Nr 53

April 1998

Indeks:

'N SELDSAME SIEKTETOESTAND


André Henning van Bethal, wat Hemochromatose opgedoen het en sy seun Drian

b7.c1.d3.e1.f1.g1.h2. André Henning van Bethal het onlangs vir ons laat weet van 'n seldsame siektetoestand, Hemochromatose, wat hy opgedoen het.

Hemochromatose is 'n toestand waar die liggaam te veel yster absorbeer. Die oormatige yster word veral neergelê in die vel (brons verkeuring), lewer, pankreas, hart en hipofese. Om die toestand te ontwikkel moet 'n persoon twee aangetaste gene hê, d.w.s. homosigoties wees. Indien die persoon slegs een aangetaste geen het, is hy 'n draer(heterosigoties). Indien twee draers met mekaar trou het hulle kinders dus 'n 25% kans om hemochromatose te hê. Die insidensie van hemochromatose is 1:200 en die insidensie van draers is 1:10. Dit is baie hoë insidensies.

Indien die toestand vroeg gediagnoseer word, voordat die yster neergelê is in die organe, kan orgaanskade voorkom word deur bloedskenking.

Hemochromatose is gedurende Mei 1996 by André gediagnoseer en hy moes op 'n drastiese bloedskenkingsprogram geplaas word by die Suid-Afrikaanse Bloedoortappingsdiens. Hy het in 18 maande 79 eenhede (39,5 liter) bloed geskenk en sy ystervlakke het van 9038 tot 19 gedaal. Normaalweg is dit tussen 20 en 228 by 'n gesonde persoon.

Aangesien dit 'n redelik onbekende toestand is, het André gewonder of daar nie ander Hennings is wat ook aan Hemochromatose ly, of selfs net simptome daarvan het nie. Hulle is baie welkom om aan hom te skryf by Posbus 88, Bethal, 2310 of hom te bel by (0172) 3369 saans.

Hy rig ook 'n uitdaging aan alle Hennings om te kyk hoeveel bloed hulle gedurende 1998 kan skenk. As alle skenkers teen die einde van die jaar vir André sal laat weet, sal hy die gegewens aan ons deurgee vir plasing in die nuusbrief.


KEN ONS LEDE


In hierdie nuusbrief wil ons graag vir Elsie Maria Jordaan (gebore Henning) bekendstel. Haar genealogiese nommer in die Henning Familiekroniek is b6.c4.d1.e5.f9.g1. Elsie het tot onlangs te Marble Hall gewoon, dog het gedurende Desember 1997 na Greyville in Natal verhuis. Ons kon ongelukkig nie 'n foto van Elsie bekom nie. Hier is egter haar verhaal:

Kyk gerus na foto's 78 en 79 in die Henning Familiekroniek - dit is foto's van my ouers en grootouers.

Ek is die oudste van sewe kinders van Johannes Hendrik Henning, gebore 22-4-1896 en Martha Magdalena Henning (gebore van Staden). In my kinderjare het ons op Mamagalieskraal in die distrik Brits gewoon. Met die droogte van 1930 tot 1933, toe die Hartebeestpoortdam heeltemal opgedroog het, het my vader as kampsuperintendent by Clanwilliam se dam 'n werk gekry. Die res van ons gesin het hom na ongeveer 'n jaar soontoe gevolg.

Die twee jaar wat ons daar gewoon het, vanaf my 10de tot my 12de jaar, is van die onvergeetlikste van my kinderjare. Die pragtige veldblomme, rooibosteeplaas van oom Jannie Du Toit en sy sitrusbome met die grootste lemoene en pomelos aan die voet van die Sederberge. Dr Nortier wat die rooibostee-bedryf deur sy navorsing aan die gang gesit het, se dogtertjie was in ons skool.

Ons vader het sy eerste motor, 'n Cleveland met 'n seiltent, trappe aan weerskante, seloloid-klappe wat vasknip vir reëndae, ensovoorts, gekoop en ons die besienswaardighede gaan wys. Ons is na Lambertsbaai, met ons eerste swempakke - seuns s'n wat toeknoop tot by die keel en met kort moue om die bo-arms teen die son te beskerm; dogters dieselfde maar met 'n rompie wat tot by die soom van die ongeveer 16 cm lange broekspype reik. Ons sien 'n huis langs die hoofstraat met visse, wat hang om droog te word, aan drade wat soos wasgoedlyne langs mekaar in die son gespan is. 'n Ander huis met walvisribbebene wat 'n boog oor die voorste hek vorm en rugstringwerwels wat as potplanthouers dien. Die kreeffabriek word op 'n begeleide wyse besoek.

