Nr 74

Mei 2003

Indeks:

Familiekroniek op Laserskyf

ALLE HENNINGS MET 'N REKENAAR BEHOORT SO 'N CD TE HÊ

Dit is met vreugde dat ons kan aankondig dat 'n rekenaar laserskyf (CD) met die volledige Henning Familiekroniek nou beskikbaar is. Dit bevat die volledige Familiekroniek, soos uiteengesit in die Derde Oplaag van die boek, plus heelwat addisionele gegewens, asook ongeveer 150 ekstra foto’s — hoofsaaklik van huidige geslagte. Dit bevat ook 'n baie volledige databasis, wat mens in staat stel om bykans enige inligting waarna gesoek word, vinnig op te spoor.

Die laserskyf is baie verbruikervriendelik deurdat dit vanself laai die oomblik wat dit in die CD-aandrywer gesit word. Mens het ook nie 'n spesifieke rekenaarprogram nodig om dit te lees nie. Die aanwysings hoe om deur die gegewens te werk is heel eenvoudig. Selfs rekenaar “ongeletterdes” sal dit geniet om deur die data te blaai en te speel.

Ons kan sonder huiwering sê dat dit 'n professionele, hoë kwaliteit produk is, wat volgens die jongste tegnologie saamgestel is. Die Henning familie is hier weereens op die voorpunt van tegnologie en alle Hennings kan, en sal, trots op hierdie produk wees.

Die prys is R150.00 per laserskyf, plus R5.00 vir posgeld en verpakking. Bestellings kan per brief, E-pos of telefonies geplaas word. Indien dit vir u geriefliker is, kan u die bestellingsbedrag direk in die Familiebond se bankrekening deponeer. Besonderhede is as volg: ABSA Bank Villiersdorp; Tak no 334-612; Rekeningnaam — Henning Familiebond; Rekening no 2890 610 423. Verstrek asseblief u volledige voorletters en van as verwysing, anders weet ons nie wie die deposito gedoen het nie.

Daar is nog 'n hele paar eksemplare van die boek “Die Henning Familiekroniek” beskikbaar. Die prys van die boek is R250.00 plus posgeld (versekerde pos) ten bedrae van R29.00. Dit is 'n A4 grootte boek van 368 bladsye. Dit weeg 1.33 kilogram — 'n lywige, maar pragpublikasie, waarop alle Hennings trots sal wees.

20-jarige Feesvieringe

Op 21 Julie 2004 sal ons Familiebond presies twintig jaar oud wees. Daar is verskeie familiebonde wat ouer as ons is, maar daar is nie veel van hulle (indien enige) wat meer as ons familiebond vermag het nie. Meeste familiebonde spring weg met 'n vaart, maar verloor vinnig stoom en kom dan knarsende tot stilstand en bly net in naam voortbestaan.

Die afgelope twintig jaar het die Henning Familiebond werklik van krag tot krag gegaan. Prestasies is volop. Al ons lede sal kan getuig daarvan. Ons voertuig loop soos 'n ge-oliede masjien en dit is alles aan die toewyding, betrokkenheid en entoesiasme van al ons lede te danke.

Die bestuur van die Familiebond is die mening toegedaan dat ons nie hierdie gebeurtenis moet laat verbygaan nie. Ons het gedurende 1988, na bykans vyf jaar, die eerste landwye fees te Aliwal-Noord gehou. Gedurende 1994 het ons 'n tienjarige fees te Bloemfontein gehou. Ons behoort ons twintigste verjaardag weer met 'n landwye fees te herdenk.

Waar die bestuur van die Familiebond in die Wes-Kaap gesetel is, maar hier nie veel Hennings woon nie, is ons die mening toegedaan dat 'n fees in die Wes-Kaap nie 'n sukses sal wees nie. Verreweg die meerdeheid Hennings woon in die PWV gebied (Pretoria, Johannesburg, Oos- en Wesrand), terwyl daar ook 'n groot kontingent in Bloemfontein en omgewing woon.

