Nr 63

Augustus 2000

Indeks:

MEES ALGEMENE HENNING VOORNAME

Het u ook kopgekrap oor die voorname wat vir u pasgebore spruit gegee moes word? Vir baie mense kom name vir hulle kinders sommer maklik, terwyl dit vir ander 'n moeilike en ingewikkelde besluit is, wat eers na dae en weke se bepeinsing en beredenering gefinaliseer word.

Die groot vraag is dikwels: “Wat se naam gee ek vir my kind? 'n familienaam, ... 'n selfgevormde naam, 'n verkorting of om-vorming van 'n familie-naam, 'n naam om uiting te gee aan my patriotiese gevoelens, 'n uitheemse naam ... of sommer net 'n naam wat mooi klink ”. Vroeër jare was dit vir blanke Suid-Afrikaanse – en in besonder Afrikaanssprekende families maklik om name vir hulle kinders te gee. Die oudste seun het outomaties die man se pa se name gekry, die oudste dogter die vrou se ma se name, die tweede seun die vrou se pa se name, die tweede dogter die man se ma se name, die derde seun die pa se name, die derde dogter die ma se name. Alle daaropvolgende kinders word na broers, susters en ander familielede of goeie vriende vernoem. Dit was die dae van groot gesinne.

Wêreldwyd het die tendens egter ontwikkel dat soos mense meer “geleerd”, “beskaafd” en welvarend word, hulle minder kinders het. Ongelukkig het hierdie verskynsel ook nie die blanke Suid-Afrikaner vrygespring nie. Ons gesinne het ook al kleiner geword, totdat ons vandag die stadium bereik het waar ons 'n negatiewe bevolkingsgroei onder blankes het — pa en ma word nie eens meer gereproduseer nie. Soos ons mense minder kinders gekry het, het ons naamgewing probleme al meer begin word.

Ontwikkeling, geleerdheid en rykdom het ook talle ander tragedies in ons naamgewing tradisies meegebring. Niemand weet meer waar sy mense vandaan kom en wie hulle was nie. Hy of sy weet dus nie waar sy/haar eie naam vandaan kom nie en kan dus nie trots op sy/haar naam wees nie.

Ons mense het ook lui geword. Niemand wil meer drie of vier name hê nie ... nee, een naam is die beste en hoe korter hoe beter. Ons Boerename is ook nie meer goed genoeg nie, nee uitheemse name soos ... (oeps! amper noem ek 'n paar en beland indie moeilikheid) is net die inding. Mens kan maklik 'n minderwaardigheidskompleks hierin bespeur.

Dit is wel so dat naamgewing net soos 'n taal ontwikkel en meer modern word. Ons eie Henning stamvader se naam is 'n voorbeeld. Hy het met die Duitse name Peter Henrich Henning hier aangekom en hier het hy met verloop van tyd die Afrikaanse Pieter Hendrik Henning geword. Net so kan baie van ons ou Afrikaanse name 'n nuwe en meer moderne baadjie kry en nog steeds kultuurgebonde bly.

As ons deur die Henning Familiekroniek blaai en na ons Hennings se voorname kyk, kom 'n paar interessante dinge na vore. Daar is 695 verskillende mansname (enkel name soos Pieter, Jan Johannes, Deon, Gerrie, Koos, ensovoorts) en 1 114 verskillende enkel vrouename.

Die groot verskil in die getal mansname en vroue name word gevind in die feit dat ons seuns steeds tot 'n groot mate nog familiename kry, terwyl slegs 'n baie klein persentasie dogters nog van ons karaktervolle en pragtige vroue familiename kry. Die meerderheid dogters kry deesdae een of ander vreemde naam of 'n nuut gevormde naam. Die pragtige tradisie van vroue familiename het dus, helaas, uitgesterf.

Daar is egter ook 'n hele aantal gemoderniseerde familiename, wat net so mooi op die oor as die oorspronklike name val. Dit is egter duidelik dat die moderne neiging van neutrale, onbetrokke name vinnig besig is om ook by ons uit te slaan — net soos wat ons ook op kultuur-, politieke- en godsdienstige gebied nie meer by 'n groep betrokke wil wees nie en dus niks het om op trots te wees nie.

