Nr 64

November 2000

Indeks:

'N HENNING GEWEER UIT DIE ABO

Gedurende Augustus 2000 het ons Bondsekretaris 'n baie interessante e-pos brief van ene Ken Hallock in die Verenigde State van Amerika ontvang. Hy is 'n pensioenaris en versamelaar van voorwerpe uit die Anglo-Boere-Oorlog, en het kort tevore 'n geweer op 'n Internet veiling gekoop.

Ken Hallock van Noord Idaho, VSA met die Henning geweer uit die ABO, wat hy op 'n Internet veiling gekoop hetDie beskrywing van die geweer was as volg: Mauser, Model 1896, Kaliber 7x57 mm. Die reeksnommer val binne die reeks gewere wat die vervaardiger Ludwig & Lowe gedurende 1896 vir die Zuid Afrikaansche Republiek (ZAR, Transvaal) vervaardig het. Hierdie besending gewere is vanaf Hamburg, Duitsland verskeep op die Duits-Oos-Afrika lynskip Reichtag, wat Hamburg op 23 September 1896 verlaat en op 14 November 1896 te Delagoabaai aangekom het. Van daar af is die besending per trein na Pretoria vervoer.

Op die romp van die geweer wat mnr Hallock gekoop het is die naam WF Henning gegrafeer en hy sou graag wou uitvind wie hierdie WF Henning was. Mnr Hallock het die Henning Familiebond se webwerfop Internet besoek en Bondsekretaris, Olivier Henning se adres daar gekry.

Die naam W F Henning is baie duidelik op die romp van die Mauser geweer gegrafeer

Binne 'n paar minute kon Olivier bepaal dat daar elf persone met die naam Willem Frederik Henning aan die Anglo-Boere-Oorlog deelgeneem het. Vier van die elf was Kaapse Rebelle terwyl die ander sewe burgers van die ZAR was.Die naam WF Henning is baie duidelik op die romp van die Mauser geweer gegrafeer

Al sewe is natuurlik lede van die Willem Frederik Henning Tak, of die Burgersdorp Hennings, soos ons hulle noem. Dit is amper onmoontlik om die net nouer te span, maar daar is tog 'n sterk moontlikheid dat b6.c4.d1.e4. Willem Frederik Henning, gebore 1856 die regte een is. Hy het in die Rustenburg Kommando onder Veldkornet Eloff gedien en is op 26 Desember 1899 tydens gevegte by Mafeking gewond.

Ons Bondsekretaris het mnr Hallock probeer oortuig om die geweer aan die Familiebond te skenk of verkoop, vir plasing in ons Henning museum. Ongelukkig was mnr Hallock nie bereid om afstand van die geweer te doen nie.

'N BELGIESE HENNING SLUIT BY DIE FAMILIEBOND AAN

Ons het onlangs die volgende e-posbrief uit België van 'n Peeter Henning van De Bruynlaan 38, Begijnendijk ontvang:

Ik heb de internetpagina's bezocht van de Henning Familiebond. Wel ik ben ook een Henning en heb Duitse voorouders. We zullen waarschijnlijk wel verre familie van mekaar zijn. Ik heb verstaan dat ik lid kan worden van de familiebond. Kan u mij iets toesturen om mij een beter idee te geven van julle vereniging.

Ons het onmiddelik vir Peeter- en sy vrou Dora as Spesiale lede van die Familiebond ingeskryf en wil hulle van harte verwelkom as lede. Ons hoop en vertrou dat hulle ons aktiwiteite interessant sal vind.

NOG INTERNET NUUS

Dit is nie moontlik om terugvoer te gee op al die e-posbriewe wat ons ontvang, nadat mense ons webwerf op Internet besoek het nie. Die belangrikste feit is dat ons oor die afgelope tyd heelwat gegewens van Hennings ontvang, wat vir die eerste keer ons webwerf opgespoor het. Die brief van Johan Henning is 'n sprekende voorbeeld:

“Dit is met trots dat ek vannaand op die internet afkom op my eie familie-geskiedenis. Alhoewel ons 'n familie is wat nie werklik hegte familiebande het nie, kan ek u verseker dat deur hierdie register te blaai werklik iets aan 'n mens se siel doen. Groot was my teleurstelling egter toe my naam nerens in die register verskyn nie. Daarom hierdie kort briefie.

