Nr 60

November 1999

Indeks:

'N TRAGIESE MOTORONGELUK
Johanna Henning 80, van Coligny en haar dogter Gertruida Lourens (regs wat in 'n motorongeluk gesterf het

Op 2 Julie 1998 het Oom Koos Henning (81) van Coligny en verskeie van sy gesinslede die begrafnis van sy dogter Gertruida Lourens se skoonma te Nelspruit bygewoon. Oom Koos is b9.c1.d4.e5.f6. Jacobus Stephanus Johannes Pienaar Henning, gebore 8-12-1917 in die Henning Geslagsregister. Omdat hy ouer as tagtig jaar is, is hy 'n erelid van die Familiebond.

Op pad terug van die begrafnis, was oom Koos, sy skoonseun Gert Lourens en twee van Gert en Gertruida Lourens se dogters, Annerie en Lizette in een motor. Oom Koos se vrou, Johanna, hul dogter Gertruida Lourens en Gertruida se derde dogter Johanna was in 'n ander motor. Teen 19:00 uur die aand was die motor waarin oom Koos se vrou, dogter en kleindogter was, naby Middelburg in 'n botsing met 'n vragmotor betrokke.

b9.c1.d4.e5.f6. Koos (JSJP) Henning 81 van Coligny

Tannie Johanna en haar dogter Gertruida, is op slag dood, terwyl kleindogter Johanna ernstig beseer is. Sy het breinbeserings en verskeie beenbreuke gehad en was in 'n koma. Na ses weke in die intensiewe sorgeenheid is Johanna uit die hospitaal ontslaan. Gelukkig het sy volkome herstel en kon weer gedurende Januarie 1999 haar werk by 'n ouditeursfirma hervat. Sy kon ook haar honneursgraad, waarmee sy besig was, voltooi.

Hoewel ons reeds per brief meegevoel betuig het met oom Koos en al sy familielede, wil ons weer vir hom sterkte toewens.



SLIM EN HARDWERKENDE HENNINGS
Eske Endrejar (B Com Rek), Frieder Endrejar {M Ing [Cum Laude]} kinders van b1.c3.d7.e9.f1.g1. Levien en Erich Endrejar en hul niggie Zelda Henning b1.c3.d7.e9.f1.g2.h3. (B Ing Bedryf) wat hul grade onlangs verwerf het

Ons het al verskeie kere berig oor die pragtige akademiese prestasies van die kinders van Nico en Marita Henning van in Pretoria. Nico is b1.c3.d7.e9.f1.g2 Nicolaas Johannes Henning * 1-10-1942 in die Henning Geslagsregister. Hul drie dogters het al drie onderskeidings in al hul matriekvakke behaal en het ook verskeie van die grade wat hulle behaal het, met onderskeiding verwerf. Hul seun Danie, het self pragtig presteer in die matriekeksamen.

Dit het nou onder ons aandag gekom dat Nico en Marita se derde dogter, Zelda tydens die Herfsgradeplegtigheid van die Universiteit van Pretoria, wat gedurende Maart 1999 gehou is, die B Ing Bedryfsingenieurswese graad behaal het.

Tydens dieselfde gradeplegtigheid het twee van die kinders van Nico se suster Levien Endrejat (b1.c3.d7.e9.f1.g1.) en haar man Erich ook grade verwerf. Frieder Endrejat het sy Meestersgraad in Elektriese Ingenieurswese met Onderskeiding verwerf, terwyl sy suster Eske die graad B Com Rek verwerf het.

Ons wil al drie graduandi en hul ouers gelukwens met hierdie mooi prestasies. Al die Hennings in Suid-Afrika is trots op julle.


AFSTERWE VAN HENNINGS

Ons het verneem dat Martha Rosina Elizabeth Henning, gebore Fouche * 23-1-1904, die eggenote van wyle b7.c7.d10.e1. Philippus Dempsey Henning op 3 Februarie 1998 te Pretoria in die ouderdom van 94 jaar oorlede is.

