buite Aliwal-Noord gewoon.

Olivier Henning van Aliwal-Noord met twee van sy kleinkinders, Letitia *30-11-1988 (D/v Alexander) en Heinrich *11-3-1988 (S/v Stanley)

Boet sal altyd onthou word vir sy opgewekte persoonlikheid en sy betrokkenheid by Henning funksies wat te Aliwal-Noord gehou is, waaronder die eerste Henning Familiefees van 1988 en die totstandbringing van die Henning uitstalling in die Kerkplein museum.

Name met 'n Bybelse Oorsprong

In sy reeks oor name met 'n Bybelse oorsprong wat deur Henning families gebruik word, gee Past Bjarne Fowels-Landmark van Hjelmeland, Noorweë, wat 'n Henning nasaat en lid van die Familiebond is, in hierdie uitgawe aandag aan die naam David/Dawid

DAVID is quite a popular name. David was born ca. 1090 BC in Bethlehem. He was the youngest son if Isai. His life story can be read in 1 Samuel 16 ff and 2 Samuel.

David became a brave young man and very musical. Therefore he came in king Saul's service and became a good pal with Jonathan, the king's son. When David played his harp he calmed the king. King Saul became David's father-in-law. But Saul became jealous and started to hate David. Therefore David fled and lived as a refugee for a long period.

After King Saul and his son Jonathan had been killed at war, David came into power. First he was chosen king of Juda, then in about 1000 BC, and after a long civil war, Israel was united and he was anointed King of Israel. He conquered Jerusalem and made it the country's capital. After having lived 7 ˝ years in Hebron he moved his residence to Jerusalem, where he brought the Ark of the Covenant.

David was a man of contrasts, strongly sensual and piously religious, a firm administrator and weak for his family. He could be sly and cunning or exuberant charming. David's famous fight, when he defeated Goliath can be read in 1 Samuel 17.

David was a clever and respected king. He intended to build God's temple, and collected building materials. But God denied him this, since so much blood had been spilt. It was therefore his successor, Solomon, who built the magnificent temple.

David was dependant on God's help and grace. David was not perfect, he was tempted by the beautiful Bathsheba, whom he saw bathing. On King David's order, her husband, Uriah, was sent to the forefront of the hottest battle and to his certain death.

Then David could marry her. God now sent one of his prophets to David to show the king his greed, sin, murder and dishonesty, in order to make him repent. David confessed and regretted - and was forgiven. But he had to face a lot of hardships and sufferings later. The loss of his (and Maaka's) son, Absalom, was hard to overcome. But all adversity brought David closer to God.

Undoubtedly David was a gifted poet, but he has not written all the 73 psalms attributed him. That is more a result of the later tendency to idealize him. Many of the hymns show us, however, a man who loved God. David's psalms have meant much for God's people through all times. Think of Psalm 23 and 51. Millions of people have been comforted by those words.

King David sat on the throne for 40 years. He died 70 years old in 932 BC, and was buried in "David's City". Thus named because David had his residence there on the southeast hill. David and his son, Solomon, are looked upon as the greatest kings in Israel.

Among the many persons in The Old Testament no one is a more convincing model than David pointing at Jesus, who was of David's family, and born in Bethlehem. Selected and anointed by the Lord, misjudged and persecuted, mocked and treated unjustly, but triumphant in God's hour, all this speaks to us of Him who suffered the same, but without any of the sins and weaknesses in David's character. The Messiah promise is linked to David's family.

King David's tomb is in Jerusalem. Every year the state of Israel has existed as a sovereign state, a silver crown is placed on David's sarcophagus.

Geldsake

Dit is vir ons 'n riem onder die hart om te berig dat verskeie lede oor die afgelope drie maande reeds hul bydrae vir 2005 aangestuur het — baie dankie! Ons laat dit aan elke lid oor om self te besluit hoe groot donasie hy/sy kan bekostig. Dit blyk of die meerderheid lede tans vir ons 'n jaarlikse donasies van R100.00 stuur. Ons wil egter nie lede ontmoedig wat dit nie kan bekostig om donasies van hierdie aard te stuur nie. Enige bydrae, hoe klein ookal, is welkom. Ons maak egter graag spesiale melding van lede wat donasies van R200.00 of meer aanstuur:

Pieter Naudé Henning van Tzaneen, wat 'n Lewenslange Lid is, het vir ons 'n donasie van R1 000.00 gestuur. Jan Andries Henning van Leraatsfontein het R300.00 aangestuur.

