Nr 117

Februarie 2014

Indeks:

“Bill” Henning van Kenia

b6.c1.d1.e9.f8.g1. William, of “Bill” Henning *29-8-1929 as ‘n polisieman in Kenia in die vroeë 1950’s

Pauline Castle van Wellington, Nieu-Seeland is 'n gebore nooi Henning – b6.c1.d1.e9.f8.g3.h1. in die Henning Familiekroniek. Omdat sy as 'n pasgebore baba deur 'n egpaar in Nieu-Seeland aangeneem is, het sy baie min kontak met haar biologiese voorsate gehad. Inderwaarheid het sy haar biologiese pa en ma eers as 'n volwassene leer ken. Pauline het egter, soos vele ander aangenome kinders altyd 'n hunkering gehad om meer te wete te kom van waar sy vandaan kom. Oor baie jare heen het Bondsekretaris, Olivier Henning haar bygestaan om haar pa op te spoor en familie-legkaart in te vul.

Haar biologiese pa, wyle Willem Reimer Henning se pa, b6.c1.d1.e9.f8. Pieter Josef Henning *3-3-1902 het as jong man vanaf Aliwal-Noord Kenia toe getrek. Hy is in Salisbury, Rhodesië (Zimbabwe) getroud met Anna Riemersma, maar hulle het in Kenia gewoon. Al drie sy kinders is in Kenia gebore: William *29-8-1929, Johanna Wilhelmina *7-4-1932 en Willem Reimer *15-10-1934. William het sy hele lewe lank in Kenia gewoon, terwyl Johanna Wilhelmina en Willem Reimer met verloop van tyd teruggekeer het na Suid-Afrika.

Ons het Willem Reimer en sy suster, Johanna se nasate lank gelede reeds volledig gerekonstrueer, maar ten opsigte van die oudste seun, William het ons slegs oor sy naam beskik. Met Pauline se speurvernuf kon ons mettertyd sy en sy nasate se genealogiese gegewens rekonstrueer. Pauline het ook kontak gemaak met 'n persoon wat William – of Bill Henning, soos hy in Kenia bekend was – goed geken het.

Bill Henning het as jong man lokomotiewe gedryf vir die Oos-Afrikaanse Spoorweë en Hawens. Teen ongeveer Mei-Junie 1953 sluit hy as 'n sersant by die Keniase Polisie aan en word as Inligtings-offisier gestasioneer by die Mukuruweini Polisiestasie, in die Suid-Tetu Afdeling van die Nyeri Provinsie. Dit was die dae van die Mau-Mau onluste en Bill Henning was voortdurend besig om die slenterstreke van kriminele uit te ruik. Hy kon vir lang rukke net eenvoudig verdwyn, maar wanneer hy weer sy verskyning maak, het hy sy “skelm” of misdadiger saam-gebring. Die jong manne wat saam met hom gewerk het, onthou hom vir sy droë humor en bepeinsinge rondom die vroulike geslag. Hulle was ook van mening dat die aroma van die sigarette wat hy gerook het, hom sekerlik moes weggegee het aan verskuilde Mau-Mau terroriste.


Behalwe vir 'n paar woorde, kon hy, soos die meeste ander wit polisiemanne nie Kikuyu of Swahili praat nie en moes altyd van 'n vertaler gebruik maak. Aan die ander kant was baie van die vertalers ook nie Engels baie goed magtig nie, gevolglik was daar maar altyd tydrowende vertalings en kruiskontroles. Bill Henning se geduld is dikwels tot die uiterste beproef, maar hy het altyd by die waarheid uitgekom.

Bill Henning was maar ongeveer 36 jaar oud toe hy na 'n hartaanval gesterf het, terwyl hy tennis in Nairobi, Kenia gespeel het. Hy het sy vrou, Jean en 'n seun en dogter nagelaat. Beide kinders en hulle nasate het mettertyd na Engeland emigreer. Ons kon nou hulle besonderhede ook volledig in die Familiekroniek opneem.



