Nr 69

Februarie 2002

Indeks:

Henning/Laage Konneksie

Die enigste Hennings, waarvan ons bewus is, wat met persone met die van Laage getrou het, was 'n broer en suster Henning wat met 'n suster en broer Laage getrou het. Dit was b9.c3.d3.e3.f4. Jan Melchior Henning, gebore 8 September 1892 en sy suster Adriana Catharina Johanna (f5), gebore 1895.

Jan Melchior is op 5 November 1919 te Cullinan getroud met Gertruida Elizabeth Maria Laage. Ons het geweet dat sy op 31 Julie 1899 gebore is te Sybrandskraal, Pretoria en dat sy die dogter was van Johannes Nicolaas Heinrich Laage en Esther Bosman.

Jan Melchior se suster, Adriana is met Getruida se broer Jacob Stephanus Hermanus Laage getroud. Ons het geen verdere besonderhede van Jacob gehad nie.

Die Duitser Johann Nicolaus Heinrich Laage *Marne, Duitsland 5-7-1853 en sy vrou Ester Susanna Bosman *20-1-1863 met hul drie jongste kinders: Gertruida Elizabeth Maria *31-7-1899 (Sy is met Jan Melchior Henning getroud); Maria Christiana Helene *30-10-1900 en Johanna Filipina Magdalena *18-11-1902. Hul drie oudste kinders was almal seuns, insluitende Jacob Stephanus Hermanus wat met Adriana Henning getroud is. Die foto is gedurende 1903 geneem

Onlangs het Mattias Laage van Ulm, Duitsland per e-pos met ons Bondsekretaris gekorrespondeer, nadat hy op die Henning Familiebond se Webwerf afgekom het. Mattias is besig met genealogiese navorsing na die Laage familie en wou graag gegewens uitruil. Hy kon vir ons die name en ander genealogiese gegewens van al Gertruida en Jacob se voorsate verstrek, asook foto's van Gertruida en haar twee jonger sussies, saam met hulle ouers en 'n foto van Jacob en sy broers, saam met hulle pa.

Getruida se ouers was inderwaarheid Johann Nicolaus Heinrich Laage wat op 5 Julie 1853 te Marne, Duitsland gebore is en Esther Susanna Bosman, wat op 20 Januarie 1863 te Heidelberg, Transvaal gebore is. Johann en Esther is gedurende 1880 te Middelburg, Transvaal getroud. Johann Laage moes dus reeds voor 1880 vanaf Duitsland na die Zuid-Afrikaansche Republiek verhuis het.

Nadat ons vir Dr Nico Henning (b9.c3.d3.e3.f4.g2.h2.), die bekende veearts van Lyttelton, wat 'n kleinseun van Jan Melchior – en Gertruida Henning en 'n agterkleinseun van Johann Nicolaus Heinrich Laage en Esther Susanna Bosman is, laat weet het van Mattias Laage, het hy vir ons laat weet dat hy in besit is van 'n dokument wat hierdie oupagrootjie van hom geskryf het. Nico skryf:

Ek besit 'n interressante beskrywing van Oupa-grootjie Laage se jeug tot en met sy troue geskryf deur homself in Hollands-Afrikaans. Dit vertel van sy deelname aan die Napoleonitiese-oorlog in Europa (Pruise) en sy latere dros vanaf die skip Louise in Simonstad, sy ervaringe in sy kleim by Kimberley, sy dae op 'n jagekspedisie in Angola en later weer op kommando toe hulle eers vir Mapoch in Middelburg area moes onderdruk (hier het hy "oude Heer" Jacobus Bosman by die sendingstasie Botshabello ontmoet met wie se dogter hy later sou trou). Laastens vertel hy van sy Duitse kommando wat teen betaling vir die Britte geveg het teen Cetswayo in Noord Natal by Ambolini. Hy vertel ook hoe hy sketse geteken het van die lyk en posisie van die Prins van Oranje wat deur die Zoeloes doodgesteek was en hoe hy dit later aan die Prinses Eugenie se moeder wat die toneel later besoek het, oorhandig het. Hy was geleerd en 'n wêreldreisiger voor hy homself hier gevestig het as 'n slagter en skoolmeester in diens van Oom Paul se ZAR.”

Nasate van Jan Melchior Henning en sy vrou Gertruida, kan gerus Mattias Laage se webwerf by die volgende adres op Internet besoek vir meer volledige gegewens:  http://www.laage.de/gen/prot/01/2183/index-e.htm

Die Gebruikersnaam wat ingevoer moet word, is “laage” en die wagwoord (password) “baum”.