'n Verder aspek wat in die geslagsregister waargeneem kan word, is die feit dat geen van ons kinders oor die afgelope 60 jaar meer patriotiese name kry nie. Die moeilike jare vanaf die Boerevolk se Tweede Vryheidsoorlog tot en met die 100 jarige herdending van die Groot Trek, dit wil sê die tydperk vanaf ongeveer 1899 tot 1938 het talle pragtige patriotiese name opgelewer. Kyk byvoorbeeld na name soos Onstaal Henning *1905 (b7.c5.d8.e4.) Na die Tweede Vryheidsoorlog het die vyand alles in sy vermoë gedoen om die Boerevolk en sy taal te vernietig. Hierdie treffende naam is dus uit die stryd vir die voortbestaan van ons mooi taal gebore — en nou is ons al weer in so 'n stryd gewikkel.

Met name soos De Wet Joubert Merriman Henning (b1.c8.d14.e2. *23-6-1900), Paul Kruger Steyn Henning (b1.c8.d14.e2.f6. *18-4-1942) en Beyers Fourie Henning (b6.c3.d3.e4.f2.g6. *1-12-1915) kan ons sien wie die helde van die vaders van hierdie seuns was. Patriotiese name soos Philopatria Henning (b6.c1.d3.e4.f2.g6. *27-2-1919), Liberta Henning (b6.c1.d3.e4.f8. *12-5-1901) en Eufesia Henning (b7.c1.d3.e5.f1.g6. *8-10-1938) is aan ons dogters gegee. Kan iemand fout vind met sulke mooi, oorspronklike, patriotiese name? Net kwaadwilliges sal fout vind.

Van die 695 mansname wat deur die Henning familie in verskillende kombinasies gebruik is, is die volgende name tot vandag toe die meeste kere gebruik:

Johannes

656

Frederik

122

Jacobus

446

Christiaan

109

Hendrik

404

Gert

97

Pieter

264

Marthinus

95

Jan

253

Nicolaas

81

Willem

202

Philippus

80

Petrus

179

Barend

79

Stephanus

163

Adriaan

72

Daniël

139

Johan

67

Cornelius

132

Christoffel

62

Gerhardus

127

Francois

61

Andries

124

Abraham

60

 

Van die 1 114 vrouename is die volgende name die meeste kere gebruik:

Maria

690

Martha

204

Wilhelmina

107

Johanna

664

Petronella

181

Gertruida

107

Elizabeth

514

Aletta

175

Helena

105

Catharina

346

Hester

174

Francina

78

Anna

335

Cornelia

168

Cecilia

67

Magdalena

323

Sophia

156

Susara

58

Susanna

293

Christina

129

Elsie

55

Jacoba

219

Hendrina

126

Louisa

50

KEN ONS LEDE

In hierdie Nuusbrief stel ons graag vir b9.c1.d4.e6.f1. Frederika Wilhelmina Alberts (gebore Henning) bekend. Hier is haar verhaal: 

Ek is Frederika Wilhelmina Alberts, gebore Henning. My noemnaam is Driekie. Ek is trots om Henning-bloed of gene) te hê. Ek is op 30 Junie 1913 in die distrik Lichtenburg gebore — die oudste van vyf dogters. Ons was 'n baie, baie gelukkige huisgesin. My dierbare pa was Izak Jacobus Stefanus Henning. Hy was die saggeaardste mens wat ek geken het. Hy was baie lief vir die natuur en sy plaasdiere. Sy diere het hom aan sy roep en sy fluit geken. Toe hy en my ma in 1939 vanaf Lichtenburg na 'n kleinhoewe naby Benoni getrek het, het sy broer Izak Johannes vir hom twee van sy perde per trein na Kemptonparkstasie gestuur. Hy het drie dae lank elke dag gaan ondersoek instel of die perde al aangekom het. Hy het nie gaan vra of die perde al aangekom het nie, maar het net buite die stasie gestaan en fluit. Die derde dag het een van die perde dadelik gerunnik. Hy het hulle gaan groet en toe vir hul vervoer na die hoewe gereël.

b9.c1.d4.e6. Izak 
Jacobus Stephanus Henning *12-9-1887 en sy vrou Maria Helena (gebore Hattingh) *25-1-18??

My mammie was 'n ware opvoeder — baie dinamies en 'n steunpilaar in die kerk en gemeenskap.

Ek is in September 1938 in Pretoria getroud met Francois Jacobus Alberts. Ek was baie trots om Mev. Alberts te wees. Frans is in Rustenburg gebore en het later in Pretoria gewoon. Hy was sy hele lewe lank 'n geregsbode.