Oggendparade by die Mukuruweini Polisiestasie in Kenia toe Bill Henning daar gestasioeneer was tydens die groot Mau-Mau onluste
Stampolisie by die Mukuruweini Polisiestasie besig om van die inboorlinge te ondervra
Bill Henning by die Land Rover waarmee hy die wêreld vol gery het agter misdadigers aan. Hierdie voertuie was die werkesels van die polisie in Kenia


'n Tragedie in hierdie familie se geskiedenis

b5.c1.d1.e1.f9.g4. Izak Stephanus Henning *19-10-1925 en sy vrou Cornelia Francina wat tragies saam met hul twee jongste seuntjies in ‘n botsing met twee treine gesterf het

Marinda Heunis en haar man Theuns van Mandini, Natal het onlangs by die Familiebond aangesluit. In die Henning Familiekroniek vind mens Marinda se besonderhede in Hoofstuk 6 by b5.c1.d1.e1.f9.g4.h3. Helena Maria Henning *29-11-1950. Ons het oor basiese gegewens ten opsigte van Marinda se ouers en hul eerste vier kinders beskik. Marinda kon dus heelwat nuwe gegewens – veral ten opsigte van die geskiedenis van hierdie familie – vir ons byvoeg.

Een van die grootste tragedies in die geskiedenis van al die Henning families van Suid-Afrika het op Kersdag 1962 met hierdie familie gebeur. Marinda se pa, Izak Stephanus Henning *19-10-1925 was die stasievoorman by die Heuningspruitstasie, naby Kroonstad. Hy en sy vrou, Cornelia (genoem Mollie) het op daardie stadium ses kinders gehad: André Johan (15 jaar), Stephanus Albertus (genoem Fanie) (14), Helena Maria (genoem Marinda) (12), Margaretha (9), Alfonso (genoem Elfie) (3) en Leon (3 maande).

Op Kersdag, 25 Desember 1962 het Izak, Cornelia en hul jongste twee seuntjies, Elfie en Leon, saam met 'n ander persoon in sy motor gery. Cornelia, met baba Leon op haar skoot het voor by die drywer gesit, met Izak en Elfie agter in die motor. Die drywer van die motor het skynbaar 'n hartaanval gekry en die motor het op die spooroorgang naby die stasie gaan staan. Twee treine – een vanaf Koppies en die tweede, die sneltrein vanaf Kroonstad – het gelyktydig by die kruising aangekom en die motor getref. Een van die treindrywers het agterna gesê dat hy kon sien dat die vrou voor in die motor – Cornelia – vir hom beduie dat hy moes stop, maar hy kon nie.

Die drywer van die motor het skynbaar reeds voor die botsing gesterf. Cornelia en die twee seuntjies is op slag dood in die botsing, terwyl Izak vier dae later gesterf het. Daar was 'n stuk yster wat bo by sy kop ingesteek en onder by sy mond uitgekom het. Verskeie bene in sy lyf en ledemate was ook gebreek.

b5.c1.d1.e1.f9.g4.h3. Helena Maria (Marinda) Heunis (gebore Henning) *29-11-1950

Die vier oudste kinders wat nou wees gelaat is, het aanvanklik al vier by hul ouma Van der Westhuizen (Cornelia se ouers) in Kaapstad gaan bly. Na 'n rukkie is die twee seuns, André en Fanie in 'n weeshuis in Kaapstad opgeneem, terwyl die twee dogters, Marinda en Margaretha by ouma Van der Westhuizen agtergebly het. Marinda is egter ook later in 'n koshuis geplaas. Die feit dat die kinders van mekaar verwyder is, het meegebring dat hulle alle kontak met mekaar verloor het. Margaretha sterf gedurende 1974 toe sy slegs 21-jaar oud was. Marinda weet slegs dat haar oudste broer, André as 'n Bo-baan elektrisiën op die SA Spoorweë gewerk het. Haar broer Fanie, het ook op die Spoorweë gewerk as kaartjie-ondersoeker. Ongelukkig weet sy nie wat verder van hulle geword het nie. Fanie se twee seuns woon by hul moeder in Parow.

