Nr 62

Februarie 2000

Indeks:

HENNING WEBWERF

Besoek die Henning Webwerf by www.henning.org

Soos ons al verskeie kere berig het, blyk dit dat die Henning Webwerf op Internet 'n reuse sukses is. Die statistiek van mense wat ons webwerf gedurende 1999 besoek het, bevestig hierdie standpunt.

Gedurende die jaar 1999 het 54 702 mense die Henning Webwerf by www.henning.org besoek. Dit is 'n gemiddeld van 150 persone per dag vir 365 dae van die jaar. Die meeste mense het op 15 Junie 1999 besoek by ons webwerf afgelÍ, naamlik 1 261 persone. 28 Mei 1999 was 'n kortkop agter met 1 230 besoeke. Die kleinste getal besoekers is op 7 April 1999 aangeteken, naamlik slegs 13 besoeke.

Mense van 76 lande het na ons webwerf gekyk. Die meeste van hierdie besoekers was Suid-Afrikaners—8 136. Vanaf Nederland het 2 413 en vanaf Duitsland 1 124 persone 'n besoek afgelÍ. AustraliŽrs, Nieu-Seelanders en Britte het ook graag na ons webwerf gekyk, met getalle van 688, 754 en 746 onderskeidelik. Daar was ongelukkig 10 857 gevalle waar ons nie kon bepaal vanaf watter land die besoek gekom het nie.

Besoekers aan ons webwerf sal merk dat daar oor die afgelope tyd 'n paar aanpassings gemaak is. Daar is nou ook 'n soekfasiliteit, waarmee mens die rekord van enige Henning en aangetroude eggenotes baie maklik kan opspoor. Hierdie fasiliteit word tans nog verbeter.

Verdere verbeterings wat beoog word, is om by die rekord van elke familielid, nie net die basiese genealogiese gegewens te verstrek nie, maar ook die persoon se geskiedenis en foto's. Dit word dus 'n volledige rekord van die persoon. Vanaf hierdie rekord kan daar baie maklik na die persoon se ouers, kinders en ander familielede gespring word. Ten opsigte van lewende persone sal die informasie en foto's in die rubriek "Ken Ons Lede", wat oor die afgelope 16 jaar in die Nuusbrief gepubliseer is, aanvanklik gebruik word. Ons sal mettertyd al ons lede versoek om verdere hulp in diť verband te lewer.

Ons wil ook graag die belangrikste afdelings van die webwerf in Engels en Duits vertaal. Ongelukkig het ons Bondsekretaris net eenvoudig nie die tyd om die Engelse vertaling te doen nie. Ons wil graag 'n beroep doen op Hennings wat hiermee behulpsaam kan wees, om met die Bondsekretaris, Olivier Henning te skakel en hul dienste aan te bied. Die Hennings sal beslis op die voorpunt wees as ons dit kan regkry om ons webwerf drietalig beskikbaar te stel. Sy adres en telefoonbesonderhede verskyn bo aan die Nuusbrief. Hoe meer persone hul dienste aanbied, hoe minder hoef elkeen te doen.

Weens die sukses van die webwerf, word daar ook beplan om 'n rekenaar CD (laserskyf) met dieselfde informasie uit te gee. Lede sal op hoogte gehou word van verdere ontwikkelinge.


'N INTERESSANTE 2e VRYHEIDSOORLOG DOKUMENT

'n Baie interessante dokument uit die Tweede Vryheidsoorlog van 1899—1902 het in ons besit gekom. Dit is 'n dokument met die handtekeninge van al die bevelvoerders (Generaals, Kommandante en Veldkornette) van die Sentrale- en Noord-Vrystaatse Kommando's. Elke Kommando se bevelsgroep se handtekeninge verskyn op 'n afsonderlike bladsy. Skynbaar is die dokument saamgestel tydens 'n vergadering waar daar besluit moes word of daar met die oorlog voortgegaan moes word.

Die binnesirkel van die bevelsgroep van die Koppies Kommando. Kmdt PJ Henning se handtekening verskyn links bo. Die datums by die persone se name is hul geboortedatums

Op die dokument, by die Koppies Kommando, kom die handtekening van b1.c1.d6.e2. Petrus Johannes Henning (een van die Kommandante) voor.