Levina (Levien) Endrejat (gebore Henning) van Oos-Rand, Benoni het R200.00 gestuur.

Dit is donasie van hierdie omvang wat die Familiebond se finansies op 'n gesonde voet plaas en ons wil vir hierdie lede baie dankie sê.

Ongelukkig moet ons steeds berig dat daar 'n paar lede is wat nog nie hulle bydraes vir 2004 aangestuur het nie.

Henning Byeenkoms in die Wes-Kaap

Ons het al verskeie kere berig oor Herbert – en Margita Henning van München in Duitsland wat nasate van die Karnin, Stralsund Hennings in Duitsland is, wat elke jaar vir twee maande, vanaf middel Januarie tot middel Maart in Suid-Afrika kom vakansie hou en om gholf te speel (ten spyte van sy 72 jaar en haar middel sestigs).

Bondsekretaris, Olivier Henning het Herbert en Margita tydens hulle besoek gedurende 2004 ontmoet en uitgenooi om tydens hul 2005 vakansie vir 'n tydlank by hom en sy vrou Charlotte tuis te gaan en op die gholfbaan op die landgoed waar hulle woon, te speel. Afgesien daarvan dat Herbert en Margita die uitnodiging aangeneem het, het Herbert die wens uitgespreek om een of ander Henning byeenkoms by te woon.

Ons het dus 'n piekniek gereël vir Saterdag 12 Februarie 2005 by die Theewaterkloof Landgoed, Villiersdorp. Alle Hennings in die Wes-Kaap word uitgenooi om hierdie piekniek by te woon en om vir Herbert en Margita te ontmoet. Dit is ook die ideale geleentheid om ander Henning's in ons omgewing te ontmoet. Skakel asseblief vir Olivier Henning by 028 840 0113 as u gaan bywoon. Die piekniek sal die vorm van 'n bring en braai aanneem en sal teen 11:30 'n aanvang neem. Braaiplekke is beskikbaar, dog dit is noodsaaklik dat 'n toeklapbraaier saamgebring word. Diegene wat sommer voor – of na die tyd 'n potjie gholf wil kom speel, sal vooraf die nodige bespreking moet doen. Onder normale omstandighede sou ons diegene met 'n boot kon uitnooi om ook 'n bietjie op die water te kom speel, maar weens die lae vlak van die Theewaterskloofdam is dit tans moeilik om 'n boot in die water te kry. Die swembad en tennisbaan op die landgoed sal ook tot die piekniekgangers se beskikking wees.

Tannie Lucia Pieterse (nooi Henning)

b6.c4.d1.e5.f6.g4. Susanna Lucia Pieterse (gebore Henning) *27-10-1919 is een van die erelede van ons Familiebond. Sy het 'n tyd gelede vir ons geskryf en 'n paar gedigte van haar oorlede broer Gysbert (g6) saamgestuur. Weens gebrek aan spasie kan ons nie die gedigte publiseer nie, maar lees gerus haar brief:

Beste Bondsekretaris,
Ja, Tannie Lucia is nog in lewende lywe, net baie ouer. Ek verjaar nou 27 Oktober, dan sal ek 85 jaar oud wees. Ek bly nou vir die tweede jaar in die Waterberg Dienssentrum vir bejaardes. Ek bly baie lekker hier. Groot kamer, die son skyn elke môre van son-op af op my venster, tot 10-uur. As ons te oud word om ons self te help, moet ons oue-tehuis toe gaan. Ek voel ook my kragte neem af, ens. Ek skryf net om te sê dat julle my Nuusbrief asseblief na bostaande adres moet stuur. Toe ek hier kom bly het, het ek nie my adres verander nie, want die "Posbus 2362" was ek en my oudste seun s'n saam, toe ek nog agter in die woonstel by hulle gebly het. So het hy my pos gereeld vir my gebring. Maar binnekort trek hy nou Brits se kant toe, naby sy kinders. Die pen wil nou lol, so ek skryf more verder. Ek is baie geseënd, my kinders leef nog almal. Ek het dertien kleinkinders en 6 van hulle is ook alweer getroud en het ook weer kinders. Ek wil nog net sê dis net my oorlede Oupa van der Walt se huis wat nie beskadig was na die Engelse oorlog nie, want die Engelse het self in die huis gebly. My oorlede broer Gysbert was so lief om gediggies te maak. So ek stuur 'n paar saam.
Beste groete
Tannie Lucia