Die enigste ge-organiseerde tak van die Familiebond bestaan egter te Bloemfontein.

Waar daar nog nie 'n landwye fees in die ou Transvaal gehou is nie, wil ons graag 'n uitdaging rig aan al ons lede woonagtig in die ou Transvaal, om na vore te kom en hulself vrywillig aan te bied om so 'n fees te reël — of behulpsaam te wees daarmee. Ons dink veral aan lede van die ou bestuur van die Familiebond, wat nog in hierdie streke woon. Volle ondersteuning sal sover as moontlik deur die bestuur gegee word. Die Familiebond sal R5 000.00 begroot om aanvanklike reëlings van die grond af te kry, maar hoop dat ons uiteindelik gelyk sal breek (of selfs 'n winsie maak).

Ons wil dit onder die aandag van die Transvalers bring dat die Bloemfonteiners met gulsige oë kyk of hulle nie dalk hierdie gebeurtenis voor hulle kan wegraap nie.

Vrywilligers word gevra om die Bondsekretaris by die telefoonno op die voorblad te kontak.

 

Ses foto’s wat tydens die 1988 Henning-fees te Aliwal-Noord geneem is. Links wag die Burgemeester van Aliwal-Noord, Gawie Swart en Bondsekretaris, Olivier Henning die optog bestaande uit ‘n perdekommando, koets en ossewa in. In die agtergrond is 'n deel van die feesgangers. Oom Len Henning (80) en 'n Henning seun en dogter klim uit die koets om ‘n oorkonde aan die Burgemeester te oorhandig. Regs beweeg die optog deur die strate van Aliwal-Noord, met twee ruiters met die landsvlag en Henningvlag heel voor. Op foto 3 waai oom Len, Frieder en Eske vir die feesgangers langs die strate. Foto 4 – 'n Henning ossewa met feesgangers in tradisionele Voortrekkerdrag. Foto’s 5 en 6 van vrolike en gelukkige feesgangers.

Die Henning Kasteel te Karnin, Duitsland

Ons het nou al verskeie kere berig oor die Henning kasteel te Karnin, Duitsland. Karnin is geleë naby Stralsund, in die Noord-Ooste van Duitsland, naby die Baltiese see.

Bewyse bestaan dat die naam Henning teen ongeveer die jaar 1290 hier ontstaan het en dat die Henning familie sedert daardie tyd te Karnin gewoon het. Die familie het deur die eeue groot en welvarende grondbaronne geword.

Wilhelm Heinrich Henning *30-3-1884 - laaste 
eienaar van die Karnin Landgoed Die laaste Henning eienaar van die Karnin Landgoed was Wilhelm Heinrich Henning *30-3-1884. Hy sterf egter gedurende 1942 en sy weduwee, Renate (gebore Musculus) en agt minderjarige kinders, waarvan die ouderdomme wissel tussen 15 en twee jaar, bly agter in die kasteel. Gedurende 1945, tydens die Tweede Wêreldoorlog word Renate en haar kinders deur die Kommunistiese magte van Rusland van die landgoed weggedryf en al hul besittings gekonfiskeer. Renate sterf enkele weke later van honger. Lede van hierdie familie en hul nasate woon tans verspreid oor Duitsland en ander lande waarheen hulle met verloop van tyd ge-emigreer het. Hulle beskik oor besonderhede van hul voorsate so ver terug as 1635. Alle kerkrekords voor daardie datum is gedurende die dertigjarige oorlog van 1618 — 1648 vernietig.

Talle nasate het egter deur die eeue van die landgoed te Karnin weggetrek en hul elders gevestig. Die opkoppeling van hierdie Henning families met Karnin word bemoeilik deur die baie oorloë wat oor die jare in Duitsland gewoed het, waartydens rekords verlore gegaan het. Dit geld ook vir die nasate van Peter Henrich Henning (ons stamvader), wat gedurende 1740 te Lippstadt gebore is.