In die Henning Familiekroniek word daar as volg by Petrus Johannes gerapporteer:

Petrus Johannes gaan gedurende die Tweede Vryheidsoorlog op Kommando. Teen die einde van die oorlog, was dit hy wat tydens 'n vergadering wat onder die Boere gehou is, op 'n wa gespring en uitgeroep het: "Generaal, ons rebeleer! Ons veg tot die laaste man". Die rebelle-offisiersraad, onder voorsitterskap van Genl C R De Wet het hom as rebel kommandant aangestel. Hy is egter mettertyd deur die Britse magte gevang en te Kimberley in die tronk gesit.

Die vraag ontstaan nou of die lys van handtekeninge wat in ons besit gekom het, saamgestel is tydens die vergadering waarna in die Familiekroniek verwys word. So baie dinge stem ooreen, dat ons van mening is dat dit wel die geval is.


DIE ONVERGEETLIKE KAAPSE REBELLE

In die Kerkblad van die Gereformeerde Kerke van 26 Januarie 2000 het 'n pragtige artikel oor 'n paar 19e eeuse Hennings van Burgersdorp verskyn. Hoewel daar geen aanvullende gegewens in die artikel voorkom wat ons nie reeds oor beskik nie, plaas ons die artikel net soos dit in die Kerkblad verskyn het, weens die prag van die artikel. Alle Hennings kan trots daarop wees dat daar op so 'n wyse oor 'n paar van ons voorsate berig word in 'n Godsdienstige tydskrif van statuur.

"Die aanleiding tot hierdie stukkie geskiedenis was 'n foto van oom Andries (Red. b6.c1.d3.e4. Andries Gerhardus Henning) en sy gesin, geneem voor 1910, en 'n huldeblyk in Die Kerkblad van 7 September 1932 aan hierdie stoere Afrikaner en Godsman wat op 4 Augustus 1932 heengegaan het.

Oom Andries is in 1859 gebore en was die eerste kind wat gedoop is te Roosterhoek, Burgersdorp, in 1860 — die eerste gemeente in Kaapland na die stigting van die Gereformeerde Kerk. In genoemde huldeblyk word hy bestempel as 'n 'besondere skerpsinnige op byna elke belangrike Sinodale Kommissie' en gereken as 'n 'outoriteit veral op kerklike gebied'. Hy het verder ''n wonderlike diep kennis geopenbaar van Gods Woord en van die geskrifte van Calvyn, Brakel en Kuyper'. Waarlik 'n merkwaardige mens.

Oom Andries Henning en gesin. Agter, links, staan 
oom Joseph. Heel regs sy swaer, Ds J P van der Walt wat in 
1922 oorlede is. Oom Andries se jongste dogter, Liberta, 
is later met Ds HJS Venter (Nylstroom) getroud. Nog 'n 
dogter is met Ignatius Vorster getroud. Uit hierdie 
geslag kom ook Prof. Ig Vorster en Henning Vorster 
- beide van Potchefstroom. Laasgenoemde 
se ma is ook een van die pragtige dogters op die foto.Dank aan Henning Vorster vir die foto

Gedurende die Anglo-Boere-oorlog is hy gevange geneem as Kaapse rebel en het drie maande in die tronk deurgebring. Hy is later op borgtog van £9000 vrygelaat, oor sy onbesproke karakter en gedrag.

Oom Andries se broer Joseph Jooste (my oupa) (Red. b6.c1.d3.e5.) was ook aan hoogverraad skuldig bevind en het nŠ die oorlog met sy hele gesin, behalwe my pa en sy broer Barend (Red. f2.), na ArgentiniŽ verhuis. Daar was hy 'n gesiene kerkman en is ook daar begrawe. Net my ouma het in 1939 teruggekeer. Hoe onthou ek nog daardie weersiens! Sy seun, Pieter Hendrik (Red. b6.c1.d3.e5.f3.), het aan die hoof van die repatriasie gestaan en het die bekende boek ''n Boer in ArgentiniŽ' geskryf.