Ledegelde

Baie dankie aan al ons lede wat reeds hul ledegelde vir 2002 aangestuur het. In besonder diegene wat groter bydraes aangestuur het as die R40.00 wat ons versoek. Die meerderheid lede het bedrae van R60.00 tot R100.00 aangestuur, met die topbydrae deur Jan en Elsie Henning van Hartbeesfontein, wat R340.00 aangestuur het.

Hierdie groter bydraes verseker dat die Familiebond staande bly, want soos kostes tans styg, is R40.00 per gesin nie naastenby genoeg om ons uitgawes te dek nie. As voorbeeld moet ons noem dat die prys van die rekenaar-inkkassette wat ons gebruik om die Nuusbrief te druk, oor die afgelope jaar bykans verdubbel het, weens die daling in die waarde van die Rand teenoor die Amerikaanse Dollar. Afgesien van posgeld en koeverte (± R300.00), kos dit ons nou reeds ongeveer R800.00 per Nuusbrief vir die drukkoste.

Ons wil graag 'n beroep doen op daardie lede wat nog nie hulle bydraes aangestuur het nie, om tog maar so spoedig moontlik te reageer. Diegene wat hul bydrae direk in ons bankrekening wil deponeer, moet net onthou om hul ledenommers te verstrek, anders weet ons nie van wie af die bydrae kom nie. Die Familiebond bankbesonderhede is as volg: Rekeningnaam – Henning Familiebond ; Bank – ABSA Villiersdorp; Takno. – 334-612; Rekeningno. 2890 610 423

Pieter Hendrik Henning *26-10-1908

Dit is lekker as van ons jonger Hennings in familiesake en die Familiebond belangstel en met ons in verbinding tree. Sonja Havemann (gebore Henning, b9.c1.d2.e5.f3.g4.h3.) wat op 9 Desember 2000 in die huwelik getree het, het die volgende vir ons laat weet:

My oupa PIETER HENDRIK HENNING (b9.c1.d2.e5.f3) gebore 26-10-1908 is gedurende hierdie jaar, 30-06-2001 oorlede na 'n geseënde lewe van 92 jaar en 8 maande. Ek was baie geseend dat hy my troudag met my kon deel verlede jaar. Hy het verseker 'n goue stoel in die Hemel gekry. Hy het die Here met 'n passie gedien en dit was vir ons heerlik om met hom te gesels oor die Bybel en oor die Here. Hy het die Bybel feitlik uit sy kop uit geken (amper soos Dr. Willie Marais) en verse aangehaal uit die Bybel terwyl hy met jou praat. Hy kon ook ure lank met ons gesels oor die politiek en oor die oorlogstye. Hy is in Meyerton oorlede aan hartversaking. (aangeheg 'n foto van hom op my troudag asook 'n foto van hom en sy oorlede vrou Helena Dorethea Strachan op hulle troudag)

Sonja het ook vir ons foto's van haar pa en ma, op hul troudag en haar eie troudag gestuur, asook volledige gegewens oor haar broer Kobus, wat op 20 November 1993 getroud is met Janine Lion-Cachet en haar suster Marinda.
 

 



Die Inhoek, Memel Hennings

Jan Henning van Valhalla, Pretoria, wat die eerste Voorsitter van die Familiebond was, het 'n tyd gelede vir ons 'n paar foto's gestuur. Hulle was oorspronklik ses kinders, maar twee is reeds oorlede. Soos maar met meeste families die geval is waar familielede ver van mekaar af woon, en soos mens ouer word, kom Jan en sy broers ook nie dikwels bymekaar nie. Wanneer so 'n geleentheid dus opduik, moet mens seker maak dat die geleentheid op 'n foto vasgelê word.

Die vier oorlewende Henning broers wat op die plaas  Inhoek, in die Memel distrik gebore is: b5.c1.d3.e1.f7.g1. Jan Andries *1-4-1929,  Daniël Joachim Jacobus (g3) *20-5-1931, Abraham Johannes (g2) *1-5-1930 en Hermanus Francois (g4) *30-12-1932. Hul jonger suster, Dina Maria (g5) en broer Jozef Johannes Philippus (g6) is reeds oorlede. In Nuusbrief no 67/Augustus 2001 het ons 'n foto gepubliseer van hul oupa Jan Andries en sy broers, wat saam met hom in die Ceylon Krygsgevangenekamp aangehou is

 

Jan en Elsie het ook onlangs vir die eerste keer oupa- en oumagrootjie geword ... en is hierdie twee Hennings nie trots op hierdie status nie!!