Hans-Juergen Henning *1930 van Langen, Duitsland wat 
as 'n seun op die Karnin Landgoed gewoon het Een van die kinders wat gedurende 1945 vanaf Karnin weggedryf is, was Hans-Juergen Henning *5-1-1930 van Langen in Duitland. Hy het onlangs vir ons 'n brief geskryf en 'n bietjie van hul landgoed vertel. Ons het sy brief uit Duits vertaal.

My eerste kennismaking met genealogie gaan baie jare terug. Die afgelope paar jaar het ek egter heelwat werk ingesit, hoewel ek myself beperk het tot die enkele lyn van my voorsate. Ek het wel my pa se broers en susters en hul nasate bygevoeg. Elke twee jaar hou ons 'n groot familiebyeenkoms, met ongeveer 50 — 60 deelnemers, te Karnin, volgens ons ou tradisie. My navorsing begin by Jacob Henning, gebore 1635. Dit is die oudste kerkregisters wat beskikbaar is. Alle registers wat ouer is, is gedurende die 30-jarige oorlog (1618 – 1648) vernietig.

Dit is moeilik vir my om oor Karnin te gesels, omdat die kasteel deesdae vervalle is en net die oorblyfsels daarvan te koop is. Ons het as kinders, gelukkige en sorgvrye dae te Karnin ervaar. Op 1 Mei 1945 het die Russe Karnin ingeval en die kasteel geplunder. Die binnekant is geheel-en-al vernietig en al ons veëtroppe is na Rusland weggedryf. Waardevolle kunswerke en meubels (wat oor eeue heen versamel is) is na Rusland weggevoer. Daar word beweer dat die twee brons takbokke wat by die ingang van die landgoed gestaan het, deesdae in 'n park in Moskou staan. Gelukkig het my vader op daardie stadium nie meer gelewe nie. In 1946 is ons eiendom deur die DDR (Oos-Duitsland) onteien, sonder kompensasie, en moes ons Karnin binne twee ure verlaat, sonder dat ons toegelaat is om enigiets saam te neem. Alle ander grondeienaars is op dieselfde wyse behandel.

Die Henning kasteel te Karnin, naby Stralsund, in Duitsland. Die twee brons takbokke by die ingang van die Landgoed, staan vandag in ‘n park in Moskou.

Na die Duitse unifikasie (1990) is 'n heroordrag van die eiendom aan hul oorspronklike eienaars afgekeur, weens die verdrag wat met Rusland aangegaan is. Daar is wel aangedui dat finansiële kompensasie mettertyd oorweeg sal word, maar na al die jare het nog niks gebeur nie en ek twyfel of ek nog in lewe sal wees wanneer dit eendag gebeur. Ons eis is egter geregistreer.

Die landgoed het bestaan uit die plaasarea, die park, die kasteel en die huise vir die werkers. Al die werkerhuise het aan ons behoort, maar is gratis aan die werkers beskikbaar gestel.

Die stalle en ander plaasgeboue vir die veë bestaan nie meer nie, omdat die plaas gedurende die DDR-tyd omgeskakel is na graanverbouing. Die werkerhuise is aan hierdie mense verkoop en die plaasgrond omgeskakel na 'n Landbou Produksie Koöperasie.

Weens die kasteel se sentrale ligging, is dit in die begin deur die Russe as 'n Streek Bevelspos gebruik. Later, gedurende die DDR tyd, is die kasteel in woonstelle verdeel. Die leiklipdak is verwyder. Die pragtige en groot park is vervalle weens gebrek aan instandhouding.

Tans word die kasteel, soos talle ander kastele in Duitsland, wêreldwyd te koop aangebied. Slegs die kasteel en 'n klein stukkie grond is te koop. Die res van die grond en damme bly die eiendom van die munisipaliteit. Ek twyfel of enige koper gevind sal word. Die kasteel is as 'n Nasionale Monument geregistreer en sal tot sy oorspronklike glorie herstel moet word. Ons, die werklike eienaars, het nie meer 'n belang of die fondse om dit te doen nie. Ons kinders het almal hul eie lewens en is gevestig in hul onderskeie beroepe.