In hierdie bydrae bepaal ek my net by die enigste seun van oom Andries, Joseph Jooste. Hy was alombekend en net soos sy pa 'n man uit een stuk. Hy het aan die slag van Stormberg deelgeneem, is gevange geneem en is gedwing om die uitspraak en teregstelling (fusilering) van P W Klopper by te woon. Wie was nie by sy museum in Burgersdorp nie? Ek meen hy het van die artikels aan die Teologiese Skool bemaak.

My pa, ook Joseph Jooste (oudste seun wat nie ArgentiniŽ toe is nie), het saam met sy neef (in die vorige paragraaf genoem) ook aan die slag van Stormberg deelgeneem. Hy het daar makliker van afgekom, en moes ook maar soos die ander die handdoek ingooi. Hoe onthou ek nog toe hulle twee in die veertiger jare besoek aan daardie oorlogsterrein gebring het!

Om af te sluit met die Joseph's — my pa se eerste vrou is aan die Spaanse griep van 1918 oorlede. Hy is weer getroud met my ma, Charlotte Elizabeth Snyman van Bethulie. As jong kind was sy in die konsentrasiekamp in Bethulie. 'n Maand na my geboorte is sy oorlede (1926). My pa, altyd genoem oom Jopie, is vir 'n derde keer getroud, met die jongste suster van sy eerste vrou ('n weduwee met drie kinders). Die familieplaas, Oudefontein, waar gereeld Dingaansfeeste gehou is, het te klein geword en my pa het besluit om in 1932 in die distrik Christiana te gaan boer. Dit was 'n fout, want met merinoskape moes 'n mens dit net nie doen nie. Die groot droogte van 1933 het ons en ander verwoes. Hoe onthou ek nie die swerms sprinkane en die stofstorms wat helder oordag die nag laat aanbreek het! Onvergeetlik! Die bulkende en blÍrende diere het op ons afgestorm gekom as ons in die kameeldoringbome die versamelneste aangery het na die plaas toe. Dit het mens in die hart geruk! (Ben Henning (b6.c1.d3.e5.f1.g6.)


KEN ONS LEDE

Saam met die vorige Nuusbrief het ons weer vir ongeveer 120 Henning gesinne versoek om vir ons 'n artikel oor hulself te skryf. Slegs drie het gereageer, naamlik Danie Henning, van Randgate, Randfontein (wie se artikel in hierdie Nuusbrief verskyn), tannie Driekie Albertse van Capital Park, Pretoria en Herman Henning van Rietfontein, Pretoria. Laasgenoemde twee se artikels sal in toekomstige Nuusbriewe verskyn. Hulle verhaal word egter reeds op die Rekenaar CD en Webwerf opgeneem.

Ons doen maar weer 'n beroep op alle Hennings om vir ons insette vir hierdie rubriek te lewer. Ons is besig om al hierdie gegewens en foto's op ons Webwerf en die rekenaar CD te plaas. Indien u gegewens te laat, of nooit, ontvang word nie, sal u nasate net vir u kan blameer daarvoor.

b1.c3.d2.e2 Jan Victor Henning *25-6-1908 op sy 90 ste 
verjaardag, saam met sy  3 seuns, Hansie, Danie en Clarence.  
Drie geslagte van hierdie familie was leraars in die AGS: 
Oom Danie se vader, hyself en Hansie (Johannes Gerhardus)

Hier is die verhaal van Danie Henning van Randgate, Randfontein:

My pa, Jan Victor Henning (b1.c3.d2.e2.f1.g1.) is tans 91 jaar oud en is gebore op 25 Junie 1908, te Dordrecht. Sy oorlede pa was Johannes Gerhardus Henning (5-10-1875 tot 7-5-1962). My pa woon tans in die AGS Tehuis vir Bejaardes in Pretoria en was 'n voltydse leraar van die AGS Kerk, soos ook my oupa. My oupa was 28 jaar lank leraar van een gemeente in Brakpan. My pa het bedien in Florida, Lydenburg, Primrose (twee keer), Witbank en Bothaville. Uit sy huwelik met Magrieta Magdalena Viviers is daar drie seuns (foto) en twee dogters gebore. Die oudste seun is Clarence Charl (*25-3-1934), die tweede oudste seun is Johannes Gerhardus (Hansie* 17-5-1940), wat ook in die voltydse bediening staan en Danie (*26-12-1949) is die jongste seun.