Ons het vier dogters gehad: Amanda, Liza, Driekie en Fransie, vir wie ons baie lief was. Soos hulle groter geword het, het ons baie saam tennis gespeel — selfs in toernooie in Mosambiek en Swaziland. Hulle speel nou nog tennis. Amanda en Fransie het Noord-Transvaal kleure in tennis verwerf. Amanda speel nog gereeld in nasionale veterane tennistoernooie. Sy het ook daarin haar veteranekleure verwerf.

Ons dogters het ook almal klavier-, orrel- en sanglesse geneem totdat almal getroud is. Amanda het baie kore begelei, maar toe het die huishou pligte en die opbou van hulle families begin.

Terwyl hulle nog in die huis was, het ons soveel plesier uit hulle musiek en sang gevind. Daar was twee operaseisoene in Pretoria wat ons as familie gereeld bygewoon het. Ons het selfs die kinders se maats saamgeneem. b9.c1.d4.e6.f1. Frederika Wilhelmina (Driekie) Alberts (gebore Henning) *30-6-1913

Amanda se getroude van is Aylward, Liza het met 'n Van der Merwe getrou, Driekie se man is Johan Geldenhuys en Fransie is deesdae 'n Philpott.

My man, Frans, is in 1987 oorlede. Dit was amper 'n onoorkomelike hartseer. Ons het so 'n vol lewe gehad en baie rondgetoer reg deur die land. Ons was ook in 1971 na Japan en Taiwan. Dit was 'n wonderlike toer gewees.

Ek is nog redelik gesond en doen nog my eie huiswerk en bestuur nog my eie motor. Ek probeer nog die familie bymekaar hou. Ek het 14 kleinkinders gehad, van wie twee dood verongeluk het. Ek het ook 12 agterkleinkinders. Ons probeer een maal per jaar, aan die einde van die jaar, 'n sangaand hou, wat baie prettig is. Ons laat ook nie die geleentheid verby gaan om 'n sjampanje-ontbyt te hou nie.

FRANCOIS HENNING OP DIE VOORGROND!

'n Tyd gelede het ons in die dagblad BEELD vir die eerste keer kennis geneem van Francois Henning. Sedertdien het dit duidelik geword dat hierdie jongman werklik besig is om op die voorgrond te tree en vir homself naam te maak.

Ons praat natuurlik van b5.c4.d4.e1.f7.g1.h2. Francois Henning, gebore 22 Desember 1972, die seun van Jan Louis Henning en sy vrou Hester. Francois is in Salisbury (nou Harare)Zimbabwe gebore.

Francois kan elke Maandagaand op televisie in die program Kliek op kykNET gesien word, waar hy saam met die baie bekende aktrise Antoinette Kellerman die program oor rekenaars aanbied. Dit is egter nie Francois se eerste kennismaking met televisie nie. Hy doen ook sy ding as die eerste wit Suid-Afrikaanse kwaito-kunstenaar in die sepie Stralerjakkers op kykNET en het selfs in die gewilde M Net sepie Egoli gespeel. b5.c4.d4.e1.f7.g1.h2. Francois Henning *22-12-1972 

Wanneer Francois (of “Lekgoa”) Henning nie saans sy ding op Stralerjakkers doen nie, oefen hy hard vir sy eerste landwye musiektoer wat eersdaags begin.

Behalwe dat hy die eerste wit kwaito-kunstenaar in die land is (én vlot Sotho praat), is hy 'n trotse “Boerseun”. Hy sê dat hy net so trots daarop is om die eerste wit SA kwaito-kunstenaar te wees, as wat hy trots is om 'n Boerseun te wees. Hy vertel dat hy dol was op kwaito toe hy dit die eerste keer gehoor het. Hy het die heeltyd demonstrasiekasette gemaak en dit na verskillende musiekmaatskappye gestuur, totdat hy 'n kontrak by Gallo gekry het. Hy sing in Sotho, Engels en Afrikaans.

Francois sê dat sy CD baie goed vaar. Hy is trots daarop om deel te wees van 'n opwindende era in die Suid-Afrikaanse musiek. Die hoogtepunte in sy loopbaan was om 'n platekontrak te gekry het; om sy liedjie die eerste keer op radio te gehoor het en om “shows” met sy dansers op die verhoog te doen. Dit was ook 'n hoogtepunt om voor 10 000 mense in die Orlando-stadion te kon optree.