Bondsekretaris, Olivier Henning het intussen André se naam op die 2011 kieserslys opgespoor, waar sy adres as Fortunastr 17, Sanddrift, Milnerton aangedui word. Ons het dit aan Marinda deurgegee. Marinda en haar man, Theuns Heunis woon op Mandini in Natal. Hulle het 'n seun en 'n dogter. Hulle seun is reeds getroud en het self 'n klein seuntjie.

Ons kon die foto van Izak en Mollie opspoor by Fanie se eerste vrou en dit herfotografeer vir opname in die Familiekroniek.


Boere op die Aardsdrempel

Lede van ons Familiebond sal deeglik bewus wees van die vier Henning families wat in 1905 na Argentinië emigreer het, om weg te kom van die Britse bewind wat na die Anglo Boere-oorlog (ABO) in Suid-Afrika aan bewind gekom het. Ons het die geskiedenis van hierdie mense redelik volledig in die Henning Familie-kroniek gedek en het verskeie kere ook in die Haantjie oor hulle berig.

Dit het nou onder ons aandag gekom dat 'n firma wat films maak, “The Good Work Picture Company” beplan om 'n dokumentêre film oor hierdie epiese gebeurtenis te maak. Die plan is om eers 'n voorlopende kortfilm te maak, waarvan die wins dan gebruik sal word om die vollengte weergawe mee te befonds. Die film sal in Afrikaans, Engels en Spaans uitgereik word. Die Afrikaanse titel sal wees: “Boere op die Aardsdrempel”. Die Spaanse titel (Titulo español): Los Boers al Fin del Mondo Die firma onder aanvoering van Richard Finn Gregory is tans besig om $6000.00 te probeer insamel vir die vervaardiging van die kortfilm. Die Good Work Picture Company se webwerf kan by http://www.indiegogo.com/projects/the-boers-at-the-end-of-the-world-boere-op-die-aardsdrempel besigtig word. As daar enige van ons lede is wat graag tot hierdie poging sou wou bydra, kan u gerus per Vonkpos met mnr Gregory in verbinding kom. Sy adres is: richard@goodworkpictures.com . Bondsekretaris Olivier Henning het reeds vir mnr Gregory 'n CD met die Henning Familiekroniek geskenk, asook die boek van b6.c1.d3.e5.f3. Pieter Hendrik Henning *20-9-1886 geleen. Pieter was die leier van die groep Boere wat in 1938 na Suid-Afrika teruggekeer het. Hopelik sal die gegewens vervat in hierdie bronne help om die rol van die Henning families in hierdie epiese gebeurtenis te illustreer. Ons het ook b6.c1.d3.e5.f3.g4.h1. Angela Elena (Lita) Henning wat 'n lid van die Familiebond is, maar steeds in Argentinië woon, se vonkposadres vir mnr Gregory verskaf.

Mnr Gregory skryf dat hierdie dokumentêre film die verhaal vertel van 800 Boerefamilies wat Suid-Afrika na die ABO verlaat het om die spook van die konsentrasiekampe en ’n nuwe regering te ontwyk.

Hierdie gemeenskap bestaan vandag nog in ’n dorp in die Chubut provinsie. Steeds trots op hul herkoms, het hierdie Boere-afstammelinge tog tot ’n groot mate met die Argentynse bevolking geïntegreer. Vandag is Afrikaans slegs ’n handjievol se eerste taal. Al is die geur van melkttert en die wysie van “Sarie Marais” nog in die lug in hierdie klein dorpie, gaan hierdie kultuur waarskynlik nie veel langer oorleef nie. Bydraers tot die veldtog kan verskillende bonusse losslaan, onder meer ’n DVD-kopie van die film, uitnodigings na die bekendstelling, en kan selfs genoem word in die film se produksienotas.