Toe die dam klaar is, was die droogte verby, maar ons was ons plot op Mamagalieskraal kwyt. Toe is ons Vaaldam toe en woon vir twee jaar op die oewer van die Vaalrivier en woon 'n wonderlike plaasskool by. Toe ons uiteindelik `n huis by die dam kry, is ek in St6, na die Handhawerskool op Vereeniging. Dit was die eerste jaar wat daar `n matriekklas in die eerste Afrikaanse skool in Vereeniging was.

Ek was altesaam in agt verskillende skole omdat ons so baie moes trek. Toe ons pa in die Staatsdiens, by die Departement van Volkswelsyn 'n pos gekry het as Superintendent van 'n nedersetting, ontdek hulle eers dat hy 'n goeie organiseerder is en word hy van die een nuwe nedersetting na die volgende verplaas om te verseker dat alles vlot verloop. My moeder het as oud onderwyseres, weens haar liefde en 'n slag met mense, 'n wenkombinasie saam met my pa uitgemaak.

Met al die verplasings het ek my man op Groblersdal ontmoet meer as 'n jaar nadat ek by 'n prokureur op die dorp begin werk het. Hy was 'n boer en ons weë het nie gekruis voordat ek belydenis van geloof afgelê en hy my raakgesien het nie. Maar dit was nie liefde met die eerste oogopslag nie, want eers drie maande later, 'n maand voor my ouers se volgende verplasing na Karatara - tussen Knysna en George, het ons weer ontmoet. Hy het die vorige aand die hoofrol vertolk in 'n plaaslike toneelopvoering van die Geloftefees. Die volgende dag het ek hom seker bewonderend aangekyk, want toe het hy kom kuier.

Sias - Esaias Engelbertus Jordaan - het later kom kuier in die Kaapprovinsie by ons en ons is twee jaar nadat ons ontmoet het getroud in die Paul Kruger kerk in Pretoria.

Ons het vyf kinders gehad. Bert het die boerdery oorgeneem nadat my man op 53 jarige ouderdom oorlede is. Johan het 'n suksesvolle besigheid in Pretoria. Gert is 'n Teologiese Professor aan die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerke in Potchefstroom. (Red. Hy is ook die redakteur van die Kerkblad van die Gereformeerde Kerke) Sias is 'n lektor by die landboukollege in Potchefstroom en Martie 'n bibliotekaresse by die Natalse Universiteit.

Ek het vyf liewe skoonkinders en sewentien kleinkinders op wie ek almal baie trots is.

Ons doen weereens 'n beroep op al ons lede wat nog nie in die Nuusbrief bekend gestel is nie, om vir ons hul bydraes te stuur. Ons wil u graag aan al die ander Hennings bekendstel en ook u geskiedenis in ons familiekroniek opneem.


OPDATERING VAN FAMILIEKRONIEK


Leon Henning (b9.c1.d2.e5.f3.g2.) van Drieriviere, Vereeniging het onlangs vir ons laat weet dat twee van sy seuns oor die afgelope paar jaar getroud is en dat die familie reeds met twee baba's uitgebrei het.

Leon en sy vrou Hetta se oudste seun, Tobias (b9.c1.d2.e5.f3.g2.h1.) is op 4 Maart 1994 met Glenda Lynn Roberts (gebore 18-2-1965) getroud. Hulle het op 9 Junie 1995 die trotse ouers van 'n seuntjie met name Brandon Kyle geword. Hy is te Vereeniging gebore.

Leon se tweede seun, Eben Daneel (...h2.) is op 14 Januarie 1995 met Louise Verster (gebore 21-9-1968) getroud. Hulle eersteling, 'n seuntjie, Zander Daneel is op 25 Desember 1997 (op Kersdag!) te Durban gebore.


