Nr 58

Mei 1999

Indeks:

RENIER HENNING EN DIE AFRIKA SPELE

Renier Henning, voormalige Suid-Afrikaanse junior atletiekkampioen in die middel afstande en seun van b1.c6.d11.e10.f2. Lou Henning, bekende spotprenttekenaar van RAPPORT, het die gelukbringer vir vanjaar se Afrika-Spele in Johannesburg ontwerp.

'n Landwye kompetisie is gehou om 'n amptelike gelukbringer vir die Spele, wat van 11 tot 19 September 1999 in Johannesburg gehou gaan word, te ontwerp. Meer as 2000 inskrywings is ontvang, want die prysgeld van R10 000,00 was nie te versmaai nie.

Die Sebra wat Renier Henning as gelukbringer vir die Afrika Spele ontwerp het b1.c6.d11.e10.f2.g2. Renier Henning en sy Amerikaanse vroutjie, Meridee met wie hy op 27 Junie 1998 getroud is.

Renier, wat 'n grafiese kunstenaar is, het op 17 Februarie 1999 in Johannesburg die wentjek van R10 000.00 ontvang vir sy ontwerp: 'n Sebra wat afgesien van sy gewone swart en wit strepe verskillende kleure maanhare het.

"Die sebra was een van drie voorstelle wat ek ingedien het. Ek het gesoek na 'n dier wat net in Afrika voorkom en 'n goeie simbool van die spele sal wees," het Renier gesê. Renier het vyf jaar lank aan die Universiteit van Nebraska in Amerika grafiese kuns gestudeer. Na verwerwing van sy graad en sy terugkeer na Suid-Afrika het hy saam met sy ouer broer, Stefan 'n firma wat spesialiser in grafiese ontwerp in Ferndale, Randburg tot stand gebring. Die appel het hier beslis nie ver van die boom geval nie, want hul pa is self 'n baie bekende kunstenaar.

Dit neem langer om die konsep uit te dink, as om die tekening te doen, "het Renier gesê. "Wanneer jy eers die regte idee het, is dit maklik om dit grafies voor te stel."

Renier het tussen 1988 en 1990 ses Suid-Afrikaanse junior titels in die 800 meter en die 1500 meter verower. Volgens hom was 1990 sy beste atletiekjaar. Hy het die 800 meter in 'n loopbaan beste tyd van 1.47.30 afgelê, wat die tweede beste tyd ter wêreld vir 'n junior daardie jaar was.

"Toe ek in Amerika gestudeer het, het ek ook aan atletiek deelgeneem, maar 'n liesbesering het my laat belangstelling verloor," het Renier gesê.

Vir ons lyk dit egter toe Renier belangstelling in atletiek begin verloor, het hy begin agterkom hoeveel oulike nooientjies daar in Nebraska rondloop, want hy is op 27 Junie 1998 in Nebraska getroud met Meridee, 'n plaaslike meisie. Hulle verwag hulle eersteling gedurende Junie eerskomende.

Meer as 40 lande sal in 21 sportsoorte aan die Afrika Spele deelneem.


BRIEWE VAN ONS LEDE

Ons het onlangs die volgende brief van b1.c3.d10.e8.f1.g1. Hansie Henning (Johannes Gerhardus) van Zastron ontvang. Ons publiseer sy hele brief, sowel as al die koerantuitknipsels wat hy aangeheg het.

Met ons hier in Zastron gaan dit nog baie goed. Ons het werklik baie mooi reën gehad. So dan kla die boere mos nie.

Graag wil ek julle in kennis stel dat b1.c3.d10.e8.f3. Johannes Gerhardus Henning reeds op 9 Mei 1998 oorlede is. (Red. Lede wat hul geslagsregisters probeer op datum hou moet kennis neem, asb).

Verder wil ons so 'n bietjie van ons kleinkinders vertel. Ons seun Johan (g1) se dogter, Celesté was gedurende 1998 die Laerskool Willem Postma, Bloemfontein se Dux leerling in St 5. Hulle seun Gerhard het matriek geslaag met vier onderskeidings (almal op hoër graad. Dit is reeds in die Februarie 1999 Nuusbrief vermeld.

Ons dogter Cecilia se twee seuns presteer ook baie goed. Hulle is in Potchefstroom. Die oudste, Jaco Potgieter (14 jaar) is tans die Noord-Wes Provinsie se nommer 1 muurbalspeler. Tydens die uitspeel vir die plattelandse skole eindig Jaco weer No 1. Die span gaan neem deel aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe en Jaco eindig as die vierde speler in die junior Springbokspan. Vyf spelers van hierdie Springbokspan het gaan toer in Zimbabwe waar hulle teen spelers van Zimbabwe, Zambië, Botswana en Amerika meegeding het.

Jaco Potgieter, kleinseun van Hansie Henning van Zastron, wat goed op sportgebied presteer

Christo Potgieter (11 jaar) is tans die Noord-Wes Provinsie onder elf Muurbalspan se no 1 speler. Hy haal ook die Onder 13 span en die Plattelandse span onder 14. Hy het gaan deelneem aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe. Dit is ook die tweede jaar wat Christo Wes-Transvaal kleure behaal vir skaak. Hy is die no 4 speler en sal gedurende Desember die provinsie verteenwoordig by die Suid-Afrikaanse kampioenskappe.