Die drie Henning broers wat gedurende 1905 na Argentinië emigreer het: b6.c1.d3.e5. Joseph Jooste Henning *15-1-1862, Pieter Hendrik Henning (e1)*21-1-1853 en Douw Gerbrand Henning (e8)*28-11-1868
b6.c4.d7.e1. Willem Frederik Henning *17-3-1874 en sy gesin. Hulle was een van die vier gesinne wat na Argentinië geëmigreer het


Sarie Marais — Die Liedjie

Daar is seker nie een Afrikaner of selfs Suid-Afrikaner wat nie die liedjie Sarie Marais ken nie. Dit is deel van ons kultuur. Hoewel die werklike “Sarie” niks met die Henning familie te doen gehad het nie, glo ons dat alle Hennings hierdie liedjie met liefde omarm en kennis sal wil neem van die geskiedenis van hierdie kosbare kleinood.

Die verhaal van Sarie Marais (Susara Margaretha (Sarie) Maré). Die eerste dogter van Jacob Philippus Maré en Cornelia Susanna Jacoba Erasmus was Susara Margaretha. Sy is op die plaas Eendraght, Suikerbosrand, distrik Heidelberg, gebore op 15 April 1869. Haar pa was Jacob Maré, wat later 'n lid van die uitvoerende raad van die Transvaal geword en na wie 'n straat in Pretoria vernoem is. Ons kan wel meld dat b9.c1.d2. Pieter Hendrik Henning *24-9-1848 en sy familie ongeveer dieselfde tyd op 'n plaas met die naam, Valsfontein, naby die Maré’s se plaas, Eendraght in die wyk Suikerbosrand, distrik Heidelberg gewoon het. Hulle sou mekaar in alle waarskynlikheid geken het.

Hierdie is dié Sarie Marais (eintlik Maré) wat in die wyk van die Mooirivier gewoon het, ook bekend as Tant Mossie, volgens die SA biblioteek se katalogus-inskrywing AP.1998-227.

Haar ouers was Voortrekkers, en het hulle in die omgewing van die Suikerbosrand gevestig. Die dorpie Heidelberg het toe nog nie bestaan nie. Die grootste konsentrasie Voortrekkers het hulle in die wyk Mooirivier bevind, waar die dorp Potchefstroom aangelê is.

In hierdie tyd was daar vyf wyke in Transvaal: Mooirivier (Potchefstroom), Magaliesburg(Rustenburg), Marico(Zeerust), Ohrigstad, Zoutpansberg (Pietersburg).

Suikerbosrand was in die wyk van Mooirivier geleë, wat gestrek het vanaf Potchefstroom tot die huidige Wolmaransstad en Makwassie.

Toe sy 16 jaar oud was, het sy vir Jacobus Petrus Toerien, 'n verslaggewer van Di Patriot van die Paarl, ontmoet. (Hy was toe in Pretoria om 'n onderhoud met haar pa te voer). Hy het onder die skuilnaam Jepete in "Ons Kleintje" geskrywe in sy hoedanigheid as subredakteur van "Di Patriot". Hulle is getroud en het 16 kinders gehad, van wie net 8 grootgeword het.

Hy het by Amerikaners wat in Transvaalse myne gewerk het die liedjie Sweet Ellie Rhee gehoor, wat sy oorsprong in die Amerikaanse Burgeroorlog gehad het en deur Septimus Winner (Alice Hawthorne) geskryf is. In die tydperk tussen die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë het Jepete die woorde vertaal en só sy vrou, Sarie Maré, verewig. Die lied het ook nie aanvanklik al die versies en presies dieselfde woorde gehad het as wat ons vandag ken nie. Maré het later weens 'n drukfout Marais geword.

Waar Sarie Marais oral draai...

Teen 1899 was Sarie Marais reeds 'n treffer in Pretoria. In die Anglo-Boereoorlog het dit nie net gewild by die Boeremagte geword nie, maar ook by ander soldate. Dit het later wêreldbekend geword omdat duisende Suid-Afrikaanse soldate dit in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gesing het. Die gewildheid het só gegroei dat die Britse Royal Marines dit as regimentsmars aangeneem het. Hul opleidingskip heet ook Sarie Marais. Dit is ook die regimentsmars van Paraguay se seinerskorps.