2001 Matrikulante en Graduandi

Sedert die stigting van die Familiebond in 1984 het ons probeer om die matriek uitslae van Henning jongmense in die daaropvolgende Februarie Nuusbrief te publiseer. Ons sou graag 'n vergelyking tussen die verskillende jare se matrieks wou tref wat betref verspreiding per provinsie, prestasies of ook probeer bepaal of daar 'n groei of afname in die getalle is.

Weens die feit dat ons nie elke jaar die uitslae van al die provinsies kon bekom nie, is dit ongelukkig nie moontlik om so 'n vergelyking te tref nie. Ons kon wel aflei dat die oorgrootte meerderheid Hennings steeds in die PWV gebied — deesdae Gauteng genoem — woon en dat daar jaarliks landwyd tussen 40 en 60 Hennings matriek skryf.

Aan die einde van 2001 het 21 Hennings matriek in Gauteng geskryf. Dit is heelwat minder as in enige van die voorafgaande 17 jaar. In die algemeen het persone wat gedurende 1982 en 1983 gebore is, aan die einde van 2001 matriek geskryf. Die beste presteerder was 'n Pieter Hendrik Henning, wat vyf onderskeidings behaal het.

Die enigste Pieter Hendrik Henning wat in 1983 gebore is, waarvan ons weet, is a1.b1.c6.d3.e7.f1.g1.h1.i1. gebore 21 September 1983, seun van Pieter Hendrik Henning *15-3-1953 en sy vrou Hester Sophia (gebore Viljoen). In hierdie familie loop die naam Pieter Hendrik baie sterk. As mens die genealogiese nommer a1.b1.c6.d3.e7.f1.g1.h1.i1. nagaan vind mens dat slegs b1 — Johannes Gerhardus en c6 — Johannes Stephanus, nie hierdie naam gehad het nie. Al die ander was Pieter Hendrik.

In die Wes-Kaap het daar ook slegs een Henning dogter matriek geskryf, teenoor 'n gemiddeld van 4 – 6 per jaar in die verlede. Dit was Alma Mathilde Henning, gebore 18 November 1983. Sy het drie onderskeidings behaal en is die dogter van b7.c7.d10.e4.f2. Dr Philippus Arnold Henning, 'n Pediater van Stellenberg, Durbanville en sy vrou Anna Johanna Maria (gebore Jooste).

Ons het probeer om die uitslae van die ander provinsies te bekom, maar was onsuksesvol. Ons wil graag 'n beroep op al ons lede in die Noordelike provinsies doen om elke jaar, wanneer enige matriek- of universiteitsuitslae onder hul aandag kom, dit vir ons deur te gee.

Aan die Universiteit van Stellenbosch het vier Henning jongmense grade verwerf. Weens te min besonderhede, kon ons slegs twee positief identifiseer, naamlik b10.c6.d3.e3.f2.g3. Eugene Henning wat die LLB graad verwerf het. Eugene was die afgelope jaar Onder-Voorsitter van die Studenteraad van die Universiteit van Stellenbosch. Hy is die seun van Eugene Johannes Henning en sy vrou Ellie Sophia (gebore Erasmus) van Noorsekloof, Jeffreysbaai.

Ons kon ook b1.c6.d3.e9.f4.g2.h2. Carlisle Henning identifiseer, wat die Honneurs B Com graad verwerf het. Hy is die seun van Johannes Stephanus Henning en sy vrou Kathryn Edith (gebore Hansen).

Ons kon die volgende persone nie identifiseer nie, weens te min besonderhede:
Pieter Hendrik Henning — B Ing, Elektries- en Elektroniese Ingenieurswese
Mignonne Henning — LLB

Aan die Kaapse Technicon het Elmi Henning, dogter van b5.c5.d8.e2.f1.g2. Gert Frans Henning en sy vrou Anna Petra (gebore Bresler) die Nasionale Diploma in Argitektuur Tegnologie verwerf.

Johanna Christina Henning *3-4-1840

Daar is geen ander familie in Suid-Afrika wat soveel met die Henning familie ondertrou het as die Venter familie nie — veral die nasate van b6. Willem Frederik Henning (die sogenaamde Burgersdorp Hennings) en die Noord-Oos Kaap (Burgersdorp) Venters voel skynbaar maklik aangetrokke tot mekaar en het 'n lang en intieme verbintenis.