HENNING BABA'S!


b5.c1.d3.e1.f2.g2.h1. Johannes Lodewikus (Johan) Henning en sy vroutjie, Dianne van Bellville het op 17 Oktober 1997 hul tweede kleinding ryker geword. Die mannetjie kry die name Johannes Lodewikus Freidrich Henning. Die eerste twee name is vernoem na oupa Hannes Henning en die derde naam na oupa Karg.

b7.c8.d8.e3.f4.g2. Leonard (Len)Henning en sy vroutjie Chantelle het op 23 Januarie 1998 vir die eerste keer die trotse ouers van 'n babadogtertjie geword. Sy sal die naam Lennelle dra - 'n kombinasie van haar pa en ma se name. Leonard is die seun van Bondsekretaris, Olivier Henning.


NEGENTIGSTE VERJAARSDAE


Oom Johannes Alwyn Henning

Op 22 Maart 1998 is oom Johannes Alwyn Henning van Kerkstraat 148, Odendaalsrus NEGENTIG JAAR oud. Oom Johannes is een van die erelede van ons familiebond. Namens die bestuur en al die lede van die familiebond wil ons vir oom Johannes van harte gelukwens met hierdie besondere mylpaal, wat nie vir baie mense beskore is nie. Ons wil vir hom Gods rykste seën toewens vir die jare wat nog vir hom beskore mag wees.

Ons het oom Johannes en sy familie in Nuusbrief no 50 van Mei 1997 bekendgestel.


AFSTERWE VAN HENNINGS


Hannes Henning van Brackenfell wat onlangs oorlede is

Ons het met leedwese van die afsterwe van b6.c4.d1.e5.f9.g3. Jacobus Frederik Hendrik Henning (gebore 8 Februarie 1926) van Queenstown in die Noord-oos Kaap verneem. Hy is op 27 Februarie 1998 in 'n hospitaal te Bloemfontein oorlede. Koos, soos hy genoem is, was die broer van Mauritz Henning, wat vir baie jare lank 'n bestuurslid van die familiebond was en deesdae te Stilbaai woon en Elsie Jordaan wat in hierdie nuusbrief in die rubriek Ken Ons Lede bekendgestel word.

Nadat hierdie Nuusbrief reeds opgestel was, het ons verneem van die dood van b5.c1.d3.e1.f2.g2. Johannes Lodewikus (Hannes) Henning van Brackenfell. Hannes is op 26 Maart 1998 weens hartprobleme in die ouderdom van 58 jaar, agt maande en 21 dae oorlede. Hannes was een van die lede wat uit sy pad gegaan het om van waarde vir die familiebond te wees. Sy finansiële bydrae het verseker dat die familiebond elke jaar kop bo water kon hou en dat dit nie nodig was om ledegelde te verhoog nie. Hy het ook voortdurend gepoog om bydraes vir die Nuusbrief te lewer. Ons sal Hannes beslis mis.


RGN EN GENEALOGIESE NAVORSING


Vir baie jare was die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing een van die belangrikste organisasies wat genealogiese navorsing in Suid-Afrika gedoen het. Die nuwe ANC regime het egter baie gou na hulle bewindsoorname gedurende 1994 besluit dat die genealogiese navorsingsafdeling moet sluit en dat daar slegs 'n afdeling vir genealogie-inligting sou bly voortbestaan. Die RGN sou dus voortgaan om genealogiese navorsingsmateriaal te versamel, wat privaat navorsers kon gebruik. So het die RGN 'n hele lêer oor die Henning Familiebond bygehou. Al ons nuusbriewe is onder andere in hierdie lêer versamel. Ons familiebond het hoë aansien by die RGN geniet en hulle het talle navorsers na ons Bondsekretaris vir spesialis hulp verwys.

Onlangs het die RGN Raad besluit dat selfs die Genealogie-Inligting afdeling moet sluit. Gelukkig is goedkeuring verleen dat die uitgebreide versameling navorsingsmateriaal as geheel aan die nuutgestigte Genealogiese Instituut van Suid-Afrika (GISA) oorgedra word. Hierdie nuwe Instituut het op privaat inisiatief tot stand gekom. Die stigterslede van GISA is die Hugenote Vereniging, die Hugenote Museum, die Hugenote Stigting, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika, die Port Elizabeth Genealogiese Navorsingsgroep en die Universiteit van Stellenbosch.

Mnr Ritzema de la Bat, voorsitter van die Hugenote Vereniging (bekende KWV man) is verkies tot eerste voorsitter en Mnr Leon Endemann is aangestel as eerste Direkteur van GISA. GISA sal te Banghoekweg 115, Stellenbosch gevestig wees.

Die Henning Nuusbrief sal dus voortaan aan GISA en nie meer aan die RGN gestuur word nie.