Al die mense wat destyds vir ons gewerk het is reeds oorlede, gevolglik het ons geen verbintenis meer met Karnin nie. Slegs die grafkelders van ons voorsate, in die naburige dorpie, Flemensdorf, word deur ons familie in stand gehou en dien as nagedagtenis.

Ons kon destyds niks red nie. Alle bankrekeninge en alle juweliersware en waardevolle items is gekonfiskeer. Ons moes die kasteel te voet verlaat, net met die klere aan ons lyf.

Die verlies van kunswerke gedurende die DDR tyd was geweldig groot. Ons waardevolle biblioteek is afgebrand en alle meubels vernietig of weggevoer na Rusland. Ek praat nie veel oor hierdie dinge met my kinders nie, omdat dit aan die een kant baie seermaak, en aan die ander kant nie weer vervang kan word nie.

Die haat teenoor die sogenaamde “Junker” (groot grondeienaars) was destyds ongelooflik. Ons was nooit “Nazi’s” gewees nie, maar slegs “deutchnational” (Duitse Patriote) en gekant teen Hitler. Daarom is dit nie vir my lekker om oor Karnin en my verlore tuiste te praat nie.

Dit was 'n kort relaas van my familie en die Karnin kasteel.Mens moet dit in jou geheue bewaar, maar terselfdertyd vorentoe kyk.

Henning Museum

Die Kerkpleinmuseum, Aliwal-Noord, met sy Henning-uitstalling. Die Henning familie het ‘n noue verbintenis met hierdie geskiedkundige gebou

Sedert daar in 1995 'n ANC beheerde Stadsraad te Aliwal-Noord aan bewind gekom het, het dinge maar baie agteruitgegaan by die Kerkplein Museum, waar die Henning uitstalling gevestig is. Die nuwe stadsraad weier om enige fondse te spandeer op sake soos museums, of die instandhouding van geboue van geskiedkundige waarde — soos die Kerkplein Museum. Daar is byvoorbeeld nie meer 'n voltydse opsigter by die Kerkplein Museum nie. Enigiemand wat hierdie museum wil besoek, moet eers by die Aliwal Museum, elders in die dorp, aandoen om die sleutel vir die Kerkplein Museum te kry.

Die twee persone wat tans die Aliwal Museum beman, mev Madelein Joubert en 'n mnr Howard, doen dit vrywillig en uit liefde vir die saak, en ontvang geen vergoeding vir hul dienste nie. Hulle versorg die Henning – en De Wet uitstallings in die Kerkplein Museum met soveel liefde, asof dit hul eie families se eiendom is. Sonder om sentimenteel te raak, voel ons dit is nodig om te meld dat Madelein Joubert hierdie liefdestaak verrig ten spyte van die feit dat sy kanker het.

Die Henning familie het ‘n baie lang en intieme verbintenis met die Kerkplein Museum gebou. Hierdie kerkgebou is tussen die jare 1857 en 1862 opgerig. b7.c8. Olivier JGC Henning *1834, 'n plaasboer in die distrik, het al die boumateriaal met ossewaens aangery. Hy was ook die eerste voorsinger in hierdie kerk. Dit was in die dae voor daar 'n orrel of ander musiekinstrument was, vir begeleiding. Tientalle Henning babas is oor die jare in hierdie kerkgebou gedoop.

Olivier Henning *1834, sy vrou Cornelia en Corrie Schoombie, een van hul kleindogters. 
Hy het die boumateriaal vir die kerkgebou aangery en was die eerste voorsinger in hierdie gemeente

Weens die feit dat die munisipaliteit volstrek weier om enige fondse aan die instandhouding van die gebou te spandeer, gaan die gebou tans vinnig agteruit. Hulle weier selfs om die stopverf waarmee ruite vasgesit word, te vervang. Inbrekers het ook agtergekom dat dit 'n baie sagte teiken is. Gelukkig is daar tot op hede niks by die Henning uitstalling gesteel nie. Mev Joubert het nou 'n noodversoek tot die Henning – en De Wet Familiebonde gerig om fondse beskikbaar te stel om diefwering voor die vensters aan te bring. Die bydrae wat hulle van ons verwag, beloop ongeveer R1 400.00. Weens die erns van die saak, is hierdie bedrag onmiddelik tot die beskikking van die Museum gestel.