Ek sal graag ook my deel wil bydra tot die volledigheid van die register. My vader was Jan Hendrik Henning (b1.c3.d10.e3.f1.g1.) en getroud met Catherina Beatrix Pretorius van Heilbron. Hulle verhuis vanaf Sasolburg na Parys in 1964 en hy sterf in 1977 daar. My moeder is weer getroud in 1980 en sterf in 1990 te Petrus Steyn. My ouers het ses kinders gehad.
Al die name word verstrek)
Laat my asseblief weet op hoe 'n manier ek 'n nog groter bydrae kan maak”

Al Johan se broers en susters se besonderhede is sedertdien bygevoeg by die meesterregister.

HEELWAT NUWE GEGEWENS T.O.V. JACOBUS CORNELIS TAK

Oor die afgelope drie maande is soveel nuwe gegewens ten opsigte van die Jacobus Cornelis Tak (b5) — of Sentraal Vrystaat Hennings soos ons hulle ook noem — ontvang, dat alles nie in een Nuusbrief gepubliseer kan word nie.

b5.c4.d7. Pieter Hendrik Henning, gebore ongeveer 1847/48

b5.c4.d7 Pieter Hendrik Henning, gebore ongeveer 1847/48 Alida Aletta Minie, eggenote van b5.c4.d7. Pieter Hendrik Henning en een van hul dogters

b5.c4.d7.e1. Jacobus Cornelis Henning *19-7-1872 en sy vrou Rachel Elizabeth Mynhardt *21-6-1885

b5.c4.d7.e1.f2.g1.h1. James Stephen en Nicola Jeannine Henning wat vir ons heelwat gegewens gestuur het

 In hierdie Nuusbrief publiseer ons slegs 'n paar foto's wat James Stephen Henning van Benoni vir ons gestuur het. James se genealogiese nommer is b5.c4.d6.e1.f2.g1.h1. Met die gegewens en foto's wat ons nou van hom af ontvang het, kon ons die nasate van b5.c4.d7. Pieter Hendrik Henning, gebore 1847/48 en sy vrou Alida Aletta (gebore Minie) redelik volledig rekonstueer.

KEN ONS LEDE

In hierdie Nuusbrief stel ons graag vir b5.c1.d3.e1.f7.g4. Hermanus Francois Henning en sy gesin bekend. Hier is Herman se verhaal:

Ek, Herman die vierde oudste seun van Jan Andries Henning (b5.c1.d3.e1.f7.) is op 30 Desember 1932 op die plaas Inhoek tussen Memel en Verkykerskop in die Noord-Oos Vrystaat gebore. Ons was vyf broers en 'n suster. My vader is op 4 Junie 1888 te Dewetsdorp gebore en is op 7 April 1937 in die hospitaal op Harrismith aan kanker oorlede. My moeder, Jacoba Johanna Magaritha (Bosman) is op 19 Februarie 1907 op Caledon gebore en op 16 Augustus 1927 in die NG Kerk, Memel met my oorlede vader getroud. My vader het 'n gemengde boerdery bedryf en was veral vir sy Drakensberg beeste bekend. My moeder is vir die tweede keer in dieselfde kerk op 24 Mei 1938 getroud met Alan Peter Malan van Cedarville (Griekwaland-Oos). Vier dogters en 'n seun is uit hierdie huwelik gebore. My moeder is op 7 Januarie 1977 na 'n beroerte aanval op Ermelo oorlede.