AKADEMIESE PRESTEERDERS


Dr Nerina Wilkinson wat op akademiese gebied presteer het Cornelia Henning

Die belangrikste akademiese presteerder van 1997 waarvan ons melding wil maak is Dr Nerina Wilkinson. Nerina is die dogter van Aubrey en Wiena Wilkinson van Paarl. Hulle is lede van die Henning Familiebond omdat Wiena 'n gebore Henning is - b7.c8.d8.e3.f3. Wilhelmina Henning.

Nerina, 'n geneesheer, is tans 'n kliniese assistent in plastiese snykunde aan Medunsa (Mediese Universiteit van Suid-Afrika). Tydens die Internasionale Plastiese Snykunde Kongres wat gedurende Oktober 1997 te Somerset-Wes gehou is, het sy die medalje ontvang vir die beste navorsing in plastiese snykunde in 1997. Haar navorsing het oor CO2 lasers gehandel. Tussen so 'n uitgelese geselskap is dit 'n prestasie van die hoogste orde. Baie geluk Nerina.

In die vorige nuusbrief het ons melding gemaak van Esme Marelien Henning wat 'n B Sc graad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het. Ons kon haar nie positief in die Henning ge-slagsregister identifiseer nie. Mev Antoinette Krull van Gonubie het intussen vir ons laat weet dat Esme se genealogiese nommer b7.c2.d3.e5.f2.g4.h1. is. Sy is die dogter van Gideon Petrus Henning en sy vrou Kathrina Amelia (gebore Meyer). Hulle woon te Cradockstr 80, George.

b7.c8.d8.e3.f5.g2. Cornelia Nicolina Henning, wie se ouers, Fanie en Hettie Henning te Kuilsrivier woon, het aan die einde van 1997 UNISA se Diploma in Verpleegkunde aan die SAGD Verpleegkollege behaal. Sy is tans 'n verpleegkundige by die Panorama Kliniek in Bellville.

Ons het die 1997 matriekuitslae van vier provinsies - Gauteng, Oos-Kaap, Vrystaat en Wes-Kaap - ontvang. Ondergemelde Henning jongmense het die eksamen suksesvol afgelê. Die toppresteerder was b1.c3.d10.e10.f2.g2.h2. Andries Jacobus Henning wat vyf onderskeidings, almal op die hoër graad, behaal het. b6.c4.d1.e5.f4.g6.h2.i2. Hendriena Maria Henning het vier onderskeidings behaal.

Die ander suksesvolle kandidate wat ons positief kon identifiseer was:

b5.c1.d3.e1.f7.g1.h1.i1. Charlene Henning

b9.c3.d3.e3.f4.g2.h3.i2. Christo Henning

b6.c1.d1.e15.f3.g4.h2. Erna Henning

b1.c6.d3.e13.f5.g1.h1. Ernest Theunis Henning [Matrikulasie vrystelling (MV)]

b5.c4.d4.e5.f7.g5.h1. of b5.c4.d4.e5.f2.g1.h1.i2. Gerhardus Henning (MV)

b5.c1.d5.e6.f3.g1.h5.i2. Gert Hendrik Henning

b5.c1.d5.e3.f1.g1.h1.i2. Jacob Adriaan Henning (MV)

b6.c4.d3.e7.f6.g1.h3. Johannes Christiaan Henning (MV)

b1.c3.d10.e8.f3.g3.h2. Johannes Gerhardus Henning (een onderskeiding) (MV)

b1.c6.d3.e11.f1.g2.h1. Karin Henning (een onderskeiding) (MV)

b1.c3.d12.e10.f4.g2.h3. Marianne Henning (een onderskeiding) (MV)

b7.c7.d10.e1.f3.g4. Marthina Johanna Henning (MV)

b1.c6.d3.e7.f1.g1.h2.i2. Monita Henning (MV)

b9.c2.d1.e2.f4.g4.h1. Werner Henning

b9.c3.d3.e3.f4.g2.h4.i1. Zelda Henning

b1.c6.d3.e11.f1.g1.h1. Pieter Hendrik Henning (MV)

b6.c1.d3.e5.f11.g6.h2. Douw Gerbrand Henning (een onderskeiding) (MV)

b7.c1.d3.e5.f1.g10.h2. Johannes Mattheus Kotze Henning

b1.c6.d2.e1.f6.g2.h1. Marzette Henning

b1.c6.d11.e3.f1.g3.h3. Vicky Henning

Slegs een Henning wat nie 'n nasaat van Peter Henrich Henning is nie, het ook die matrikulasie eksamen geslaag. Sy is a3.b10.c2.d1.e2.f2.g3. Billinda Henning.