Die Voorsitter van ons Familiebond, Gideon Henning en Bondsekretaris, Olivier Henning sal Aliwal-Noord gedurende Mei 2003 besoek, om die probleem rondom die museum te ondersoek en samesprekings met die dorpsbestuurder te voer. Daar word ook gekyk na moontlikhede om die museum te skuif. So 'n skuif sal sekerlik omvangryke implikasies, kostes en verantwoordelikhede inhou. Enige persoon wat advies in hierdie verband het, word dringend uitgenooi om met Bondsekretaris, Olivier Henning in verbinding te tree. (Kyk ook heel onder)

Bloemfontein Hennings hou Fees

Nasate van die twee Henning broers, b5.c1.d5.e6.f1.g1. Jacobus Cornelius (Koot) Henning *22-1-1917 en Francois Philippus Henning (g2) *16-11-1918 het op 1 en 2 Februarie 2003 by die Kroonpark Vakansie-oord bymekaargekom om saam fees te vier — en was dit 'n groot feestelikheid! Almal het dit terdeë geniet.

Sommige van die mense wat die familiebyeenkoms op 1 en 2 Februarie 2003 bygewoon het, luister na Prof Olof Henning se referaat.

Prof Olof Henning van Bloemfontein het onder andere 'n referaat gelewer oor die geskiedenis van Peter Henrich Henning, ons ou stamvader. Daarna is allerhande interessante staaltjies uit die geskiedenis van bogemelde twee familie met mekaar gedeel en het Kobus Jansen van Rensburg 'n fotosessie gehou.

Daar is lekker saamgekuier, gebraai en ge-eet. Jan Henning van Besselsenstr, Bloemfontein wat die byeenkoms gereël het, sê dat hulle dit nou 'n gereelde instelling gaan maak.

Dr Pieter Hendrik Henning van Bloemfontein in Kollig

Die afgelope paar jaar vind ons al hoe meer dat b6.c1.d3.e5.f3.g9.h1. Pieter Hendrik Henning *29-8-1959 van Bloemfontein in die kollig kom. Dr Pieter, 'n geneesheer, tree al hoe meer na vore as een van die gemeenskapsleiers in Bloemfontein.

Ons het reeds in Nuusbrief 66 van Mei 2001 berig oor die Medi Inn Centre (‘n mediese en sakesentrum) waarvan Dr Pieter Henning die eienaar is, wat in Bloemfontein geopen het. Daarna het ons kennis geneem van die private hospitaal wat vir Mangaung in Bloemfontein beoog word, wat deur Pieter ontwikkel staan te word.

Op die voorblad van die ‘VOLKSBLAD’ van 4 Oktober 2002, is daar berig oor 'n sogenaamde “Dakarberaad” wat in Bloemfontein gehou is. Die koerant berig onder andere as volg:

In 'n geskiedkundige Vrystaatse “Dakar”-vergadering het ANC leiers en wit gemeenskapsleiers as “trotse patriotte” akkoord gegaan om die provinsie in alle sektore en op alle vlakke tot dié “model van samewerking” in die land op te bou.

Die hoëprofiel-vergadering in Bloemfontein is deur mnr Ace Magashule, Vrystaatse ANC- leier, as dié belangrikste simboliese samekoms nog in die provinsie, 'n “sleutelgebeurtenis” en enig sover in die land bestempel.

Pieter Henning is weereens een van die gemeenskapsleiers wat hier na vore getree het, wat sal probeer om 'n sukses te maak van die doelwitte wat hierdie “Bloemfontein Beraad” vir hulself gestel het.