Die eerste Suid-Afrikaanse seiljag se naam was ook Sarie Marais en duisende besoekers het al in die Durban-hawe op die Sarie Marais-plesierboot gevaar. Die eerste Suid-Afrikaanse rolprent se naam was Sarie Marais.

Sarie, sustertydskrif van Beeld, Die Burger en Die Volksblad, heet ook na haar. Tot hotels en woonstelblokke is na haar vernoem.

Op die eerste internasionale radio-uitsending tussen Suid-Afrika, Brittanje en Amerika op die verjaardag van mev. Isie Smuts, vrou van die destydse premier, generaal Jan Smuts, het die sangeres Gracie Fields Sarie Marais gesing.

In die Tweede Wêreldoorlog het 'n buitestasie van soldate in Noord-Afrika die naam "Sarie Marais Calling" gehad.

Die Suid-Afrikaanse weermag is steeds lief om die mars op parades te speel, terwyl die Franse Vreemdelinge-legioen dit ook gebruik.

Dit is ook die amptelike lied van die Girl Guides in Sri Lanka (Ceylon) wat dit aan die begin van die vorige eeu by die Boerekrygsgevangenes daar gehoor het.

In die jare dertig van die vorige eeu is dit verkeerdelik op die Olimpiese Spele in Amerika as Suid-Afrika se amptelike volkslied gespeel.

Duitsers het 'n pienk roos met die naam Sarie Marais gekweek, waarvan voor die Pantserskool in Tempe, Bloemfontein, geplant is.

Sarie se Laaste Jare. Sarie was 'n diep godsdienstige vrou en selfverheerliking was totaal in stryd met haar nederige geaardheid. Sy het altyd haar verbintenis met die liedjie stilgehou. Na Jacobus se dood in 1920 het sy haar by haar dogters in Bloemfontein gaan vestig. Sarie is op 22 Desember 1939 in die ouderdom van 73 jaar in armoede oorlede en in 'n nederige ongemerkte graf in die Memoriam-begraafplaas naby die Vrouemonument begrawe.


Ledegeld bydraes vir 2014

Ons het nagelaat om ons lede in die November 2013 Haantjie te herrinner om hul 2014 bydraes asseblief vir ons so spoedig moontlik aan te stuur, maar ons doen dit sommer nou. Vermeld asseblief u lidnommer (wat verskyn op hierdie koevert of u lidmaatskapsertifikaat) wanneer u geld direk in die Familiebond se bankrekening deponeer. Die besonderhede is as volg: ABSA Bank Villiersdorp (takno 334 612), Rekeningnaam – Henning Familiebond, Rekening nommer 2890 610 423. Met die groot familiefees wat ons vir 2014 beplan, sal ruim bydraes verwelkom word, maar enige bydrae – hoe klein ookal – word met groot dank ontvang. Ons wil groot dank uitspreek teenoor ons drie lede wat geruime tyd reeds deur middel van 'n maandelikse Debietorder bydra: Jan Andries Henning van Leraatsfontein, Jan Hendrik Henning van Glenstantia, Pretoria en Past Antonie Henning van Rietfontein, Pretoria

Baie dankie ook aan die volgende lede vir ruim bydraes oor die afgelope drie maande:
Mev HM (Marinda) Heunis van Mandini wat onlangs die Familiebond aangesluit het — R300.00
Gideon en Wiena Henning van Strand, die Voorsitter van die Familiebond R300.00
Vir 2013 was daar ongelukkig 29 gesinne wat nie hul jaarlikse bydrae gelewer het nie.