Kwaito is die musiekkategorie met die grootste verkope in Suid-Afrika en het 'n groot invloed op tieners landwyd. Francois werk dus hard daaraan om enige boodskap wat hy met sy musiek wil oordra, positief en opheffend te maak.

Kwaito is straatmusiek, township-musiek en dansmusiek. Dit is musiek wat mens gebruik om jou gevoelens oor wat om jou gebeur, uit te druk — soos om jou frustrasies met ander te deel en ook hoe jy oor spesifieke dinge voel.

Francois was ook een van die span jong akteurs wat van die verhoogverwerking van Barrie Hough se jeugromans Vlerkdans en Skilpoppe so 'n groot sukses gemaak het.

ANTON HENNING EN GESIN?

b9.c3.d3.e8.f4.g1. Anton Jurgens Henning en sy gesin is lede van die Familiebond. Gedurende Augustus 1998 het Anton vir ons laat weet dat hy en sy gesin na Indianapolis in Amerika emigreer.

Anton het aangedui dat hy vir ons sy nuwe adres in Amerika sou stuur, sodra hulle 'n permanente adres kry. Tot op hede het ons egter niks van Anton verneem nie.

Is daar enige familielede wat hulle adres moontlik het? Laat weet asseblief vir ons. Ons sal graag wil hoor hoe dit daar in die vreemde met ons mense gaan.

PRAGTIGE DONASIES!

Oor die afgelope drie maande het ons 'n aantal pragtige donasies van 'n paar Lewenslange Lede ontvang. Ons hartlike dank gaan uit aan:

    Dr NGC (Nico) Henning, die bekende veearts van Lyttelton — R500.00
    Mev Ellen Naudé van Rosslyn — R200.00

Die Bloemfonteintak van die Familiebond het ook 'n bedrag van R500.00 aan die Familiebond geskenk. Dankie Jan en jou mense!

Ons wil ook baie dankie sê vir al die gewone lede wat hul jaarlikse bydraes aangestuur het — veral diegene wat 'n groter bydrae as ons riglyn geskenk het.

Daar is ongelukkig nog 20 lede wat geen bydrae vir 2000 gemaak het nie. Ons wil maar weer 'n ernstige beroep op al hierdie lede doen om hul bydraes aan te stuur. Sonder hierdie ledegelde kan die Familiebond baie moeilik kop bo water hou.

'N NUWE HENNING BABA!

Dit is altyd baie aangenaam om van die geboorte van nuwe Henning babas te verneem. In die vorige Nuusbrief het ons berig oor die geboorte van Rohan Ernst Henning op 15 Februarie 2000, die seuntjie van b5.c1.d3.e1.f2.g2.h1. Johan en Dianne Henning van Wellington.

Johan se jonger broer Ockie en sy vrou Roline(b5.c1.d3.e1.f2.g2.h3.) het besluit dat hulle nie mag agter bly nie. Op 31 Mei 2000 is 'n seuntjie, Xander Ockert vir hulle in die Panorama Medi Kliniek in Bellville gebore. Hoewel die kleinman drie weke te vroeg gebore is, het hy met geboorte reeds 3.58 kg geweeg en was reeds 55 cm lank.

'N HENNING SAAMTREK OP STILBAAI

Mauritz Henning van Stilbaai het laat weet dat al die Hennings wat op Stilbaai woon, onlangs bymekaar gekom en gesellig saam verkeer het. Dit was die gesinne van 

Hennings in ander dorpe en stede wat ook saamtrekke hou kan gerus van hulle laat hoor.

INTERNET WEBWERF

Dit is met genoeë dat ons kan berig dat dit goed gaan met die bywerking van die Henning Webwerf op Internet. Diegene wat die webwerf onlangs besoek het, sou opgelet het dat daar nou 'n soekfasiliteit beskikbaar is, wat die blad baie meer verbruikervriendelik maak. Daar is egter nog heelwat werk wat gedoen sal moet word voordat die fasiliteit heeltemal aan ons vereistes voldoen.

Ons ontvang ook nog gereeld telefoonoproepe van mense wat laat weet dat hulle ons webwerf opgespoor het. In al hierdie gevalle is die mense baie opgewonde oor wat hulle gesien het. Wanneer ons egter 'n versoek rig dat hulle vir ons hulle families se nuutste gegewens en foto's moet aanstuur, belowe almal hand en mond om dit te doen, maar ongelukkig het daar tot op hede nie veel van hierdie beloftes gerealiseer nie.