LEIERS PRAAT IN BLOEMFONTEIN. Op die Vrystaat se eie “Dakar”-ontmoeting tussen ANC-leiers en wit gemeenskapsleiers in Bloemfontein was van links, voor mnre Casca Mokitlane, Daan Nortier, Ace Magashule, Oosie Oosthuizen en Frik Jancowitz; Agter: Mnr Godfrey Mosala, me Susan Mnumzana, mnr Pieter Möller, me Martha Choeu, mev Alma Cronje, dr Pieter Henning, me Manane Tiake en dr Michael Border

“Lekgoa” Henning


b5.c4.d4.e1.f7.g1.h2. Francois Henning, akteur en eerste wit kwaito-kunstenaar

Nog 'n Henning jongman wat al hoe meer op die voorgrond tree, is b5.c4.d4.e1.f7.g1.h2. Francois Henning *22-12-1972. Hy is die seun van Jan Louis Henning en sy vrou Hester.

Francois kan deesdae gereeld in die Afrikaanse “sepie” 7-DE LAAN op weeksdae op SABC2 gesien word.

Met die Openingseremonie van die Wêreldbeker Krieket toernooi, wat op 8 Februarie 2003 te Kaapstad gehou is, is Francois spesiaal genooi om as een van die kwaito-sangers op te tree. Hy is die enigste wit kwaito-kunstenaar en het saam met “bekendes” soos Arthur Mafokate en die twee jong kwaito-“sensasies” Mzambiya en Msawa opgetree. Kwaito is straatmusiek, township-musiek en dansmusiek. Dit is skynbaar musiek wat mens gebruik om jou gevoelens oor wat om jou gebeur, uit te druk.

Francois gebruik die verhoognaam “Lekgoa”. Dit is die Sotho woord vir “wit seun”. Hy is Sotho vlot magtig. Hy het pas sy tweede laserskyf (CD), Ingamla Yoba — “die oorspronklike wit seun” — uitgereik.

Afsterwe van Hennings

Dit is met leedwese dat ons moet berig dat een van ons oudste erelede onlangs oorlede is. b5.c1.d3.e1.f15 Johannes Alwyn Henning *22-3-1908 is op 27 Januarie 2003 in die ouderdom van 94 jaar en 10 maande in die Hooglandkliniek te Bethlehem in die Vrystaat oorlede. Hy was 'n lewenslange lid van die Familiebond en het 'n groot belangstelling in die sake van die Bond gehad.

Tot op sy laaste dag het sy verstand besonder helder gebly en kon hy die verlede met merkwaardige duidelikheid onthou. Hy was egter ook ten volle op hoogte met sake van die dag.

Hy was 'n besondere mens met 'n fyn gees en 'n bewonderaar van letterkundige figure soos AG Visser en CJ Langenhoven. Hy het dan ook 'n bundel met gediggies bygehou, wat hyself uit verskeie bronne gehaal en getik het.

Hy was lief om met sy hande te werk en was tot op hoë ouderdom altyd bedrywig in sy werkkamertjie buite die huis. Al sy nasate sal hom baie mis.

Oom Johannes Alwyn Henning *22-3-1908 saam met drie kleinseuns wat na hom vernoem is: ALWYN HENNING Diek se seun - MSc-graad in Geochemie en besig met MBA, tans hoof van eksplorasie vir DE BEERS in sentraal Afrika - woonagtig in Libreville, Gaboen maar meestal in die bosse; ALWYN VAN DER WATT, Annette se seun, 'n boer van Reitz in die Vrystaat en ALWYN SCHOEMAN, Elize (reeds oorlede) se seun - elektroniese ingenieur, spesialiseer in die Inligtingstegnologie - tans in Manilla (Filippynse eilande)

Name met 'n Bybelse Oorsprong

In die vorige Nuusbrief het ons begin met 'n reeks artikels oor name met 'n Bybelse oorsprong wat deur Henning families gebruik word, wat deur Ds Bjarne Fowels-Landmark van Noorweë vir ons geskryf word. Dominee Bjarne wat veertien tale magtig is, lees en verstaan Afrikaans, maar sien nog nie sy weg oop om artikels van hierdie omvang in Afrikaans aan te pak nie. Hoewel hy versoek het dat ons die artikel in Afrikaans moet vertaal, publiseer ons dit in Engels, omdat daar verskeie lede van die Familiebond is, wie se huistaal Engels is.