Dan het ons ook verneem dat Elma Henning, gebore 3-4-1921, eggenote van b1.c6.d6.e8.f2. Jan Christiaan Henning op 9 Augustus 1999 te Potchefstroom in die ouderdom van 78 jaar oorlede is. Haar nooiensvan was ook Henning. Sy self was b5.c5.d7.e7.f3. in die Henning geslagsregister.


DONASIES AAN DIE FAMILIEBOND

Ons moet eersdaags al die ledegeld rekeninge vir die jaar 2000 uitstuur. Ongelukkig is daar nog twintig lede wat nie hulle ledegelde vir 1999 vereffen het nie. Ons wil dus 'n ernstige beroep op hierdie lede doen om tog maar hul bydraes van R35.00 vir ons te stuur. Ons het hierdie geldjies dringend nodig.

Gelukkig kan ons meld dat twee van ons lewenslange lede oor die afgelope drie maande vir ons aansienlike bydraes gemaak het. Ons verwys na die volgende lede en wil 'n besondere woord van dank teenoor hulle uitspreek:

·        Len Henning van Walkerville ― R200.00

·        John Henning van Benoni ― R400.00. John het 'n paar jaar terug ook 'n donasie van R1 300.00 aan die Familiebond gemaak.

ANGLO-BOERE-OORLOG EN DIE HENNING FAMILIE

Met die honderdjarige herdenking van die Anglo-Boere-oorlog (Engelse Oorlog of Tweede Vryheidsoorlog soos Afrikaners dit eerder noem) kyk ons graag terug na die invloed wat hierdie oorlog op die lewens en geskiedenis van die Henning familie gehad het. Geen ander oorlog het so 'n negatiewe invloed op die geskiedenis van die Afrikanervolk (en in besonder die Henning familie) gehad as die Anglo-Boere-oorlog nie. Tydens Olivier Henning se navorsing kon hy geen Henning uit hierdie tydvak opspoor, wat nie op een of ander wyse negatief deur hierdie oorlog geraak is nie.

Indien daar 'n “Waarheid - en Versoeningskommissie” na hierdie oorlog aangestel was om oor die wandade van die oorlog verslag te doen, sou so 'n kommissie vandag nog, na 'n honderd jaar, besig gewees het om die wandade van die Britse magte op te teken. Die Britse magte se Verskroeide Aarde strategie waarvolgens alle eiendom van die Burgers van die Boere-Republieke vernietig is en alle Boerevrouens en -kinders op 'n subtiele wyse in Konsentrasiekampe om die lewe gebring is, sou sekerlik vandag as 'n misdaad teen die Mensdom verklaar gewees het.

Teen die einde van die negentiende eeu was daar minder as 1 000 Hennings (mans, vrouens en kinders) in die Kaapkolonie, Zuid Afrikaanse Republiek en die Republiek van die Oranje-Vrystaat. Die getal het vandag, na honderd jaar aangegroei tot ongeveer 4 000 Hennings. Volgens berekeninge sou daar vandag meer as 6 000 Hennings gewees het, as Brittanje nie Boere vrouens en kinders in konsentrasiekampe aangehou het nie.

Indien ons na die statistiek van die oorlog kyk, uit die oogpunt van die Henning familie, kom die volgende te voorskyn:

 

·        Vier Henning mans sneuwel op die slagveld

·        Twee Henning mans sterf  in krygsgevangenekampe

·        10 Henning vrouens sterf in konsentrasiekampe

·        58 Henning kinders sterf in konsentrasiekampe (26 seuntjies en 32 dogtertjies)

·        17 Henning mans word gewond tydens die oorlog, waarvan twee seuns onder die ouderdom van sestien jaar was

·        Ons is bewus van vyf Henning seuns onder die ouderdom van sestien jaar wat geveg het — twee wat slegs twaalf jaar oud was. Twee is gewond.

·        76 Henning mans is krygsgevangene geneem. Slegs twee is nie in buitelandse krygsgevangenekampe aangehou nie

·        36 Henning mans is as Kaapse Rebelle van hoogverraad aangekla, weens die hulp en ondersteuning wat hulle aan hul volksgenote verleen het. Vyf van hulle is in gewone howe van hoogverraad aangekla en vier is ter dood veroordeel. Al vier se vonnisse is egter gedurende die oorlog na tronkstraf verander, dog gedurende Maart 1903 is amnestie aan hulle verleen.

