Nr 65

Februarie 2001

Indeks:

STUDENTERAAD: UNIVERSITEIT VAN STELLENBOSCH

b10.c6.d3.e3.f2.g3. Eugene Henning is verkies tot Onder-Voorsitter van die Studenteraad van die Universiteit van Stellenbosch vir die jaar 2001. Dit is voorwaar 'n prestasie waarop alle Hennings trots kan wees.

Eugene het aan die einde van 1999 sy B Comm (Regte) graad behaal en is tans besig met sy LLB graad. Hy was gedurende 1999 Primarius van Huis Marais-koshuis en gedurende 2000 “Huisvader” van een van die Universiteitshuise vir studente op Stellenbosch.

b10.c6.d3.e3.f2.g3. Eugene Henning Eugene het sy laerskoolloopbaan as leerling van die Laerskool Ivy Park, Pietersburg begin, waar hy in St 5 hoofseun was. Gedurende sy hoërskool loopbaan aan die Hoërskool Pietersburg, het hy sy skool op vele terreine, onder andere sport en kultuur, verteenwoordig. Hy was in sy matriekjaar ook die Onderhoofseun van die Hoërskool Pietersburg. Ons het verskeie kere in vorige Nuusbriewe berig oor sy prestasies in redenaarskompetisies — die laaste keer in Nuusbrief 43 van Augustus 1995 toe Eugene die M Net/ Junior Rapportryers se Redenaarskompetisie vir alle skole in (die ou) Transvaal gewen het.

Gedurende 1995 was hy die kaptein van die Verre Noord Atletiekspan na die Suid-Afrikaanse skole atletiekkampioenskappe, waar hy sy provinsie in hoogspring, verspring en driesprong verteenwoordig het.

Namens die Familiebond wil ons graag vir Eugene en sy ouers, Eugene en Ellie Henning van Noorsekloof, Jeffereysbaai gelukwens met hierdie prestasie.

INTERNET KORRESPONDENSIE

Ons ontvang bykans daagliks e-pos korrespondensie van mense van reg oor die wêreld, wat ons webwerf op Internet besoek het. Interessantheidshalwe word 'n paar briewe aangehaal:

David Pansegrouw van Washington, VSA het die volgende gevra:

"I came upon your site and am very interested to see some Pansegrouws and de Wets in your tree. I don't do well at all in Afrikaans so your site is a challenge to me but very interesting!

My full name is David Nicolaas Jacobus de Wet Pansegrouw; I was born in 1957 in New York City, USA, and now live in Washinhgton, DC. My father is Nicolaas Jacobus de Wet Pansegrouw and was born in Aliwal Noord; my grandfather was Jan Hendrik Pansegrouw. Off the top of my head, I do not remember my grandmother's name, but she was a de Wet.

If you can direct towards any more information about de Wets and Pansegrouws in the Aliwal Noord area, please email me.

Thanks and best wishes!

David Pansegrouw”

Met so 'n bietjie speurwerk kon ons baie gou vasstel dat David se pa en een van ons Familiebondlede, Mev Lettitia Henning (eggenote van b7.c8.d8.e1.f2. Olivier Henning) van die plaas Oosterlig, Aliwal-Noord saam op skool was te Aliwal-Noord en eintlik kleinneef en -niggie is — onderskeie oupa en ouma De Wet was broer en suster. David se pa was vir 'n tydlank verbonde aan die Suid-Afrikaanse Ambasade in Washington. Ons het Lettitia en David in verbinding met mekaar gebring en hulle sal verder korrespondeer.

Dan het ons ook die volgende e-pos van Lee Michael Henning van Kentucky, VSA ontvang:

It is good to see that the Henning family is not just limited to the U.S. and Europe. My name is Lee Michael Henning. I live in the state of  Kentucky. We, the family, realize our Germanic desent, but have been unable to tie all the various lines of our family to a specific origin. Their are various coats of arms that have been produced; mostly protaining to the country(England,Ireland,Germany,France and so forth). We have recorded history placing a William Henning, arriving in the U.S. somewhere around 1700 from Ireland. It was stated in a newsletter from our Irish branch that his family was from Germany. We have been unable to conferm these facts and our seach of the internet has been rather unsucessful as of late. Most of the history that my branch has is stories that have been passed down through the generations. We, Hennings, are desendents of warriors and of royal blood. Also the wolf has been a symbol of the family for many generations.