b1.c3.d2.e2.f1.g1.h6 DaniŽl Henning *26-12-1949, sy vroutjie Ria en hul twee dogters Estelle en Laurette

Ekself, b1.c3.d2.e2.f1.g1.h6. DaniŽl (Danie) Henning is op 26 Desember 1949 in die pastorie te Florida gebore. In Primrose was ek in Laerskool Dageraad, Die President en HoŽrskool Die Vryburger. In Witbank volg HoŽrskool Genl Hertzog en in 1967 matrikuleer ek aan die HoŽr Volkskool te Potchefstroom. In 1968 het ek my Weermagopleiding ondergaan te 1 Seinregiment, Voortrekkerhoogte. Daarna nog vyf kampe gedoen, waarvan een op die grens in Angola was. Daarna was ek werksaam by VETSAK in Bothaville, waar ek met Ria (Hester Maria) Kasselman in 1972 getroud is. Ek het werk by Valindaba (Uraanverrykingskorporasie) in 1973 gekry, waar ek langer as 10 jaar in diens was en die laaste jare as Hoofrekenmeester (Rekenaarprogrameerder). In 1984 het ek twee Christelike boekwinkels in Randfontein gekoop, wat ek 12 jaar bedryf het. Daarna het ek 'n pos by CUM Boeke aanvaar, waar ek tans nog werksaam is as Area Bestuurder. Ons woon reeds 17 jaar lank in Randfontein aan die Wesrand. 

Uit ons huwelik is twee dogters gebore, Estelle (*17-1-1974) en Laurette (*21-5-1976). Estelle het haar eie rekenaar drukkery besigheid en Laurette is 'n finansiŽle konsultant by 'n groot bankgroep. Die foto van ons vier het in die Keur in Desember 1998 verskyn, toe ons gesin die helfte van mekaar se ouderdomme op een tydstip was: Danie—48, Estelle—24, Ria—44, Laurette—22.

Ons is baie Christelik ingestel en is almal maar na-ure met kerklike dinge bedrywig.


FAMILIEBOND ALGEMENE JAARVERGADERING

Die Algemene Jaarvergadering van die Familiebond is op Saterdag 4 Maart 2000 aan huis van Gideon Henning van die Strand gehou. Ongelukkig het ons die heel kleinste opkoms sedert die stigting van die Familiebond gehad. Dit het ons egter nie verhoed om 'n suksesvolle en genotvolle jaarvergadering te hou nie. Diegene wat daar kon wees, maar nie opgedaag het nie, is diť wat verlies gely het.

Die belangrikste sake wat na vore gekom het, was die volgende:

  1. Ons Familiebond is lewenskragtig en aktief. Elke Henning in Suid-Afrika (selfs diegene wat nie lid van die Familiebond is nie) kan trots op ons Familiebond wees.

  2. Die doelwitte om ons Webwerf op Internet uit te brei en om 'n rekenaar CD uit te gee, is bespreek.

  3. Ons kantoormasjiene (rekenaar, drukkers, kopieŽrders, skandeerders, ens) is tans op standaard. Die inkkasette wat in die drukkers gebruik word, is egter baie duur. Dit stoot die bedryfskoste van die familiebond baie op.
  4. 'n Kommerwekkende aspek is die feit dat ons ledetal oor die afgelope vyf jaar elke jaar afneem. Ons ledetal staan tans op 169 gesinne wat lid van die Familiebond is. Dit sluit 17 Erelede (persone ouer as 80 jaar) en 53 Lewenslange Lede in. Dan is daar ook 'n hele aantal lede wat dit nie kan bekostig om enige finansiŽle bydrae te maak nie.
  5. Die Familiebond se inkomste vir die jaar 1999 het sy uitgawes met R1 562.21 oorskrei. Dit is moontlik gemaak deur donasies ten bedrae van R3 110.00 wat ons ontvang het en fotostate wat ons vir buite instansies gemaak het, ten bedrae van R1 847.80. As dit nie vir hierdie twee items was nie, sou die familiebond ten gronde gegaan het. Jaarlikse ledegelde is nie naastenby genoeg om ons uitgawes te dek nie. Dan is daar nog verskeie lede wat onwillig is om die jaarlikse ledegelde van R35.00 te betaal.