Daar was ook verskeie ander Henning jongmense wat die eksamen suksesvol afgelê het. Ongelukkig kon ons hulle nie positief identifiseer nie. Hulle is:

Adri Henning

Brian Henning

Chantel Henning

Johannes Lodewickus Henning

Juan Henning

Juanita Engela Henning

Lidemari Henning (MV)

Lourinda Henning

Mark Robert Henning (MV)

Pieter Hendrik Stephanus Henning (MV)

Stephan Louw Henning (een onderskeiding) (MV)

Willem Adriaan Henning

Michelle Charlene Henning (MV)

Arrie Werner Henning (een onderskeiding) (MV)

Cornelius Johannes Henning (een onderskeiding)

Esta Aletta Henning

Monica Henning (een onderskeiding)

Waldo Steyn Henning

Angela Margaret Henning

Margaretha Cecelia Henning


NUWE TELEFOONNOMMER


Sedert Bondsekretaris, Olivier Henning gedurende Maart 1997 na die Overberg verhuis het, kon hy en sy vrou, Charlotte nie 'n Telkom telefoon kry nie, weens die feit dat daar in die streek nie meer nommers beskikbaar was nie. Hulle was dus genoodsaak om 'n selfoon te kry. Gedurende die paar maande wat hulle in Villiersdorp gewoon het, het dinge goed gegaan, want die selfoon het hier darem opgevang. Nadat hulle egter na die Theewaterskloofdam verhuis het, het hulle probleme met die selfoon begin. Sowel Vodacom as MRM se diens is hier tussen die berge en by die dam maar baie swak. Dit het tot groot frustrasie gelei.

Gelukkig het Olivier hulle uiteindelik gedurende Februarie 1998 'n Telkom telefoon gekry. Die nommer is (skakelkode 0225) 50113. Alle Hennings is dus welkom om hom by hierdie nommer te skakel indien hulle enige nuus het om mee te deel, vrae te vra of sommer net 'n bietjie te gesels.


DANKIE VIR LEDEGELDE EN DONASIES


Baie dankie aan al ons lede wat reeds hulle ledegelde vir 1998 aangestuur het, met 'n besondere woord van dank aan diegene wat vir ons 'n groter bydrae gestuur het. Dit is duidelik dat daar nog heelwat Hennings is wat die belange van die familiebond op die hart dra.

Ten spyte van die feit dat die meerderheid lede ongelukkig nog nie hulle ledegelde aangestuur het nie, glo ons dat niemand beswaar sal maak as ons 'n aanduiding gee dat heelwat donasies van R50,00 tot R100,00 ontvang is. Hierdie donasies hou die familiebond aan die gang.

Hoewel ons die afgelope week van die dood van Hannes Henning verneem het, wil ons tog die voorbeeld wat hy gestel het, vermeld. Hannes was 'n oud Polisieman wat op 'n Staatsdiens pensioen gelewe het. Hy het 'n hele paar jaar terug lewenslank aangesluit. Ten spyte hiervan het hy met aansluiting 'n maandelikse debietorder van R50,00 ten gunste van die familiebond ingestel. Sy jaarlikse bydrae het dus R600,00 beloop - vir 1997 was dit presies die helfte van al die donasies wat ons daardie jaar ontvang het - dankie Hannes! Ons noem hierdie voorbeeld van 'n debietorder ten gunste van die familiebond - al is dit selfs so klein as R10,00 per maand - want dit gee 'n konstante bron van inkomste vir die familiebond, terwyl dit min druk op die bydraer plaas. Ons bankrekening besonderhede is as volg: Volkskas Centurion tak; takverrekeningsno 33-60-45-42; rekeningno 2890 610 423; rekeningnaam, Peter Henrich Henning Familiebond.

Ongelukkig het die meerderheid lede nog nie hulle bydraes vir 1998 aangestuur nie. Diegene wat dit nie kan bekostig om 'n R25,00 bydrae vir die jaar te maak nie, word vriendelik versoek om vir ons te laat weet dat hulle hierdie jaar oorslaan. Dit spaar ons die koste om elke maand 'n aanmaning uit te stuur.