I was wondering if you have researched the main family history back to its origin or if there are any internet links available that my assist me in my search to uncover the truth behind the myths and legends of the Henning family. Still it is nice to know that others share the Henning name and our proud of our heritage.

Sincerly,

Lee Michael Henning

Ons het vir Michael Henning volle besonderhede verskaf oor die onstaan van die naam Henning , wie die eerste Hennings was en waar hulle gewoon het. Hierdie informasie is vervat in Hoofstuk 1 van die Henning Familiekroniek.

DE VROUWE PETRONELLA

Tydens ons navorsing na die geskiedenis van die Henning stamvader, Pieter Hendrik Henning * Desember 1740, het ons vasgestel dat hy met die skip “De Vrouwe Petronella” gedurende 1765 na die Kaap van Goeie Hoop gereis het.

Onlangs het Marthie Bredenkamp van Sinoville, Pretoria per e-pos vir ons laat weet dat sy die geskiedenis van die skip De Vrouwe Petronella op die Nederlandse skeepvaartmuseum se Internet webtuiste opgespoor het.

Die skip is gedurende 1755 vir die kamer Enkhuizen van die Verenigde Oostindische Compagnie (VOC) gebou en het gedurende 1768 in die monding van die Gangesrivier in Indië gesink.

Marthie Bredenkamp is self  besig met genealogiese navorsing na die Bredenkamp familie. Sy is egter 'n Henning afstammeling. Ons het haar gevra om so 'n bietjie meer van haarself te vertel:

“My ma se ouers was Pieter David Hendrik Stefanus Henning (b9.c1.d2.e1.f6.) en Martha Louisa Laubscher en my ouers Johannes Matthys (Hans) Strydom en Martha Louisa (Mart) Henning. Ek, Martha Louisa (Marthie) Strydom het groot geword langs die Vaaldam, op die plaas Hartebeesfontein, Delareyville, reg langs die Natuurreservaat.

Ek is gedurende 1978 in Benoni met Jan Christiaan Bredenkamp getroud en ons het vir 10 jaar lank te Boksburg gewoon, waarna ons Pretoria toe verhuis het. Ons bly nou al 13 jaar lank in Sinoville. Ons het drie kinders — twee seuns, Hannes  en  Martin (21) en 'n dogter, Jani (20). Hannes is  gedurende 1995 in 'n motorongeluk oorlede. Dan het ons 'n kleindogter Jacqueline Christie (4)

My man, Jannie, werk vir Telkom in Pretoria en ek het tot en met 1999 as 'n aankoper en nuwe winkel beplanner vir PNA Hoofkantoor in Centurion gewerk. Tans is ek net huisvrou en genealogiese navorser.”

MARNÉ HENNING

Ons berig graag oor Henning jongmense wat op een of ander gebied presteer. b1.c3.d7.e9.f1.g2. Nico en Marita Henning van die Wilgers, Pretoria se vier kinders maak  'n gewoonte daarvan om alles wat hulle aanpak in goud te laat verander. Dit is vir ons baie aangenaam om te berig oor die jongste prestasie van  Nico en Marita se tweede dogter, Marné.

Die buiteblad van die laserskyf (CD) wat Marné Henning onlangs 
uitgegee hetMarné Henning matrikuleer in 1991 aan die Hoërskool Pro Arte met klavier as eerste en dwarsfluit as tweede instrument. Sy studeer aan die Universiteit van Pretoria en verwerf 'n graad in Bedryfsingenieurswese in 1995.

In 1996 begin sy haar groot liefde vir musiek en sang weer uitleef deur aan te sluit by die Sarah Joubert-Musiekateljee en by verskeie geleenthede te sing. Sy ontvang ook sangopleiding onder leiding van Lisbé Visser. Marné is 'n veelsydige kunstenaar wat ewe tuis is met Ligte Afrikaanse Musiek,  Kabaret, Karakterwerk (uit musiekblyspele) en Klassieke musiek. Sy tree graag by funksies soos jaareindfunksies, sangaande, kunsuitstallings, ma-en-dogter-funksies, vroue-funksies, troues en ander geleenthede op.

Verder tree sy ook verskeie kere op saam met die kitaarspeler Trevor Nasser. As deel van die ATKV-sangerforum van Centurion, toer sy in 1999 saam met die ATKV en neem deel aan die jaarlikse Oukersaand-konsert in die Amfiteater van Hartenbos. Sy is verder ook deel van die NG kerk Lynnwoodrif se lofprysingsorkes wat Sondag-aande die gemeente bedien. Haar debuur CD, 'Onthou om te Droom', is November 2000 vrygestel, waartydens sy ook 'n spesiale toekenning van die ATKV (Sakkie Kotze) ontvang het. Tans is die CD beskikbaar by Music 4 U (Menlyn Retail Park en Kolenade Sentrum).