Die volgende lede is op die bestuur van die Familiebond herkies: Gideon Henning van die Strand as Voorsitter, Olivier Henning van Theewaterskloof, Villiersdorp as Bondsekretaris/Tesourier, Wiena Wilkinson van Paarl as Bestuursekretaris. Die volgende addisionele lede is ook herkies: Marita Henning van Somerset-Wes, Bernard Henning van Strand, Fanie Henning en Rudolf Henning van Kuilsrivier.


'N NUWE HENNING BABA

Dit het onder ons aandag gekom dat b5.c1.d3.e1.f2.g2.h1. Johannes Lodewikus (Johan) Henning en sy vrou Dianne van Wellington op 15 Februarie 2000 'n nuwe kleinding ryker geword het. Die knapie sal Rohan Ernst heet. Hy is Johan en Dianne se derde kind en is in 'n hospitaal te Paarl gebore. Baie geluk Johan en Dianne! Ons sal hopelik 'n foto in die volgende Nuusbrief kan plaas.


NUWE GEGEWENS OOR AFGESTORWE HENNINGS

In die Henning Familiekroniek word daar tans op bl. 93 slegs die naam van b5.c1.d3.e9.f1. Joseph Johannes Philippus Henning aangedui.

Ons het nou volle besonderhede van hom en sy gesin bekom. Persone met geslagsregister boeke wat hul boeke op datum wil bring kan die volgende gegewens byvoeg:

b5.c1.d3.e9.f1. JOSEPH JOHANNES PHILIPPUS HENNING* Springfontein 3-4-1911, † Bloemfontein 11-2-1991, c Donkerpoort 2-6-1940 ELIZABETH JOHANNA VAN DER WALT * 27-10-1905, † Reddersburg 8-3-1990

b5.c1.d3.e9.f1.g1. ANNA MARIA HENNING * Springfontein 14-4-1942, c Springfontein 16-3-1963 JOHANNES HENDRIK VAN HEERDEN * Trompsburg 24-3-1940

b5.c1.d3.e9.f1.g2. SUSANNA HENDRIKA HENNING * Springfontein 20-8-1946, cBloemfontein 12-3-1966 JEREMIAS JESAJAS VAN HEERDEN * Boksburg-Noord 18-3-1945


'N FEES VIR DIE VRYSTAAT HENNINGS!

Die bestuur van die Vrystaattak van die Familiebond nooi alle Hennings uit na 'n Bring en Braai op 10 Junie 2000 om 17:00 uur te Yorklaan 9, Waverley, Bloemfontein. Dit is die woning van Prof Olof Henning. Vir meer besonderhede kontak gerus vir Jan Henning by (051) 522 4941 (na 14:00 uur bedags) Bring en Braai op 10 Junie 2000 om 17:00 uur te Yorklaan 9, Waverley, Bloemfontein. Dit is die woning van Prof Olof Henning. Vir meer besonderhede kontak gerus vir Jan Henning by (051) 522 4941 (na 14:00 uur bedags).


LEDEGELDE

Ons versoek maar elke jaar dat lede wat 'n jaarlikse bydrae maak, hierdie bydrae voor einde Maart vir ons stuur. Tot op hede is daar nog 35 gesinne wat nie hul bydrae vir die jaar 2000 aangestuur het nie.

Ons versoek dat 'n minimum bydrae van R35.00 gestuur word. Hierdie bedrag is so min om dit vir alle Hennings moontlik te maak om lid van die Familiebond te bly. Ons versoek egter dat lede wat dit kan bekostig vir ons 'n groter bydrae maak. As riglyn meld ons graag dat die meerderheid lede vir ons bydraes stuur wat wissel tussen R50.00 en R100.00. Groter donasies is natuurlik baie welkom, want ons hou werklik die familiebond aan die gang met donasies. Indien ons slegs van ledegelde afhanklik was, sou die familiebond al lankal te gronde gegaan het.

Ons wil weereens ons dank uitspreek teen al die lede wat so pligsgetrou hul bydraes aanstuur.