Nr 51

Augustus 1997

Indeks:

DIE HENNINGS IS OP INTERNET

Op 28 Junie 1997 het die Henning Familiebond sy verskyning op die Internet gemaak. Vir die wat nie weet wat die Internet is nie - dit is 'n wêreldwye netwerk van rekenaars wat deur mense regoor die wêreld gebruik word om inligting beskikbaar te stel en met mekaar te kommunikeer.

Deur inligting omtrent die Henning Familiebond op die Internet beskikbaar te stel, is dit moontlik vir mense enige plek in die wêreld om die inligting te kan lees. Ons kan selfs elektroniese pos ontvang van belangstellendes of kontak maak met Hennings in ander lande.

Die koppeling met die Internet en die invoer van die data is vrywilliglik en uit haar eie vir ons gedoen deur mev Jannetta Lewis (gebore Steyn), die dogter van mev Leonie Steyn (gebore Henning) van Brakpan. Jannetta woon in London, Engeland en doen die taak van daar af. Sy is 'n lid van die familiebond en het die aansluitingsfooie by die Internet op haar eie koste gedoen.

Tans is daar slegs 'n paar bladsye omtrent die stigting van die familiebond, die Henning wapen, die museum, die geslagsregister indeks, ensovoorts op die Henningbond "Web site". Die plan is egter om 'n databasis met die hele geslagsregister daar te stel wat gesoek kan word, asook foto`s en wat ookal deur ons aan haar beskikbaar gestel kan word.

Die adres van die Henningbond bladsy is http://www.henning.org. Indien enige van ons lede navrae, voorstelle of kommentaar het laat asseblief van u hoor deur e-pos aan Jannetta te stuur by jannetta@henning.org.

Vir diegene wat meer tegniese inligting wil hê - Jannetta bedien ons web bladsye vanaf 'n masjien by haar werk in London. Totdat haar sak dit toelaat om op te gradeer, gebruik sy 'n 486DX66 met 8MB geheue. Die beheerstelsel is Slackware Linux en die Web server is Apache (hoofsaaklik omdat hierdie stelsel baie meer stabiel en baie meer gratis is as sommige ander). Sy is nog nie seker wat sy vir 'n databasis gaan gebruik nie.

Aangesien ons Bondsekretaris, wat hierdie nuwe tegnologie betref, nog uit die oude doos is, sal alle elektroniese navrae en -kommunikasie na Jannetta in London gaan. Sy weet gelukkig soveel van die Hennings en ons familiebond dat sy meeste van die navrae self sal kan beantwoord. Waar sy nie kan nie, is sy binne 'n paar sekondes op die Internet met haar ma in Brakpan in verbinding. Haar ma, Leonie Steyn, is die suster van ons Bondsekretaris en sy het die hele Henning Familiekroniek vir ons op rekenaar gesit. Slegs as een van hierdie twee die navraag nie kan beantwoord nie, sal dit na die Bondsekretaris verwys word.


NEGENTIG EN NOG NIE KOUD

Tannie Dot Klopper (gebore Henning) (b7.c7.d10.e2), een van ons erelede, wat te Huis Mimosa, De Doorns woon, word op 7 Augustus 1997 negentig jaar oud. Ons wil vir tannie Dot van harte gelukwens met hierdie besondere mylpaal. Ons wil die hoop uitspreek dat sy nog lank vir haar geliefdes en vir die Henning familiebond gespaar sal word. Tannie Dot se familie en vriende gaan op 7 Augustus 1997 te Stellenbosch vir haar 'n spesiale verjaarsdagpartytjie hou. Ons stel ook graag in hierdie nuusbrief vir Tannie Dot aan ons lede bekend.

Alle Hennings word aangemoedig om vir ons te laat weet as enige van u geliefdes 'n spesiale verjaarsdag vier. Ons wil graag spesiale aandag aan hulle in die Nuusbrief gee.


KEN ONS LEDE
"Tannie Dot Klopper en haar jongste agterkleinkind, Jan-Daniël Klopper"

In hierdie nuusbrief stel ons graag vir tannie Dot Klopper van Huis Mimosa, De Doorns bekend. Haar genealogiese nommer in die Henning geslagsregister is b7.c7.d10.e2.