Ons wil graag hierdie CD by alle Hennings aanbeveel, want dit is beslis van hoogstaande gehalte. Vir verdere navrae, skakel asseblief: 082 822 1384.

DR NERINA WILKINSON

Dr Nerina Wilkinson wat onlangs die FRCS 
kwalifikasie verwerf het

b7.c8.d8.e3.f3. Wilhelmina (Wiena) Wilkinson (gebore Henning) van Paarl is een van die bestuurslede van ons Familiebond. Sy en haar eggenote, Aubrey kon gedurende November 2000 'n baie spesiale toekenningsaand in Pretoria bywoon, toe hul dogter Dr Nerina Wilkinson as 'n Fellow of the Royal College of Surgeons van Brittanje toegelaat is. Nerina het kort tevore die kwalifiseringseksamens suksesvol afgelê, nadat sy aan die einde van 1999 as plastiese Chirurg in Suid-Afrika gekwalifiseer het.

Baie geluk Nerina, Aubrey en Wiena.

HENNING BABA

b6.c4.d1.e5.f9.g4.h3. Jacobus Hendrikus (Jaco) Henning en sy vroutjie Johanna van Akasia, Pretoria het op 17 Julie 2000 'n derde kleinding ryker geword. Hierdie keer is dit 'n bulletjie van 4 kg en 53 cm. Hy sal soos sy Henning oupa — Johannes Hendrik — heet. Die kleinman se ID nommer is 000717 5098 08 1. Nou wonder ons maar net. Is hy met sy nommer wat met 0007 begin, dalk die opvolger van  die baasspioen 007.

CHRIS HENNING VERMOOR!

Die “Nuwe Suid-Afrika” het alweer toegeslaan en een van ons Hennings getref. b1.c3.d12.e9.f2.g1. Christiaan Rudolph (Chris) Henning (53) en sy gesin van Pretoria, was op Sondag 22 Oktober 2000 op pad terug vanaf Potchefstroom, waar hulle 'n familiesaamtrek bygewoon het.

b1.c3.d12.e9.f2.g1. Christiaan Rudolph Henning *3-5-1947 wat deur boewe vermoor is
Dié Sondagmiddag het die wind baie sterk gewaai en hulle het 'n woonwa met hulle motor gesleep. Naby Soweto, op die N1 Nasionale pad, het 'n band van die motor gebars en hulle was verplig om stil te hou, om die band om te ruil. Sy vrou, Roelien, en hul seun, Angelo (10) het by hom gestaan, terwyl hul dogter, Daniette (15) en haar vriendin, Michelle Kloppers (15) in die woonwa ingegaan het.

Toe die band klaar omgeruil is, het Chris vir sy vrou en seun gesê hulle moet terugklim in die motor, dan sal hy die meisies kry sodat hulle maar kan ry.

Roelien het die volgende oomblik 'n beweging langs die motor gesien en haar man vol bloed sien staan. As gevolg van die geraas van die verkeer, kon sy niks hoor nie. Twee swart mans, waarvan een 'n rewolwer gehad het, het langs Chris gestaan. Sy het dadelik besef dat hy geskiet is.

Chris het sy bors vasgehou en inmekaargesak. Een van die mans het Roelien uit die motor probeer pluk, maar sy het haar hewig teëgesit. Hulle het hierna in die bosse ingehardloop, sonder om iets te steel. Enkele oomblikke later het mense by hulle stilgehou en paramedici ontbied om Chris hospitaal toe te neem.

Chris is van die kant af deur sy bors geskiet. Sy longe is beskadig en erge skade is aan sy lewer, maag, milt en mantelvlies aangerig. Hy is vir 22 dae lank in die Intensiewe-sorg Eenheid van die Baragwanath Hospitaal verpleeg, voordat hy oorlede is.

KEN ONS LEDE

In hierdie Nuusbrief stel ons een van die bekende Henning opvoedkundiges, b6.c1.d3.e5.f1.g1.h2. Prof Josef Jooste Henning * 23-8-1931 en sy eggenote bekend.