Een van die Henning gesinne wat ernstig deur die oorlog geraak is, was die gesin van b1.c3.d12. Alwyn Petrus Henning, gebore 17 Januarie 1848 en sy vrou Martha Aletta (gebore Vorster) van die plaas Blaawboschpan, Schweizer Reneke. Hulle het nege seuns en een dogter gehad. Agt van die seuns was lid van die Bloemhof Kommando van Kommandant Tollie De Beer. Van die nege seuns sneuwel een, vier word gewond, twee (insluitende een van die gewondes) word krygsgevangene geneem, een word ernstig siek op kommando en slegs twee seuns kom ongeskonde, as bittereinders, deur die oorlog. 'n Maand na die oorlog uitgebreek het en binne die bestek van drie weke sneuwel een van Alwyn en Martha Henning se seuns en word drie gewond. Frederik was slegs negentien jaar oud toe hy op 25 November 1899 gesneuwel het. Sy jongste broer, Pieter Johannes, was slegs sestien jaar oud toe hy 'n paar dae later op 11 Desember 1899 tydens die slag van Magersfontein by Schotznek gewond is. Twee ander broers is onderskeidelik op 23 November 1899 en 28 November 1899 gewond.

Martha Aletta Henning was die suster van Willem Vorster, die vader van wyle Staatspresident en Eerste Minister B J Vorster.

Die volgende Henning gesinne het drie of meer verliese gely:

 

·        b1.c1.d6.e2. Petrus Johannes Henning, gebore 15-8-1862 en sy vrou Anna Maria Sophia (gebore Van Heerden) het drie kindertjies in konsentrasiekampe verloor.  Hyself is krygsgevangene geneem en te Kimberley aangehou.

·        b6.c4.d1.e5. Willem Hendrik Henning, gebore 27-4-1860 en sy vrou Susanna Catharina Petronella (gebore Venter) van die plaas Waterval in die Koster distrik het drie kinders in konsentrasiekampe verloor. Hyself en twee van sy seuns, onderskeidelik 14 jaar en 12 jaar, het as bittereinders tot aan die einde van die oorlog geveg.

Die Henning Familiebond wil graag hulde bring aan al ons voorsate wie se lewens so wreed deur hierdie sinnelose oorlog wat Brittanje ontketen het, ontwrig is


NUWE GEGEWENS OOR HENNINGS

Dit is duidelik dat al hoe meer mense met wie die Familiebond voorheen geen kontak gehad het nie, na die Henning Webwerf op Internet kyk. Oor die afgelope drie maande het verskeie persone ― Hennings en mense met ander vanne ― vir ons E-pos boodskappe gestuur, waarin hulle ons gelukwens met ons Webwerf. In sommige gevalle verskaf hierdie persone nuwe gegewens waaroor ons nie beskik het nie.

Marthinus Henning van Welkom het sommer heelwat nuwe gegewens vir ons aangestuur. In die Henning Familiekroniek word bepaalde biografiese gegewens ten opsigte van  b7.c2.d3.e4. Marthinus Christoffel Henning, gebore 14-1-1873 aangedui. Daar word onder andere aangedui dat hy gedurende 1912 saam met sy ouers na Suid-Rhodesië verhuis het, maar dat hy kort daarna weer na Suid-Afrika teruggekeer het. Hierna kon geen spoor van hom opgespoor word nie. Uit die gegewens wat Marthinus verstrek het kon ons sy oupa b7.c2.d3.e4. Marthinus  Christoffel Henning * 14-1-1873 se nasate baie beter rekonstrueer.

 

Ø      b7.c2.d3.e4. MARTHINUS CHRISTOFFEL *14-1-1873, † Petrusburg 10-4-1952, χ  MARTHA  SOPHIA COETZEE * 18-6-1885, † Petrusburg 8-7-1958

Gedurende die Tweede Vryheidsoorlog 1899-1902 dien hy in die Ladybrand Kommando, dog word op 23-12-1901 te Aliwal-Noord deur die Britse magte krygsgevangene geneem en na Indië weggevoer, waar hy tot aan die einde van die oorlog in die Ahmednagar kamp aangehou word. Gedurende 1912 vergesel hy sy vader en twee broers op hulle trek na Suid-Rhodesië (Zimbabwe), dog keer kort hierna weer na die Vrystaat terug en gaan boer in die Bethulie distrik. Gedurende 1924 trek hy en gaan boer op die plaas Winterhoek, in die Petrusburg distrik, waar  hy en sy eggenote oorlede is.