Blaai maar deur die Henning Familiekroniek om dit te ervaar. 65 Hennings is op rekord dat hulle met Venters getrou het (dit is slegs diegene waarvan ons weet). Alle aanduidings bestaan dat daar vele ander is wat ons nog nie op rekord het nie. Van hierdie 65 is/was 35 lede van die Willem Frederik tak terwyl die res — 30 — tussen die ander vyf Henning takke verdeel is.

Ons het onlangs van die boekie “Die Venter Familie” (1957) deur Douw Gerbrand Venter te hore gekom. In hierdie boekie word onder andere vertel van Douw Gerbrand Venter, gebore 29 Junie 1845 en sy vrou Johanna Christina Henning en hul kinders. In die Henning Familiekroniek word slegs genealogiese gegewens (redelik volledig) ten opsigte van Johanna Christina verstrek. Hierdie familie word egter lewendig in die vertellinge in die Venter boekie.

b6.c3.d7. Johanna Christina Henning word op 3 April 1840 gebore op die plaas Kalkoenkrans, tussen Burgersdorp en Steynsburg. Sy was die dogter van Johannes Christiaan Henning en Anna Maria Venter. Sy trou op 14 Junie 1858 met Stephanus Lodewicus Venter. Hulle het een dogtertjie, Stefina Lodewika, gehad voordat Stephanus oorlede is. Sy trou hierna op 14 April 1862 met Douw Gerbrand Venter. Hy was vyf jaar jonger as sy. Ten spyte hiervan en die feit dat sy reeds 'n dogtertjie gehad het, is hulle binne gemeenskap van goedere getroud.

Johanna Christina is nie net twee keer met Venters getroud nie. Haar ma was ook 'n nooi Venter, asook haar oumagrootjie aan vaderskant.

Vanaf hul troue tot die negentiger jare van die negentiende eeu woon hulle op die plaas Klipfontein in die Burgersdorp distrik. Hierna verhuis hulle na die plaas Kruisrivier. Hulle het op hierdie stadium verskeie plase besit. Hulle het 'n groot gesin, ses seuns en drie dogters, gehad en was hoog gerespekteerde lede van die gemeenskap. Hulle was lidmate van die Gereformeerde Kerk vanaf die stigting van die eerste gemeente in Suid-Afrika. Drie van hul seuns het tipiese Henning familiename gehad — Johannes Christiaan, Willem Frederik en Douw Gerbrand (vernoem na sy pa, hoewel hierdie naam volop voor kom in alle Noord-Oos Kaap families).

Douw Gerbrand Venter sterf gedurende 1916 en sy vrou Johanna Christina op 15 Augustus 1927 in hul dorpshuis in Burgersdorp.

Webwerf Statistiek vir die Jaar 2001

Die Henning Familiebond se Webwerf op Internet gaan steeds van krag tot krag

Verlede jaar — 2001 — was ons in vervoering toe ons kon aandui dat 104 248 persone gedurende die jaar 2000 na die Henning Familiebond se webwerf op Internet gekyk het — dit teenoor 1999 se syfer van 54 702 persone. Ons kan nou aankondig dat 173 310 besoeke gedurende 2001by ons webwerf afgelê is. Dit is meer as 69 000 besoeke meer as die vorige jaar, wat fenominaal is. Mense van 52 lande het ons webwerf besoek. Die meerderheid was weereens Suid-Afrikaners (10 177), maar groot getalle Britte (5 937), Nederlanders (2 531) Duitsers (1 874), Australiërs (1 194), Belgiërs (971), Nieu-Seelanders (532), Franse (439) Kanadese (344), Italiërs (321), Swede (218), Dene (184), Amerikaners (186), Oostenrykers (158), Switsers (163) en Saudi-Arabiërs (248) het ook besoek afgelê.

Van die 173 306 besoeke het 16 682 persone intensief na ons webwerf gekyk en gegewens afgetrek. Dit is 'n vermeerdering van 3 116 bo die syfer van 13 566 vir die jaar 2000. Die meerderheid mense wat net uit nuuskierigheid na ons webwerf gekyk het, was Amerikaanse handelsfirma's (88 024), opvoedkundige instellings in Amerika (2 640) en rekenaar netwerke (31 628). In die geval van 23 487 besoeke kon ons nie vasstel van watter land af hierdie besoeke plaasgevind het nie. Weens gebrek aan spasie kan ons ongelukkig nie meer besonderhede verstrek nie. Ons sal in die volgende Nuusbrief weer hieroor berig.