Ek, Martjie Elizabeth Klopper is op 7 Augustus 1907 op die plaas Waterval, distrik Aliwal-Noord gebore. My ouers was Philippus Arnoldus Henning en my moeder Johanna Elizabeth Henning. Soos u kan sien was albei my ouers Henning en is ek dus 'n dubbele Henning. Hulle was nie familie nie - sy was 'n Vrystater en hy was 'n Kapenaar.

My ouers was boere en het op 'n plaas, Waterval, tussen Lady Grey en Aliwal-Noord gewoon. Ons was vier kinders - drie broers en ekself. Buiten my jongste boetie, wat nog te jonk was vir skool, het ons op 'n plaas in die distrik skoolgegaan. Ons het nog elke oggend met 'n eenperd-karretjie skool toe gegaan. Ons perdjie se naam was Venus. Hy was baie slim en moes net praat. Omdat ek net broers gehad het, het ek alles (ook kattekwaad) saam met hulle gedoen.

Na die 1918 griep het my vader Waterval verkoop en in die distrik van Zastron 'n ander plaas gekoop.Ons was sowat twee jaar op die plaas toe my vader oorlede is. Hy was toe 42 jaar oud en het moeder met vier jong kinders agtergelaat. Sy het toe op Zastron gaan woon en is net een jaar en agt dae na my vader oorlede. Sy was 39 jaar oud. Ons was baie jonk as weeskinders agtergelaat. Ons voogde was baie goed vir ons, maar omdat hulle self sewe kinders gehad het, kon ons nie by hulle inwoon nie.

Ons familie aan albei kante was baie goed vir ons, maar ons as kinders het baie selde, indien ooit die geleentheid gekry om almal bymekaar te kom. Ek was toe ongeveer 13 jaar oud. My twee ouer broers was na 'n skoolkoshuis op Zastron gestuur en ek na die Meisieskool Oranje in Bloemfontein. Die jongste, ongeveer 4 jaar oud, het by ons grootouers gewoon totdat hy skool toe moes gaan. Ons was baie gelukkig om nie na 'n weeshuis gestuur te word nie. Ons het almal universiteits opleiding gehad. My drie broers op Stellenbosch en ek aan die Vrystaatse Universiteit.

Hoewel ons nooit weer 'n ouerhuis gehad het nie, was daar 'n baie sterk band tussen my drie broers en myself, wat dwarsdeur ons lewens gehou het totdat al drie my broers oorlede is.

Ek was getroud met Sam Klopper. Hy is in die distrik Smithfield gebore en was 'n Boere-oorlog baba. Hulle was agt kinders en oupa Klopper het alles wat hy besit het in die Boere-oorlog verloor. Hy was ook verban na St Helena. My man moes as seun in 'n winkel begin werk, want oupa was nie finansieël in staat om hulle te laat leer nie. My man het na die winkelwerk, werk gekry by die Volksblad in Bloemfontein as boekhouer. Daarna is hy verplaas na die Oosterlig, 'n koerant van die Nasionale Party in Port Elizabeth, as rekenmeester. Later was hy bevorder as bestuurder van die koerant. Hy is toe weer na die hoofkantoor van die Nasionale Pers verplaas, waar hy ook oorlede is. Solank as wat ek hom geken het, het hy vir die Nasionale Pers gewerk. Hy is in 1965 in Kaapstad oorlede.

Ek het vir 'n paar jaar onderwys gegee en nie daarvan gehou nie. Ek het toe 'n sekretariële kursus gedoen en voor my troue, sowel as daarna, by spaarbanke gewerk. Nadat my man oorlede is, het ek 'n betrekking as prinsipale van 'n universiteitskoshuis op Stellenbosch aanvaar. Daar het ek dertien jaar lank gewerk, totdat ek afgetree het. Dit was 'n periode wat vir my baie werd was.

Ons het vier kinders gehad - drie seuns en 'n dogtertjie. Hulle name was Marius, Johanna, Philip en Johan. Net Philip en Johan leef nog.