In the next Newsletter — May 2001, we will introduce another Henning who made his mark in the Education field in South Africa — b1.c3.d2.e2.f7.g1. Mark Henning * 26-3-1934.

Ek, Josef Jooste Henning, is op 23 Augustus 1931 in Excelsior gebore, waar my vader, na wie ek vernoem is, onderwyser was. My skoolopleiding ontvang ek op Petrus Steyn — onder andere ook by my pa. Die grootste gedeelte van my skooljare was gedurende die Tweede Wêreldoorlog. My pa was geskiedenis onderwyser en sy belangstelling in die verloop van die oorlog het 'n groot invloed op my ontwikkeling gehad. Tot vandag nog is geskiedenis een van my groot liefdes.

Na matriek het ek aan die Potchefstroomse Universiteit gaan studeer, waar ek die BA graad in Staatsleer, Volkekunde en Geskiedenis verwerf het. Nadat ek die Honneurs-BA graad in Ontwikkelingsadministrasie behaal het, was ek vir die volgende twee jaar in Kroonstad werksaam as amptenaar van dié Stadsraad. Gedurende daardie tyd het ek met deeltydse studies voortgegaan en die MA-graad verwerf.

Op 31 Desember 1955 tree ek in die huwelik met Ina van der Walt. Sy het ook aan die Potchefstroomse Universiteit studeer, waar sy die BA-graad (Engels en Afrikaans-Nederlands) asook die HOD verwerf het. Na haar studies voltooi is, het sy aan die Hoërskool op Hennenman onderwys gegee.

b6.c1.d3.e5.f1.g1.h2. Josef Jooste Henning *23-8-1931 en sy vrou InaVanaf 1 Januarie 1956 was ek lektor in Ontwikkelingsadministrasie aan die Potchefstroomse Universiteit. Nadat ek gedurende 1962 Senior Lektor geword het, gaan ek na Skotland waar ek in Januarie 1963 stigterslid van die Centre of African Studies aan die Universiteit van Edenburgh geword het. Hierdie was 'n belangrike gebeurtenis wat 'n groot invloed op my akademiese ontwikkeling gehad het. Dit het vir my bevestig hoe belangrik internasionale blootstelling vir enige akademikus is.

Gedurende 1968 verwerf ek die D.Phil-graad en word in 1970 bevorder tot Professor in Politieke Wetenskappe, met Afrika politiek as spesialis terrein. Aan die Universiteit van Potchefstroom was ek stigterslid en medewerker van die Afrika Instituut en later ook die Instituut vir Politieke- en Afrika Studies.

Tussen al die werksaamhede en klasgee was daar min tyd vir stokperdjies. Ek en Ina is geseënd met drie pragtige kinders: Jooste, Nico en Daleen. Al drie het ook aan hul ouers se almamater gestudeer en daar gegradueer.

Nadat ek ernstige probleme met my gehoor opgedoen het, moes ek noodgedwonge in 1989 op mediese gronde aftree. Dit het meegebring dat my eggenote, wat deurentyd onderwys gegee het, ook die tuig neergelê het om saam met my die volgende fase in ons lewens aan te pak. Ons het vir ons 'n huis op Gouritsmond laat bou en nou geniet ons elke dag intens. Ons toer baie en doen die dinge waarvoor ons voorheen te min tyd gehad het. Al daardie geskiedenisboeke wat ek deur die jare versamel het, word nou gelees. My jarelange studie van skeepswrakke aan ons kuste kan ek nou voltyds voortsit — sonder om skuldig te voel oor ander werk wat gedoen moet word. En die hoogtepunte!! Daardie kuier van ons kinders en twee kleindogters!!

LEDEGELDE

Baie dankie, al ons lede wat reeds hul ledegelde vir 2001 aangestuur het. Baie dankie aan diegene — die oorgrootte meerderheid — wat 'n addisionele donasie aangestuur het. In besonder wil ons dankie sê vir Jan Henning van Hartbeesfontein wat 'n donasie van R200.00 aangestuur het.

Diegene wat nog nie hul ledegelde vir 2001 aangestuur het nie, kan gerus oorweeg om hul bydraes direk in ons bankrekening in te betaal. As u dit doen, verseker net asseblief dat u u lidnommer as verwysing by die deposito gebruik. — dit is die nommer by u naam op u rekening.

Die Familiebond se bankrekening besonderhede is as volg:

Bank: ABSA Villiersdorp. Takkode: 334-612. Rekeningnaam: Henning Familiebond. Rekeningnommer: 2890 610 423