Ek het as 'n plaaskind grootgeword en drie laerskole bygewoon, naamlik Bothasvlei, Geluk (twee plaasskole in die Memel omgewing) en in Standerd ses was ek in Charlestown, Noord-Natal. My ouers het gedurende 1944 na 'n plaas naby Majuba in Natal, tussen Charlestown en Newcastle verhuis. My hoërskooljare (1948 tot 1951 — matriek) was ek in Voortrekker Hoërskool, Pietermaritzburg waar ek in die skoolkoshuis was. Ons leerlinge moes daardie dae maar ligloop as die enigste Afrikaanse Hoërskool in 'n Engelse stad, want die politiek was maar moeilik. D J Opperman, die welbekende digter, was destyds 'n onderwyser by die skool en het die skoollied geskryf. Ek is nou nog trots daarop dat ek die laaste twee jaar vir die skool se eerstespan rugby gespeel het — senter/flank. Na skool het ek vir nog sewe jaar eersteliga klubrugby vir onderskeidelik Newcastle, Hluhluwe, Empangeni en Wasps (Pietermaritzburg) gespeel. 'n Ernstige kniebesering het my rugbyloopbaan kortgeknip.

b5.c1.d3.e1.f7.g4. Hermanus Francois Henning (Herman) *30-12-1932, sy eggenote, Anna Elizabeth(Ena) en hul drie dogters, Marlize, Sanette en LizelleNa skool het ek by die Departement Pos- en Telegraafwese op Newcastle begin werk. Ek is later verplaas na Mkuze, Empangeni, Felixton en die Streekkantoor in Pietermaritzburg. My vier jaar in die Hoofstad van Natal was ek sekretaris van 'n skakelkomitee. Die lede van die komitee was gekies uit al die kultuurliggame, Afrikaanse kerke, skole en Afrikaanse besighede. Die komitee het funksies gereël op dae soos Republiekdag, Krugerdag en Geloftedag, ens., en veral gesorg dat van die land se beste sprekers optree. 'n Afrikaanse Sakekamer is ook gestig. Die Munisipaliteit van Pietermaritzburg wat net een taal, Engels gebruik het, is ook onder druk geplaas en verplig om alle munisipale kennisgewings en straatname in beide tale, Afrikaans en Engels aan te bring. Ek het my eggenote in Pietermaritzburg ontmoet, waar ons op 1 Oktober 1960 in die huwelik bevestig is.

My eggenote, Anna Elizabeth, se noemnaam is Ena en sy is die tweede oudste van vier kinders van Joseph Armsby Ball, eienaar van die plaas The Ledges, Bergville en sy vrou Maria Petronella Kriel. Ena is op Bergville gebore en het op die plaas The Ledges groot geword. Sy het op Bergville laerskool en Ladysmith en Harrismith Hoërskool gegaan. Ena was ook 'n kranige atleet, veral met hoogspring en hekkies. Sy het die Noord-Natal onder 19 hekkies rekord vir ses jaar lank gehou. Sy het ook vir die skool se eerste hokkiespan gespeel en daarby was sy ook 'n uitstekende tennisspeler en het vir die skool se eerste span gespeel. Later het sy ook vir die eerste spanne van drie verskillende tennisklubs, waaraan sy deur die jare behoort het, gespeel.

'n Jaar na ons troue is ek na Telkomhoofkantoor in Pretoria verplaas, waar ek die volgende twee-en-dertig jaar lank gewerk het, totdat ek op 31 Augustus 1993 na 42 jaar diens afgetree het en vandag nog woon.

Ena het as tikster in die streekkantoor van die Departement van Pos-en Telegraafwese in Pietermaritzburg begin werk, maar na ons troue het sy by die destyds Departement van Gemeenskapsbou ingeval. Na ons verplasing na Pretoria het sy in die Hoofkantoor van die Departement van Gemeenskapsbou vir drie jaar as die sekretaresse van die Adjunk-Sekretaris gewerk, totdat ons met 'n gesin begin het.