Vir die afgelope vyftien jaar woon ek in 'n huis vir bejaardes, Huis Mimosa, op De Doorns - 'n wonderlike huis om in te woon.


'N PUBLIKASIE VAN BELANG VIR DIE HENNINGS

Onlangs het André Pretorius, 'n bekende fotograaf van Milnerton in die Kaap 'n pragtige publikasie oor Suid-Afrika se bedreigde argitektoniese erfenis met titel OUR THREATENED HERITAGE die lig laat sien. Dit is een van daardie boeke wat altyd pragtig op 'n koffietafel of in die wagkamer van een of ander professionele persoon lyk. Instansies soos Sanlam, Die Rembrandt groep, KWV, Liberty Lewens, Metropolitan Lewens en verskeie ander bekende instellings het die publikasie gesteun. Dr Anton Rupert, die baie bekende nyweraar het selfs 'n boodskap voor in die boek geskryf.

Die boek bevat 'n groot hoeveelheid foto`s en 'n beskrywing van 50 geskiedkundige plaashuise van oor die hele Kaapprovinsie en Suid-Vrystaat wat van verval gered is, nog steeds deur verval bedreig word, of reeds tot niet gegaan het. Dit is in Engels uitgegee omdat die oplaag van 'n Afrikaanse boek so klein sou wees dat die boek onbekostigbaar duur sou wees. Tradisionele Nederlandse en Afrikaanse name wat in en om boereplase gebruik is, word egter vry algemeen in die boek gebruik.

Wat die boek vir ons Hennings van belang maak, is die feit dat die plaas Damfontein, in die Aliwal-Noord distrik, wat gedurende 1841 deur b7. Gert Frans Henning uitgelê is breedvoerig daarin behandel word. Die fasade van ons Henning-uitstalling in die Aliwal-Noord museum is 'n replika van hierdie huis.

Lede van die Gert Frans tak (al diegene wie se genealogiese nommer met b7 begin) mag dus belangstel om 'n eksemplaar van die boek te bekom. Die prys is R135,00 plus R15,00 vir posgeld en verpakking - totaal R150,00. Dit is direk by die outeur, André Pretorius, Uplandsweg 4, Milnerton, 7441 beskikbaar. Hy kan ook geskakel word by 021-52 3974 indien u telefonies 'n bestelling wil plaas.

Hierdie is 'n publikasie wat werklik aanbeveel kan word.


SARIE HENNING VIER GOUE BRUILOF
"Jan en Sarie Henning"

b1.c3.d2.e2.f2.g1. Jan Hendrik Henning en sy vrou Sarie (Maré) (net so pragtig as die een van die volksliedjie) van Lyttelton, Verwoerdburg (deesdae met die vreemde naam Centurion) het op 3 April 1997 hulle goue bruilof gevier. Hulle is op 3 April 1947 op Belfast getroud en uit die huwelik is 'n dogter en 'n seun gebore. Vandag is daar vier kleinkinders! Na 10 jaar op Waterval-Boven is hulle 40 jaar gelede in Lyttelton gevestig.

Oom Jan was vir 40 jaar in diens van die ou SA Spoorweë. Albei van hulle is nog baie aktief. Hy is onder ander vise-voorsitter van die dienssentrum van Lofdal aftree-oord. Tot onlangs was oom Jan ook 'n bestuurslid van die Henning familiebond. Saterdae speel oom Jan nog tennis - en 'n bars hou daarby!

Hulle hou gereeld vakansie by Badplaas en geniet dit terdeë.

Van familiebond kant - BAIE GELUK OOM JAN EN TANT SARIE! mag daar nog baie gelukkige jare saam wees.


1997 LEDEGELDE

Aan almal wat hulle ledegelde vir 1997 reeds vereffen het, 'n spesiale woord van dank - veral diegene wat vir ons 'n bykomende donasie gemaak het. Met die verhoogde posgeld trek die familiebond maar noustrop en moet ons poog om alle gelde wat ons in die hande kan kry, te bekom.