In die vorige Nuusbrief het hy die naam Andries behandel. In hierdie uitgawe kom Johannes en Johanna aan die beurt. Johannes is die naam wat aan die meeste Henning mans gegee is — 656, terwyl Johanna met 664 'n kortkop agter Maria —690 — is.

The most common man’s name in the Henning family is Johannes. There are registered 656 Johannes Henning. 664 females are bearing the name Johanna, referring to the same biblical person, St. John. They are in good company. About 20 times the Roman Catholic Church have had a Pope John, and 7 Byzantine emperors have been named John. And then we have Johannesburg, founded 1886.

Johannes (John in English) is a Hebrew name, which means: “God has shown mercy”. Several persons have been called Johannes (John) in the Bible.

1. First we might think of John The Baptist, the son of the old priest Zacharias and his wife Elisabeth. The latter was a relative of Mary, Jesus’ mother. Zacharias was related to the priest Abia.

John The Baptist became an ascetic, and is mentioned as “the voice of one crying in the wilderness”. He called out: “Prepare ye the way of the Lord”. He was active from about 28 a.D., baptizing by the lower Jordan. Pointing at Jesus he said: “Behold the Lamb of God”. Jesus came to him to get baptized.

John was arrested and beheaded in the year 30 by Herodes Antipas.

July 24 was in Latin called Festum nativitatis Johannis baptiste, from 400 a.D. celebrated by the day the church as his birthday. This is 6 months before Christmas. The church father Augustine (ca. 400) said the day was appointed to expel an old pagan celebration on that day.

July 24 is Midsummer Night, summer solstice in the northern hemisphere, celebrated with dance around the May pole in Sweden and with bonfire in Norway. Official holiday in Norway until 1771.

August 29th  was John the Baptist’s decapitation day!

2. John the apostle was the son of Zebedee and Salome. There are indications that he came from a rich family, with close connections to the high priest in Jerusalem. John knew the woman porter at the high priest’s palace, and thus could convince her to let Peter in during the court case against Jesus.

John the apostle came from Betsaida. He and his brother James were fishermen in Gallilee, called by Jesus while they sat in their boat reparing their fishing nets. Jesus (humorously?) called them Boanerges = “The sons of thunder”. Probably they were quick-tempered.

&Together with Peter, James, and his brother John, belonged to the inner circle among the disciples. They were present inside the house when Jairus’ daughter was risen from the dead, at the transfiguration on the mount, and in Gethsemane.

Many scolars are of the opinion that the apostle John must be the apostle whom Jesus loved. He was resting his head on the heart of Jesus during the last supper. He stood by the cross of Jesus on Calvary. Jesus said to him: “Behold thy mother”! And afterwards John took Mary, mother of Jesus, into his own house.

On Easter morning Mary Magdalene, who had found the sepulcre empty, ran to Peter and John and told them. John was the fastest to run and reached the sepulcre first. Looking in, he saw the linen clothes lying there. The napkin about the head of the dead body was wrapped together in a place by itself. The knots were tightened as before, but the body had evaporated, as in an explosion in a fraction of a second.

It was John who first recognized the risen Lord at the Sea of Galilee. Undoubtedly he seem to have been one of the leading persons in the first congregation.

Although John, son of Zebedee, is not mentioned in The Gospel according to St. John, he probably has dictated the gospel to a secretary.

When we visited Ephesos in Turkey some years ago, the guide showed us St. John’s grave. It might well be true that he ended his days there.

Freemasonry does not convey a hidden doctrine of theology, based on the incident of the Beloved Disciple should have received instructions which he communicated to the other disciples. But these two Saints John (as well as St. Andrew) are of importance in masonry.