Huwelike

V.l.n.r Pa Gerhardus Stefanis Henning, Vanessa, Gerhard, ma Deïrdré Memory (neé Schoeman), ouma Sylvia Magdalene Schoeman (neé Collett), Deïrdré se ma
Johannes Jacobus (Janus) Henning en sy bruid, Heleen Naude op hul troudag 23-2-2013

Ons het verneem dat b1.c6.d1.e1.f2.g1.h2 Gerhard Thomas Henning *4-7-1981 op 31 Augustus 2013 te Shepstone Gardens, Mountain View, Johannesburg in die huwelik getree het met Vanessa De Lange *16-12-1981. Sy is die dogter van Conrad Barend De Lange en sy vrou Esta Anita (gebore Luüs).

Gerhard is natuurlik die seun van Gerhardus Stefanis Henning en sy vrou Deïrdré Memory (gebore Schoeman) van Kimberley



Dan het ons ook verneem dat b5.c1.d5.e6.f3.g1.h4.i2. Johannes Jacobus (Janus) Henning *18-6-1982 en Heleen Naude op 23-2-2013 te Pretoria-Oos in die huwelik getree het.

Janus is die seun van Johannes Jacobus Henning *16-9-1953 en Arietha (gebore Viljoen), terwyl Heleen die dogter is van David Frederick Naude en sy vrou Anna Sophia (gebore Claassens)

Ons berig ook oor die dood van Janus se pa gedurende November 2013



b6.c3.d2.e6.f1.g2.h1.i1. Hermanus Marthinus Henning *28-3-1988 van Leeufontein Burgersdorp en sy bruid, Magdelie Buyskes *27-12-1991 wat op 14 Desember 2013 getroud is

Daar is al vele kere in die Nuusbrief berig oor die drieling kinders van b6.c3.d2.e6.f1.g2.h1. Willie en Gerda Henning van Burgersdorp. Die laaste keer was in Nuusbrief no 110 van Mei 2012, toe ons vertel het van die Honneurs grade wat al drie by die Noord-Wes Universiteit (Potchefstroom Kampus) verwerf het dat die twee dogters, Anelmi en Elseri kort tevore getrou het. Nou kan ons berig dat die laaste van die drieling, Herman op 14 Desember 2013 by die Shabula Lodge buite Ventersdorp in die huwelik getree het met Magdelie Buyskes. Sy is die dogter van Pieter en Magda Buyskes van Potchefstroom.


Sterftes

b5.c1.d5.e6.f3.g1.h4. Johannes Jacobus Henning *16-9-1953 wat op 24-11-2013 oorlede is

Ons het verneem van die afsterwe van b5.c1.d5.e6.f3.g1.h4. Johannes Jacobus Henning *16-9-1953 op 24-11-2013. Hy is die pa van Janus Henning – vorige berig.

Johannes werk gedurende die 1980's op die Oryx myn in die Vrystaat. as 'n skofbaas. Daarna word hy in 1992 verplaas na die Lonmin myn (Messina Platinummyn) waar hy werk tot 2005, toe hy medies ongeskik verklaar is as gevolg van Diabetes. Daarna boer hy tot en met sy dood naby Roedtan.

Ons het ook verneem dat Ons het ook verneem dat b5.c1.d5.e6.f3.g1.h5. Pieter Willem Henning *17-8-1958, die jonger broer van Johannes Jacobus Henning (hierbo) ook gedurende 2013 oorlede is. Hy sterf op 1 Augustus 2013 in 'n motorongeluk naby Ventersburg in die Vrystaat. Pieter was sy lewe lank 'n ondergrond-elektrisiën op die myne in die omgewing van Welkom en later die Anglo Plats myn by Marikana. Hy sal onthou word as die ou wat so baie gebraai het. Hy het skynbaar minstens vyf keer 'n week gebraai en was baie lief vir sy kleinkinders.

Ons kon ongelukkig nie betyds 'n foto van Pieter bekom om in die Haantjie te publiseer nie.







Elizabeth Johanna Henning *29-7-1937, vrou van wyle b5.c5.d9.e2.f2.g3 Jacobus Daniël Henning op die troudag van haar seun, Jaco en sy vroutjie, Lizette op 3 Augustus 2013

Jaco Henning (Jacobus Daniël) van Bloemfontein het vir ons laat weet dat sy ma, Elizabeth Johanna Henning *29-7-1937 op 11 Desember 2013 oorlede is. Sy was die vrou van b5.c5.d9.e2.f2.g3. Jacobus Daniël Henning *25-1-1941.