Ons seun Redge (Reginald John) se kinders vaar ook baie goed. Hulle oudste dogter was gedurende 1998 toe sy in st 5 was, die hoofmeisie by hulle skool en in die koshuis. Sy behaal toe ook erekleure vir haar skoolwerk. Al drie Redge se kinders is baie goeie tennisspelers.

Ons is werklik 'n baie trotse Oupa en Ouma. Baie dankie vir die Nuusbrief wat ons so gereeld ontvang. Ons geniet al die Henning nuus baie.

(Red. Hoe lyk dit, al ons ander Henning Oupas en Oumas, julle het mos ook kinders en kleinkinders wie se prestasies aan die groot klok gehang moet word.)



'N MOOI DONASIE

Ons het onlangs 'n baie mooi donasie van R500,00 van die 91 jarige oom Len Hennning (b7.c8.d8.e3) van Brakpan ontvang. Oom Len kon hierdie geldjies afknyp uit dit wat hy nog verdien uit die werk wat hy doen. Op sy ouderdom werk hy nog elke dag in sy werkswinkel, waar hy pragtige meubels maak. Hoewel hy nie meer groot take aanpak nie, maak hy nog pragtige skinkborde, koffietafeltjies en ander kleiner items.

Dit is donasies soos hierdie en die donasie wat ons so 'n paar maande terug van oom Jood Henning van Melkbosstrand ontvang het, wat die familiebond aan die gang hou.

Ons doen maar weer 'n beroep op al ons lede wat dit kan bekostig, om van tyd tot tyd vir ons 'n donasie te maak. Die familiebond kan nie voortbestaan slegs uit die ledegelde wat gehef word nie.

Daar is nog 37 gesinne wat nie hulle ledegelde van slegs R35,00 vir 1999 betaal het nie.


SKENKING VIR ONS MUSEUM

Ons het onlangs 'n welkome skenking van tannie Lenie (Helena Martha) Henning van Karenpark vir ons museum ontvang. Sy het twee stropskeermesse wat aan haar pa behoort het vir ons museum geskenk. Beide skeermesse is ongeveer een honderd jaar oud.

Op sy volgende besoek aan Aliwal-Noord sal die Bondsekretaris hierdie items by die museum aflewer.


DIE VOORDEEL VAN 'N PERMANENTE E-POS ADRES

Die Henning tuisblad op die Internet bied 'n besondere diens aan alle Hennings met e-pos. Nie almal weet waaroor dit gaan nie of verstaan die voordele daarvan nie.

Mense met e-pos (e-mail) sal heelwaarskynlik hul e-pos adres verloor wanneer hulle van werk verander, hul diensverskaffer van Internet te duur raak, of hulle verhuis. Elke keer moet mens dus 'n nuwe e-pos adres kry en elke keer sal mens met groot frustrasie al jou kontakte van jou nuwe adres moet laat weet — om nie eens te praat van die verandering van briefhoofde en visitekaartjies nie. As gevolg van die feit dat al hoe meer mense van e-pos gebruik maak, raak geskikte adresse al hoe skaarser. Die adresse wat mens nou reeds kry is amper onmoontlik om uit die kop te onthou.

Die diens wat Jannetta Lewis, webmeester van die Henning Internet tuisblad bied los hierdie probleem op. Mens skryf steeds in by 'n Internet diensverskaffer en kry 'n e-pos adres. Daarna skryf mens in by die Henning tuisblad en kies self jou adres, wat altyd die agtervoegsel henning.org sal hê. Byvoorbeeld, as jou naam Koos Henning is en die naam Koos is nog beskikbaar, kan jy die adres koos@henning.org kies. Die webmeester sal 'n outomatiese koppeling van hierdie adres met jou adres by jou diensverskaffer bewerkstellig. Wanneer jy van diensverskaffer verander of jou e-pos adres vir enige ander rede verander, verwittig jy net die Henning Webmeester en die koppeling word onmiddelik met die nuwe diensverskaffer bewerkstellig.

Wat betref jou vriende, kollegas en almal wat met e-pos met jou korrespondeer bly jou adres steeds dieselfde, naamlik koos@henning.org. Alle pos wat aan hierdie adres gerig word, sal outomaties en onmiddelik (binne sekondes) na jou diensverskaffer adres aangestuur (ge-"forward") word. Dieselfde geld vir Webblad adresse se "aliase". As voorbeeld word gebruik Piet Henning van Gaborone, Botswana. Sy e-pos adres het oor die afgelope drie jaar reeds drie keer verander. Tans is sy diensverskaffer Global. Sy aliasadres by Global is: http://home.global.co.za/npiethh/. Sy adres deur die Henning tuisblad is www.piet.henning.org. Soos Piet sê: "Wie wil nou 'n adres soos http://home.global.co.za/npiethh/ op jou visitekaartjie druk. Hy is sommer baie trots op sy Henning adres."