Uit ons huwelik is drie dogters, Marlize (*8-4-1965), Sanette (*11-1-1967) en Lizelle (*3-2-1971) gebore. Behalwe op akademiese gebied het Sanette en Lizelle ook in sport uitgeblink. Sanette het op skool haar Noord-Transvaal en SA Skole kleure vir atletiek verwerf. Ofskoon sy die skool se beste in die 100, 200 meter en hoogspring was, het sy veral uitgeblink in hekkies en spiesgooi, waar sy verskeie skolerekords geslaan het. Sy het die Noord-Transvaal onder 15 spiesgooirekord vir jare lank gehou. Sanette het 'n Oos-Transvaal onder 16 spiesgooi operekord op Groblersdal opgestel. Sy het ook tweede gekom met spiesgooi by die onder 16, en onder 19 Suid-Afrikaanse skole kampioenskappe. Sy was slegs 16 jaar oud toe sy tweede gekom het in die onder 19 Suid-Afrikaanse Kampioenskappe. Sy was in 1984 ingesluit in die Suid-Afrikaanse skole uitnodigingspan wat meegeding het teen die Wes-Europese span wat deur Suid-Afrika getoer het. Sy het in haar St 9 en 10 jare vir die skool se eerste hokkiespan gespeel en was die laaste jaar kaptein van die span. Sanette het ook in haar matriekjaar vir die Noord-Transvaalse skole sagtebal gespeel en was op die kortlys vir die Suid-Afrikaanse skole span, maar het nie die finale span gehaal nie. Sy is met Rudi Windisch getroud en uit die huwelik is 'n dogter Simoné gebore.

Lizelle, ons jongste dogter, was ook haar skool se beste spiesgooier, maar het veral in hokkie uitgeblink, waar sy in St 8, 9 en 10 vir haar skool se eerste span gespeel het. Sy het ook vir drie jaar haar provinsiale kleure as senior hokkiespeler verwerf. Sy het 'n Nasionale Diploma in Inligtings Tegnologie aan die Pretoria Technicon verwerf.

KYK SO 'N BULLETJIE!

Ons lesers sal onthou dat ons in die Augustus 2000 Nuusbrief berig het oor die geboorte van b5.c1.d3.e1.f2.g2.h3.i2. Xander Ockert Henning op 31 Mei 2000. Hy is die tweede kind van Ockert Johannes (Ockie) Henning en sy vroutjie Roline.

Op die foto langsaan verskyn Roline met haar twee spruite, Nikola *17-4-1996 en Xander.

DONASIES EN LEDEGELDE

Die Familiebond maak in alle opsigte staat op die lojaliteit en ondersteuning van ons lede. Dit geld ook op finansiële gebied. Ons is dankbaar vir alle bydraes wat ons ontvang. Ons maak ook graag spesiale melding van addisionele donasies van meer as R200.00 wat ons van tyd tot tyd ontvang. Dit is aangenaam om te berig dat ons oor die afgelope drie maande die volgende donasies van Erelede (lede wat ouers 80 jaar is) ontvang het:

Genl-Maj (oom Piet) Henning (93) van Zastron — R500.00.
Tannie Daphne Harker (82) van Durban — R200.00

Oom Piet en tannie Daphne het oor die afgelope paar jaar al verskeie donasies aan die Familiebond gemaak. Ons wil vir hulle baie dankie sê. Hulle hou die familiebond finansieel op sy bene.

Ongelukkig is daar steeds 13 families wat lede van die Familiebond is, wat geen bydrae vir die jaar 2000 gemaak het nie en ons stuur alreeds die rekeninge vir die jaar 2001 saam met hierdie Nuusbrief uit. Ons wil 'n beroep op alle lede doen om u bydraes so spoedig moontlik vir ons aan te stuur. U bydraes hou die familiebond aan die gang.

BELANGRIKE KENNISGEWING!!

Daar word te alle tye gepoog om Nuusbriewe gedurende die eerste weke van Februarie, Mei, Augustus en November aan lede te stuur. Hierdie Nuusbrief word reeds vroeg in Oktober uitgestuur sodat lede kan kennis neem van die volgende:

Alle Hennings wat in die opvanggebied van Radio Pretoria woon, kan gerus op Donderdagaand 19 Oktober 2000 om 20:30 (half nege n.m.) na die program “VAN WAAR GEHASIE” op Radio Pretoria luister. Isabel Groesbeek wat die program aanbied sal dan meer vertel oor die familie Henning en die Henning Familiebond. Radio Pretoria kan normaalweg op 104.2Mhz opgevang word, hoewel al die herlei stasies ander frekwensies gebruik.

HOEWEL VROEG, WIL ONS AL ONS LEDE 'N GESEËNDE KERSFEES EN VOORSPOEDIGE NUWE JAAR TOEWENS