2013 Matrikulante

Aan die einde van 2013 het 39 Henning jongmense in sewe van die provinsies matriek suksesvol afgelê. Ons kon ongelukkig nie die uitslae van die Oos-Kaap en Natal in die hande kry nie, maar ons twyfel of daar meer as twee of drie Henninkies hier matriek sou geskryf het. Dit is vier meer as die getal wat in 2012 matriek geslaag het, maar is baie ver van die getalle wat in die 1980’s die eksamen jaarliks afgelê het. Gedurende die middel 1980’s, toe ons statistiek begin byhou het, het gemiddeld 60 Henning’s jaarliks matriek geskryf. Gedurende die 1990’s het hierdie getal afgeneem na ongeveer 45 per jaar en sedertdien sweef hierdie getal altyd in die omgewing van 40. Daar was 19 seuns en 19 dogters, terwyl ons nie weet wat die geslag van die 39ste een is nie omdat die uitslae van privaat skole slegs voorletters aangedui het.

Van dié 39 Henning’s het vier 7 onderskeidings gekry, twee 6 onderskeidings, een 5 onderskeidings en een 4 onderskeidings. Dit is by verre die grootste getal presteerders vandat ons statistieke byhou. Gewoonlik is daar slegs een of twee of by uitsondering drie jongmense wat soveel onderskeidings behaal het. Hierdie jaar se agt presteerders is:

Nicole Clair Fearne Henning (Gauteng) – 7 onderskeidings
Cheryl-Lee Henning (Noord-Kaap) – 7 onderskeidings
RS Henning (privaat skole, Gauteng) – 7 onderskeidings
Kathleen Henning (Gauteng) – 7 onderskeidings
Marcus John Henning (Wes-Kaap) – 6 onderskeidings
Andrew Henning (Noord-Wes) – 6 onderskeidings
Alice Henning (Gauteng) – 5 onderskeidings
Charlise Simon Henning (Vrystaat) – 4 onderskeidings


'n Nederlandse Henning

Lede met Internetverbinding sal weet dat ons op die Henning webwerf nie net die geslagsregister van Suid-Afrikaanse Henning families vertoon nie, maar ook twee Duitse-, twee Nederlandse-, 'n Estoniese - en 'n Australiese Henning stam vertoon. Ons het onlangs die volgende brief van Peter Henning van Eindhoven in Nederland ontvang:
Groeten uit Eindhoven, Nederland.

Peter Henning van Eindhoven, Nederland, besig om sy gunstelingsport, snelskaats, te beoefen

Wij zijn een Henning familie uit Eindhoven, Nederland, en hebben onze stamboom gevonden op jullie site uit Zuid Afrika. Wij waren zeer verrast over de gedetailleerde en correcte informatie die hierin stond. Dit heeft geresulteerd in een Henning familie boekje met stamboom en allerlei bijzonderheden.

Wij behoren tot de Friesland Henning stam, maar onze geschiedenis gaat via Noord Duitsland naar Zuid West Nederland. Wij zijn echter opgegroeid in Oost Nederland in het dorpje Vilsteren, Gem. Ommen. Dit kwam omdat onze overgrootvader Arnoldus Henning (1839) in de 19e eeuw in Kralingen/Rotterdam een boerderij runde. Deze boerderij werd door de uitbreiding van Rotterdam in het begin van de 20e eeuw opgeslokt. Onze grootvader Petrus Josephus (Piet) Henning (1886) is toen door een ruilverkaveling opnieuw een boerderij begonnen in Lemelerveld, Oost Nederland. Hier is onze vader Gerardus Arnoldus (Gerard) Henning (1917) geboren. Na het overlijden van onze grootmoeder in 1921 en een korte terugkeer naar Achthuizen op het eiland Goeree Overflakkee waar hij een café/boerderij had en voor de 2e keer trouwde, heeft hij zich opnieuw en nu definitief in Lemelerveld gevestigd. Zo komt onze familie van Zuid West in Oost Nederland terecht.