Mens kan ook nou reeds adresse by die Henning Webmeester reserveer vir toekomstige gebruik, byvoorbeeld vir mens se kinders. Waar so baie Hennings dieselfde voorname het, byvoorbeeld Piet, Koos, Johan, Gert, ensovoorts, kan dit die moeite loon om nou reeds so 'n naam te reserveer. Dog selfs al is mens nie die eerste persoon wat 'n spesifieke naam gekies het nie en mens verplig word om byvoorbeeld piet2@henning.org te kies, is dit nog steeds 'n adres wat mens maklik sal onthou, waarop mens trots kan wees, en wat jy weet jy permanent sal hou. Die koste verbonde aan hierdie diens is minimaal as mens dit meet teen die voordele wat dit inhou. Kostes is as volg:

e-posadres — R120,00 per jaar

Web-alias — R 60,00 per jaar

E-pos reservering — R12,00 per jaar.

Ons hoop werklik Hennings met e-pos gryp hierdie idee. Kontak onmiddelik vir Jannetta Lewis by jannetta@henning.org of vir Piet Henning van Botswana by piet@henning.org


JAN VOORSITTER WORD 70! b5.c1.d3.e1.f7.g1.

Jan Andries Henning, die eerste voorsitter van die Henning Familiebond het op 1 April 1999 sewentig jaar oud geword.. Soos Jan self vertel: "En, dan is mens ook soos cocuspalms en broodbome — neem jare om te besluit of hy wil vrek of groei."

Wat Jan se gesondheid betref, sal ons lede onthou dat hy oor baie jare probleme met sy bene ondervind het. Hy gebruik tans 'n rolstoel, wanneer sy bene nie meer wil saamwerk nie. Soos hy sê: "Ongelukkig loop dié slegs op 'armkrag'. 'n Elektries aangedrewe een kos R19 000.00 en daai klas van pitte het hy nie."

Sy verjaarsdag was op 'n werksdag, maar die Saterdag oggend het hulle reeds begin feesvier. Vyf-en-twintig familielede het saamgetrek. Saterdagaand het dit voortgeduur en so ook die Sondag oggend. Jan sê: "Ek 'brag' nie — is net getransformeer en vier fees oor minstens drie dae. En, nou vorentoe? Ek weet dit is beseringstyd en alles net genade. Kleinseun Roelof van Ellisras reken Oupa moet vasbyt, die rekord staan op 900 plus jaar. Hy is optimisties!"

Van familiebond se kant wil ons vir Jan baie geluk wens met die besondere mylpaal.


HENNING BABAS

Dit is altyd baie aangenaam om geboortes van babas in die Nuusbrief aan te kondig. b5.c1.d3.e1.f7.g6.h2. Johann Philip Henning en sy vroutjie Deidre se eersteling is op 23 September 1998 gebore. Die kleinding sal Migael Philip heet.

Baie geluk Johann en Deidre! Ons hoop daar sal nog 'n hele paar boeties en sussies volg.


BYDRAES VIR DIE NUUSBRIEF

Soos ons lede bewus is probeer ons om in elke Nuusbrief een of meer Henning gesinne bekend te stel. Dit word gedoen omdat ons nie die geskiedenis van alle Hennings in die Familiekroniek kan opneem nie, terwyl die Nuusbriewe dieselfde doel dien. Die Nuusbriewe word ook op verskeie plekke bewaar, waar enige persoon wat navorsing oor die Hennings doen, dit kan raadpleeg. Ons lede kan verseker wees dat een of meer van hulle nasate oor honderd jaar of meer oor hulle gaan wonder (net soos u oor die doen en late van u voorsate gewonder het). Hierdie nasate sal beslis baie dankbaar wees as hulle in die Henning Nuusbriewe oor u kan lees en dan sommer op die koop toe 'n foto van u kan sien. Ons doen dus maar weereens 'n beroep op al ons lede om te reageer op ons versoeke om vir ons iets oor u familie te skryf. Niemand het oor die afgelope drie maande op ons versoeke gereageer nie. Ons is dus nie in staat om enige gesin in hierdie Nuusbrief bekend te stel nie.

Lede word ook weer herrinner om vir ons te laat weet as daar enige interessante dinge in hul familiekring gebeur. Foto's van die gebeurtenis is altyd baie welkom. Geboortes, huwelike en sterftes is van groot belang. Ons wil baie graag daarvan kennis neem.


"LEN WALKERVILLE" SE PERDE DOEN DIT WEER

Ons het in Nuusbrief no 49 van Februarie 1997 berig oor b7.c1.d10.e3.f5.g1. Leonard Henry Henning van Walkerville naby Vereeniging se perdestoetery. Op gereelde grondslag wen Len verskeie pryse op landbouskoue met sy perde. Dit het onlangs onder ons aandag gekom dat hy by die afgelope Randse skou weer baie goed met sy perde presteer het. Len het twee perde ingeskryf en twee eerste pryse, een tweede prys ingepalm. Dan is sy perde ook as die Kampioen en Reserwe Kampioen aangewys.

Baie geluk Len!