There is also a

3.  John the oldest.

He is probably the author of 1st and 2nd Epistle of John. According to the Bishop of Hieropolis, Papias (60-130), John the oldest also stayed in Efesos. He is not identical with the apostle, but became more than 100 years old. When the Christians gathered on Sundays, the congregation requested him to give a greeting. The old man staggered on his feet, lifted his hands and said: - My beloved. Love each other. Then he sat down. The next Sunday the same happened. His greeting was the same. This happened several weeks, until someone said to him: Have you no other greeting to us? His reply was: - No, there is nothing more important than this: my beloved, love each other.
B. Fowels-Landmark.

Henning Babas

Die redakteur van ons “Haantjie” het onlangs raas gekry by oom Jan Henning van Valhalla, Pretoria. Oom Jan (of Jan Voorsitter soos baie hom ken) was die eerste Voorsitter van die Familiebond. Oom Jan het vroeg in 2002 vir ons laat weet dat sy broerskind, b5.c1.d3.e1.f7.g6.h2. Johann Philip Henning en sy vroutjie, Deidré op 16 Januarie 2002 'n baba ryker geword het — EN ONS HET NIKS DAARVAN IN DIE NUUSBRIEF VERMELD NIE! Dit was 'n seuntjie met die naam “Gio”.

Jammer, oom Jan, Johann Philip en Deidré — dit was 'n “slippie”. Ons Bondsekretaris word ook maar oud en die geheue korter en korter.

Nog 'n Paar ou Foto’s

Ds Bjarne Fowels-Landmark van Hjelmeland, Noorweë het vir ons 'n hele paar geskiedkundige foto’s gestuur van sy voorsate. Weens gebrek aan spasie publiseer ons slegs drie foto’s.

     

Foto 1. Herman Zurich *1858 en sy dogter Adalena (getroud Kramer) *1891 en kinders (name onbekend)

Foto 2. b7.c8.d1. Martha Johanna Elizabeth Zurich (gebore Henning) *1857 en haar dogter Adalena *1891, met haar man Jack Kramer en een van hulle kinders (onbekend)

Foto 3. Lewis Basil Fowels, sy vrou Solveig en kinders, Ingebjørg, Ruth en Bjarne

Finansiële Bydraes deur ons Lede

Dit is aangenaam om te berig dat verskeie lede oor die afgelope drie maande weer mooi bydraes tot die Familiebond gemaak het. Die meerderheid bydraes het gewissel tussen R60.00 en R150.00, met R100.00 die groot gunsteling

Ons wil spesiaal melding maak van Ere - en Lewenslange Lede wat vrywillige bydraes gemaak het. 'n Broer en suster, wat beide Erelede van die Familiebond is, b7.c8.d8.e5. oom Bill Henning (92) van Maclear en sy suster, tannie Daphne Harker (85) van Durban het vir die soveelste keer vrywillige bydraes gemaak. b5.c1.d3.e1.f7.g4. Herman Henning van Rietfontein, Pretoria, wat 'n Lewenslange Lid is, het ook vir die soveelste keer 'n vrywillige bydrae gemaak. Baie dankie julle drie!

Dan het b1.c6.d6.e8.f2.g2. JC Henning van St Helena, Welkom 'n mooi bydrae van R200.00 gemaak.

Ongelukkig is daar nog 30 families, wat lede van die familiebond is, wat nog geen bydrae vir 2003 gemaak het nie.

Henning Museum

Daar het soveel harde werk ingegaan in die oprigting van ons Henning museum, dat ons hard sal moet veg om te verseker dat dit bly voortbestaan.

Die fasade van die Henning uitstalling in die Kerkplein Museum, is ‘n replika van die tweede huis wat in 1850 op die plaas, Damfontein gebou is.

Die drie persone wat grootliks vir die beplanning en oprigting van die uitstalling verantwoordelik was, is oom Len Henning (83-jaar gedurende 1991 tydens die oprigting), Olivier Henning en Mauritz Henning. Hier is hulle en drie arbeiders besig met die oprigting van die fasade. Let op die grasdak