Onze vader vestigde zich na de 2e wereldoorlog in het dorpje Vilsteren, Gem. Ommen als wagenmaker en later door de opkomst van de tractor als aannemer. In 1946 trouwde hij met Gezina Euphemia (Sien) Korenromp uit Luttenberg. Ons gezin telt 6 kinderen die zich later over heel Nederland en België verspreid hebben. Ik, Petrus Antonius (Peter) Henning (1952) ben de 5e in de rij.

Na een bouwkundige opleiding in Zwolle, ben ik in 1975 vertrokken naar Eindhoven, Zuid Nederland voor een studie Industrial Design. Mijn vrouw Inez Maria Geertruda (Inez) de Gier (1950) komt uit Kerkdriel, Midden Nederland. In onze ontwerpstudio Henning Design.nl werken wij samen voor de meubelindustrie. Verder ben ik een fervent langebaan schaatser. Onze 2 volwassen dochters Noraly (1989) en Zerline (1991) studeren beide in Amsterdam. Noraly studeert geneeskunde en Zerline culturele antropologie.

Peter Henning en sy vrou, Inez van Eindhoven, Nederland

In 'n ander brief skryf Peter ook die volgende:

Ik had altijd wel een vermoeden, maar dat onze achternaam iets met een haan te maken had las ik pas op jullie site. Mooi dat nu jullie nieuwsbrief “Ons Haantje” wordt genoemd. Typisch is dat onze kinderen op basisschool “Hanevoet” hebben gezeten, de schoolkrant had de naam “Hanesmoesjes”. Een plaatselijke ijshockey club heet “Eindhoven Kemphanen”.

Met Pieter Verbunt heb ik afgesproken dat ik ons familieboekje met compleet bijgewerkte stamboom tot heden naar jou zal opsturen. Naar welk adres kan ik dit sturen? Pieter, bedankt voor de mail die je mij vandaag stuurde.

Met vriendelijke groet,
Peter Henning
.


Johan Henning van Tygerpoort, Pretoria se Perde

b9.c1.d2.e4.f6.g1.h1. Johannes Jacobus (Johan) Henning van Tygerpoort, Pretoria se pragtige Percheron hings met die flambojante naam, Vulkin Chateauguillon wat hy uit Frankryk ingevoer het, saam met sy hanteerder by die Agri Mega Week skou op Bredasdorp, waar hierdie perd ‘n groot opskudding veroorsaak het

Ons het in die Haantjie van Februarie 2013 (no 113) berig oor b9.c1.d2.e4.f6.g1.h1. Johannes Jacobus (Johan) Henning *2-1-1966 van Klipkop, Tygerpoort, Pretoria se pragtige Percheron perde. Dit is natuurlik daardie reuse groot perde wat vroeg in die twintigste eeu as kanonperde en deur die boere in die Boland gebruik is om hul wingerde te ploeg.

Johan se stoet staan landwyd bekend as die Summerwind Stoet. In die September Nuusbrief van die Percheron vereniging lees mens dat een van die Summerwind stoet se nuutste perde by die Agri Mega Week te Bredasdorp vir 'n opskudding gesorg het met die vertoon van die Franse hings, Vulkin Chateauguillon. Gou was die reuse perd op almal se lippe en is daar met trots na hom verwys as 'Hy is Agri Meg 2013' en sy eienaar Johan Henning is herdoop na 'Die man met die 'Groot Perd' Die uitstalling het weereens bewys dat die Percheron perd homself bemark. 'n Foto van Vulkin verskyn op die volgende bladsy.

Teken nou reeds die datum van ons groot familiefees – 11 Oktober 2014 - aan in u dagboeke. Ons sal graag wil sien dat soveel as moontlik van ons Hennings hierdie fees by die Voortrekkermonument in Pretoria bywoon. Propageer asseblief ook die fees by al u familie.