Ongelukkig is daar nog 35 gesinne wat nog nie hulle ledegeldjies van slegs R25,00 vir 1997 aangestuur het nie, en van hierdie 35 het 8 ook nog nie hul bydraes vir 1996 aangestuur nie. Dit beteken 'n verlies van meer as R1 000,00 vir die familiebond. Ons wil maar weer 'n ernstige beroep op al hierdie laatslapers doen om hul bydraes so spoedig moontlik aan te stuur.

Ons kan al ons lede verseker dat elke sent wat ontvang word, in belang van die Henning familie aangewend word. 'n Bewys hiervan is onder andere die volgende: Die pragtige publikasie oor ons geslagsregister en familiegeskiedenis; die Henning museum te Aliwal-Noord; die amptelik geregistreerde Henning familiewapen; die Henning aandenkings wat ons sonder winsbejag te koop aanbied; die Henning nuusbrief wat elke kwartaal verskyn; die Henning familiefeeste wat van tyd tot tyd gehou word; die Henning familiebond wat nou selfs ook op die Internet beskikbaar is.


AANDENKINGS WAT NOG TE KOOP IS

Alle Hennings word weereens daaraan herrinner dat ons nog heelwat aandenkings beskikbaar het. Die volgende items is tans nog beskikbaar:

Goue- en silwer teelepels asook Goue- en silwer koekvurkies. Goue items teen R15,00 elk en silwer teen R14,00 elk;

Mansjetknope teen R30,00 per stel;

Lapelwapens teen R14,00 elk;

Skryfblokke teen R22,00 per blok van 50 bladsye.

Bestellings moet aan die Bondsekretaris, Posbus 121, Villiersdorp, 6848 gestuur word. Ongelukkig is alle suikerlepels (goud en silwer), bierbekers en muurborde tans uitverkoop. Soos ons finansies ons toelaat en daar 'n groot genoeg vraag na hierdie items ontstaan, sal ons weer bestellings daarvoor plaas.

Die Bloemfonteintak van die Familiebond wag ook nog bestellings in vir Henning sakwapens. Die Henning wapen op 'n swart agtergrond, wat die sak vervang, kos R30,00, terwyl 'n wapen wat op die sak vasgewerk word R20,00 kos. Hierdie wapens kan by die volgende adres bestel word: Henning Familiebond, Van Iddekingelaan 6, Fichardtpark, Bloemfontein, 9301.


BYDRAES VIR DIE NUUSBRIEF

Ons moet maar weer ons ou klagte onder die aandag van alle Hennings bring - en dit is om vir ons bydraes vir die Nuusbrief te stuur. Ons kan nie glo dat daar nooit niks met ons Hennings gebeur nie. Laat weet vir ons van enige interessante dinge wat met u gebeur - Henning babas wat gebore word; Henning troues; spesiale verjaarsdae; spesiale bevorderings; wanneer enige Henning in die kollig kom; enige voorstelle of kritiek teenoor die familiebond; ag sommer enigiets wat dalk van belang kan wees. Waar ons Bondsekretaris deesdae in die Suidkaapse platteland woon, waar daar baie min Hennings is, is dit redelik moeilik vir hom om self nuus van die Hennings uit te snuffel.

Twee van ons staatmakers wat alles in hulle vermoë doen om vir ons nuus aan te stuur is Genl-maj (oom) Piet Henning van Zastron en Brig Jan (Jan Voorsitter) Henning van Valhalla, Pretoria. Aan hierdie twee here - 'n spesiale woord van dank.

Afgesien van algemene nuus, is ons Hennings ook nog steeds traag om vir ons bydraes vir die rubriek Ken Ons Lede te stuur, ten spyte van die feit dat daar gereeld persoonlike uitnodigings aan mense gestuur word. Die waarde van hierdie rubriek kan nie oorbeklemtoon word nie. Dit vorm deel van die geskiedskrywing van ons familie.


LEDEWERWING

Oor die afgelope paar maande het ons geen nuwe lede bygekry nie - lede word weereens versoek om ander Hennings aan te moedig om by die familiebond aan te sluit. Hoe meer lede ons het, hoe makliker kan ons ons verpligtinge nakom en ons doelwitte bereik. ONTHOU, ALLES WAT ONS DOEN, DOEN ONS IN BELANG VAN DIE HENNING FAMILIE.