Ø      b7.c2.d3.e4.f1. MARTHA SOPHIA * Bethulie 24-8-1907, † Triangle, Rhodesië (Zimbabwe) 1-4-1967,  X 7-2-1937 CHARLES HERBERT  PAGE * Thaba Ncu 19-1-1903, † Triangle, Rhodesië 25-8-1977

 

Ø      b7.c2.d3.e4.f2. JANET ELIZABETH * Bethulie 21-5-1909, X Winterhoek, Petrusburg 17-12-1935 JOHN HENRY WRIGHT * Queenstown 11-5-1910

 

Ø      b7.c2.d3.e4.f3. GERT FRANS JOHANNES * Bethulie 11-6-1911,† Petrusburg 10-11-1973, X Zastron 16-4-1960 HESTER MARGARETHA LE CLUS * Zastron 8-6-1923 (D/v Edward Le Clus en Regina Maria Cornelia Van Tonder)

Hy boer saam met sy vader op die plaas Winterhoek, in die Petrusburg distrik. Na sy dood, verhuis sy eggenote en hul seun gedurende Julie 1974 na Zastron.

 

Ø      b7.c2.d3.e4.f3.g1. REGINA MARIA CORNELIA * Bloemfontein 1-5-1961, †  Bloemfontein 3-5-1961

 

Ø      b7.c2.d3.e4.f3.g2. MARTHINUS CHRISTOFFEL * Bloemfontein 15-11-1963, Χ Venterburg 9-12-1989 HENESIA ERIKA KLEYNHANS * 23-8-1965, D/v Ernst Lodewyk Johannes Kleynhans en sy vrou Francina Magdalena

 

In die volgende Nuusbrief sal ons Marthinus en sy gesin bekendstel.

 

Ø      b7.c2.d3.e4.f3.g2.h1. ANINA * Welkom 22-10-1993

Ø      b7.c2.d3.e4.f3.g2.h2. ESMARI * Welkom 1-6-1997

 

Ø      b7.c2.d3.e4.f4. ANNA SUSANNA ELIZABETH * Bethulie 13-2-1916, † Ladysmith, Natal 1993,   X Winterhoek, Petrusburg 17-12-1935 CHRISTOFFEL JOHANNES STEPHANUS  LOMBAARD * Bergville, Natal 22-8-1899, † Ladysmith, Natal 6-9-1966

 

Sy en haar ouer suster is op dieselfde dag, op hulle plaas, Winterhoek getroud

 

Ø      b7.c2.d3.e4.f5. SARAH MARIA * Bethulie 2-9-1920, X 1-10-1966 BAREND  JAKOBUS DU TOIT * 13-10-1913, † Bultfontein 2-2-1997

 

Nog foto's van lede van hierdie familie sal in toekomstige Nuusbriewe verskyn.

 


FOTO'S VAN HENNINGS

b7.c1.d10.e3.f5.g1. Leonard Henry Henning 'n vorige voorsitter van die Familiebond) het onlangs vir ons 'n paar foto's van sy vader se broers verskaf.

b7.c1.d10.e3.f1. Paulus Petrus Henning * 28-1-1899 was die eerste opsigter/ superintendent van die Voortrekkermonument in Pretoria, vanaf die inwyding van die monument gedurende 1949 tot 1956. Hy het ook as toergids deur die monument opgetree.

b7.c1.d10.e3.f4. Pieter Hendrik Henning * 27-9-1906 was maar 26 jaar oud toe hy op 24-2-1933 oorlede is.

Hierdie is die laaste Nuusbrief van die Eeu. Ons wil alle Hennings 'n geseënde Kersfees en voorspoedige nuwe jaar, eeu en millennium toewens. Mag die Familiebond van krag tot krag gaan